profile pic

Die peetkind wat in die wyk lê

Donderdag, 29 Junie 2017 Geskryf deur Sophia Kapp

Ek kry gister ʼn navraag van ʼn VivA-gebruiker: Wat wil die mense op dié vorm hê? Aangeheg by die navraag is ʼn foto van ʼn vrywaringsvorm wat haar dogter van die skool af gebring het, wat die ma moet invul en teken. (Die vorm is deur die skool versprei, maar deur die Wes-Kaapse Provinsiale Regering uitgereik.) Daarop moet sy die naam invul van haar “seun/dogter/wyk”. Die ma is verstom. Watse wyk wil hulle hê? Haar kiesafdeling of die gemeente se wyk? En wat wil die Provinsiale Regering daarmee doen?

Ná ʼn paar sekondes se kopkrap (dit was laatmiddag en ek was moeg) besef ek die “wyk” is ʼn verkeerde vertaling van “ward” (wat in Engels ʼn pleegkind of ʼn wyk kan wees). Ek verduidelik die saak, die ma is gerus dat daar nie ʼn gowwermintsbeampte agter haar vullisblikke skuil om aan te teken hoeveel tamaties sy in ʼn week weggooi nie, en die Kaap is Hollands.

Of nie Hollands nie.

LEES VERDER
profile pic

Alles wat ons skryf, is Grieks vir my

Woensdag, 28 Junie 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Gegroet uit Siprus!

Jare gelede, toe ek op ʼn spesialiteitsrigting in die taalkunde moes besluit, het ek gehoor van die Mediterranean Morphology Meeting – ʼn kongres waar ʼn klomp internasionale bleeksielakademici jaarliks by een of ander eksotiese plek aan die Middellandse See vergader om die nuutste insigte in woordbouteorieë met mekaar te deel. Heerlike bestemming, het ek gedog en my voorts toegespits op dié terrein.

Die voorreg het my te beurt geval om hierdie jaar ʼn referaat hier te mag lewer (nadat ek drie vorige kere geweeg en te lig in die broek bevind is). Toe ek maande gelede ʼn opsomming vir keuring moes instuur, het ek beloof om te praat oor konstruksionistiese perspektiewe op twee kompeterende assosiatiewepluraliskonstruksies. Ek vermoed ek had op daardie stadium een of ander ligte neuropatiese spasma, want die letters van my opsomming dans nou – ses dae voor ek moet praat – onsamehangend en betekenisloos op my rekenaarskerm rond.

LEES VERDER
profile pic

As Afrikaans en Hollands praat, is dit toepstil

Saterdag, 17 Junie 2017 Geskryf deur Gerhard van Huyssteen

Gegroet uit Nederland!

Ek dink ek het in drie dae tyd reeds vier kilogram afgeval, gewoon omdat ek my fietsend deur Amsterdam moet verplaas. Heerlik om weer my skoenrieme te kan sien.

Ek was in my eentjie verantwoordelik vir ʼn FNB-aneurisme toe ek my kredietkaart hier aan die boekwinkels bekendstel. Vir ʼn geswore e-boekleser is my waardes en sedes maar gevaarlik likwied, veral as dit kom by die bedwelmende reuk van internasionale boekwinkels. (As ek dieselfde hoeveelheid geld in ʼn Suid-Afrikaanse boekwinkel spandeer het, kon ek ons eiehandig uit die tegniese resessie geruk het.)

LEES VERDER
profile pic

Fopnuus

Donderdag, 15 Junie 2017 Geskryf deur Sophia Kapp

fopnuus, s.nw., 1. nuus wat versprei word met die doel om lesers te mislei; 2. nuus wat die spot dryf met werklike nuusgebeure; nuussatire

Die afgelope week of wat het hard aan die land kom vat. PG is weg – die enigste skrywer in die land wat, volgens sy uitgewer, vir haar persklaar manuskripte ingestuur het – en Johan Botha is uit ons midde gepluk. Die Kaap het uiteindelik water gekry, maar met ʼn paar lewens en baie dakke daarvoor betaal. En Knysna het gebrand. En Buffelsbaai en Sedgefield en Plett en Karatara en Diepwalle en Elandskraal en die ander dorpies waarvan my oupa my vertel het voor Dalene Matthee nog haar boeke geskryf het. Huise is platgevee. Herinneringe. Toekomsdrome. Planne. Hoop. Lewens.

Ek het hier in Pretoria in ʼn vergadering gesit wat my gedwing het om op ʼn ander plek te konsentreer, wat so ʼn bietjie gehelp het om die seer en die swaarkry uit te stel. Ek kon my in ʼn borrel terugtrek en afstand behou, maar ek het geweet dis afgryslik, al kon ek nie sien hoe dit gebeur nie.

Toe ek uiteindelik klaar vergader het, is daar ʼn foto op Facebook van ʼn afgebrande huis tussen skelette van stamme, en ʼn verskrikte bosbokkie in die voorgrond wat kom soek na kos en water. Die afstand het nie gehelp nie, my hart het in elk geval gebreek.

Nee, ek het niks verloor nie, maar dit was nie vir my moontlik om in my borrel te bly nie. Want dis my mense wat so seerkry. My land se mense. My land se bosbokkies en my land se bos. En of die slagoffers nou ʼn paleis of ʼn pondok gebly het voor die vuur toegeslaan het, hulle het nou almal ewe veel – niks. Hulle is almal ewe uitgelewer aan ander mense se goedheid.

LEES VERDER

NUUSARGIEF

FACEBOOK