profile pic

Nuwe woord vir 'selfmoord' dalk die oplossing?

Saterdag, 18 November 2017 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Vra ʼn (baie slim) kollega deser week: “Hoe vertaal ʼn mens suicidal testator in ʼn akademiese regskonteks?” Die student se miniskripsie handel oor die vraag of die testament van iemand wat ten tyde van ondertekening selfdoodneigings had, regsgeldig is.

Ons takel die probleem in sy twee afsonderlike dele. Eers die maklike ene: testator, met sy guitige vroulike vorm testatrix (wat klink soos ʼn vriendin van Asterix en Obelix).

My uit-die-vuis-uit-aanname is dat “erflater” in meer populêre tekste gebruik word en “testateur” in tegniese of akademiese kontekste. Watwo!

LEES VERDER
profile pic

Afrikaans oor die nuwe eter

Vrydag, 17 November 2017 Geplaas deur Sophia Kapp

VivA het op 14 November 2017 ʼn simposium aangebied oor Afrikaans oor die nuwe eter waarin daar besin is oor die posisie, rol en moontlikhede van en vir Afrikaans in die uitsaaiwêreld.

Interessant is dat "eter" heelwat navrae van gebruikers en voornemende simposiumgangers ontlok het. Die woord het natuurlik meer as een betekenis (dit kan ook verwys na iemand wat eet of na die chemiese stof waarmee kroeks in ou films hulle slagoffers tydelik buite aksie gestel het), maar ons het hier te make met die betekenis wat soos volg in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem is: hipotetiese, onwaarneembare medium wat orals teenwoordig is, selfs in absolute vakuum, en alles deurdring, oorspronklik in die fisika ingevoer om kragte soos dié tussen ladings op 'n afstand van mekaar te verklaar en om as draer te dien van die elektromagnetiese golwe, net soos lug die draer is van geluidgolwe en dan ook (in die besonder) dié medium, beskou as die draer van radiogolwe. Dit is, volgens einste woordeboek, ook [i]n die antieke kosmologie, vermeende vyfde element wat die lugruim bo die maan sou gevul het; 'n hoër vorm van vuur waaruit die son en die sterre saamgestel was, of van lug wat deur die gode ingeasem is.

Ons bevind ons dus so ʼn bietjie tussen die sterre, in ʼn magiese, mitiese goderyk waar enigiets moontlik is.

LEES VERDER
profile pic

Intelligentsia se onsinverklikkers moet altyd werk

Saterdag, 11 November 2017 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Net toe ek dog ek ontsnap uit my seisoenale depressie, toe beland daar op my rekenaarskerm ʼn uitnodiging na ʼn akademiese byeenkoms. Die organiseerders kondig aan:

“The aim is to facilitate the establishment of a telescoping perspective on the sensitive and controversial subject of languages from government legislation, policy, education, business and narrows down to the question of how modern electronic technology can be used to mediate between the ever growing and conflicting objectives of heritage preservation, decolonization, inclusive growth and social justice, globalization and the inevitable merging of once-segregated cultures that results in code-switched hybrid human languages.” [sic!]

Ek lees weer. En weer. Loop ʼn keertjie om my lowergroen swembad. (Akademici soos ek het nie regtig tyd en geld om ons swembaddens kraakblou te kry nie. Dis eksamentyd.) Ek gaan sit en lees weer. My twee poedelkinders, Hoekom en Sommer, voel hondsintuïtief aan hoe daar ʼn melankolie oor ons huis skuif. Hoekom sit sy kop op my skoot; Sommer maak klein kreungeluidjies.

LEES VERDER
profile pic

Die bulle se boeke

Donderdag, 09 November 2017 Geplaas deur Sophia Kapp

Ek is al vir baie goed in my lewe uitgeskel, maar die een wat my die vieste in gehad het (en my die viesste gemaak het), was die etiket van "taalbul" wat op 'n kol om my nek gehang is. Kyk, ek is bereid om oor baie beledigings my oë te rol en stil te bly, want nie alles is 'n oorlog werd nie, maar 'n taalbul was ek wragtig nog nooit. Taalkoei, dalk, en hoewel ek my daaroor ook dalk sal wip, is dit ten minste biologies korrek. Ek het vroulik in hierdie lewe aangekom en so sal ek hier weg.

Maar goed, die bakleiery was eintlik oor mense (mense, want vroue mag deesdae saampraat) wat taal maak en dit dan gebruik/misbruik om die res van die arme taalgemeenskap te verwar. En dan het hulle nie eers die ordentlikheid om hulle eie verwarring op te los voor hulle ander verwar nie, want kyk net wat gaan in woordeboeke aan: Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) sê "altwee" is korrek. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) sê slegs "al twee" is korrek. Oor die woord "raar" sê HAT dit beteken "eienaardig", die HAT se Taal- en Feitegids sê as jy "raar" gebruik om "seldsaam" aan te dui, is dit 'n anglisisme, en die WAT gee albei gebruiksmoontlikhede ("seldsaam" en "eienaardig") by "raar". Die Taalkommissie sit al weer op die draad oor "raar", want dit is opgeneem, maar die AWS sê niks oor die betekenis nie.

Sulke wisseling is vir gebruikers frustrerend, dit gee ek geredelik toe. Maar dit is ook onvermydelik dat dit sal gebeur, en wel oor 'n paar redes:

LEES VERDER