Taal-en-tegnologietoer
KOM REIS SAAM MET ONS!
Taal-en-tegnologietoer
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans bied met trots ’n unieke reiservaring, in samewerking met Tienie Jonker Toere, aan!


VivA stel bekend: Ons taal-en-tegnologietoer vir September 2023
NOG ’N SPORTTOER? ’N FIETSTOER? ’N KOORTOER? NEE, ’N TAALTOER!
Is jou leerder ’n presteerder? Is woorde vir julle ’n wonder en weet julle dat taal ’n goue skakel met die res van die wêreld is? Weet julle dat tegnologie en taal onafskeidbaar is as dit kom by die voortbestaan van enige taal, veral in die digitale era waarin ons leef?
Dan is die taal-en-tegnologietoer wat die Virtuele Instituut vir Afrikaans tans vir hoërskoolleerders reël, iets wat julle nie moet misloop nie.
WAARHEEN GAAN ONS?
VivA beoog om vanaf 27 September tot 9 Oktober 2023 ’n toer na die volgende plekke te onderneem:
- Parys, Frankryk
- Brugge, België
- Brussel, België
- Gent, België
- Antwerpen, België
- Amsterdam, Nederland
- Leiden, Nederland
- Volendam, Nederland
- Neeltje Jans, Nederland
- Haarlem, Nederland
- Den Haag, Nederland
FOKUS HIERDIE TOER NÉT OP TAAL?
Nee! Hierdie toer fokus nie nét op die voordele en werksgeleenthede in taalkunde nie, maar ook in:
- Sagtewareontwikkeling
- Sosialemedia-inhoudskepping
- Digitale inhoudskepping
- Ingenieurswese
- Grafiese ontwerp
- Webbladontwikkeling
- Taaltegnologie
VivA bied leerders ook die geleentheid om meer te leer oor die digitale era waarin ons leef. Dit sluit in: konsepte soos soekenjinoptimalisering (SEO), hoe data-algoritmes werk, en die tegnologie wat groot organisasies soos Facebook, Instagram, Twitter en Google gebruik om ’n groeiende digitale markaandeel in die wêreld te bekom. Daarom besoek ons:
- Die Instituut voor de Nederlandse Taal (INT) aan die Universiteit Leiden, ’n instituut wat tegnologie inspan en sagteware ontwikkel om ’n digitale platform daar te stel waar alle inhoud oor Nederlands, Vlaams en ander Nederlands-verwante dialekte ’n digitale tuiste het;
- Prof Jacques van Keymeulen, taalkundenavorser verbonde aan die Universiteit Gent, België;
- Prof Yves T’Sjoen, verbonde aan die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika, en organiseerder van die jaarlikse Gent Kollokwium waartydens die nuutste navorsing oor Afrikaans bespreek word;
- Die Poësiesentrum in Gent wat dien as ’n dokumentasie-, inligting- en studiesentrum vir Nederlandstalige poësie en buitelandse poësie wat Afrikaans insluit;
- Die Universiteit Leiden en die Universiteit van Amsterdam waar Afrikaans as ’n universiteitsvak aangebied word en professors toergangers sal toespreek;
- Die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, ’n kultuur- en inligtingsentrum vir Afrikaans met ’n biblioteek wat meer as 60 000 Afrikaanse boeke en tydskrifte beskikbaar het. Die Zuid-Afrikahuis bied ook Afrikaanslesse vir Nederlanders aan onder leiding van Elize Zorgman, ’n oud-Suid-Afrikaner wat meer as twintig jaar gelede emigreer het na Nederland; en
- Die Nederlandse Taalunie in Den Haag, onder leiding van Ingrid Glorie, verbonde aan die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek (IVN) en organiseerder van die Festival voor het Afrikaans, wat weer in 2023 aangebied sal word.
Maar ons maak darem tyd vir ander opwindende toeristeaktiwiteite ook, daarom is die volgende by die toerplan ingesluit:
- ’n Dag in Parys saam met Marita van der Vyver
- Die Eiffeltoring
- Arc de Triomphe
- Montmarte en Sacré Coeur
- Disneyland Paris
- Muiderslot-kasteel
- Zaanse Schans
- Keukenhof
- Deltapark Neeltje Jans
- Die Atomium, Brussel
- Die Platin-Moretus-museum in Antwerpen
- ’n Staptoer in Antwerpen saam met ’n plaaslike gids
- ’n Kanaalbootrit in Amsterdam/Brugge
- Sjokolademuseum in Brugge
- Mauritshuis
- Delvillebos
WAT GAAN ONS BELEEF?
Die fokus is op die taal se herkoms, natuurlik, maar ook op die rol wat Afrikaans vandag nog in hierdie deel van die wêreld speel. Ons lê klem op die belangrike plek wat Afrikaans in die Germaanse taalfamilie beklee, en ons stel ons jong reisigers voor aan die Europese akademici en instellings wat vandag nog Afrikaans in hulle navorsing en tegnologie-ontwikkeling insluit.
WIE KAN DIE TOER MEEMAAK?
Hoërskoolleerders wat meer wil leer oor Afrikaans en interessante beroepskeuses, is welkom om hierdie interessanthede saam met ons te besoek. ’n Minimum van tien leerders uit elke skool kan saam met hul onderwyser op hierdie toer gaan. Die onderwyser sal as toerouer vir hierdie leerders optree saam met die VivA-span. Kostes beloop R46 950 vir September 2023.
WIE REËL EN BESTUUR DIE TOER?
VivA se uitvoerende direkteur, Marlie Coetzee, en Elza Gerber van Tienie Jonker Toere tree as toeroperateurs op. Hulle sal voortdurend saam met die groep wees om toe te sien dat dinge klopdisselboom verloop. Die toer word deur ’n professionele toeragentskap, Tienie Jonker Toere, beplan, gereël en bestuur. Tienie Jonker Toere het reeds meer as sewe-en-twintig jaar ervaring as dit kom by internasionale toere en gesels gereeld Saterdagmiddae met Johan Rademan op RSG.
WIE GAAN OOK NOG DIE TOER MEEMAAK?
Prof Gerhard van Huyssteen, bekende taalkundenavorser en taalfoendie van die Op die spel-reeks wat vir drie seisoene op kykNET aangebied is, sal ook by die toergroep aansluit. Hy is verantwoordelik daarvoor om vir die toergangers meer te leer oor die geskiedenis van Afrikaans, die verskille en ooreenkomste tussen Afrikaans, Nederlands en Vlaams uit te wys en ook te verduidelik watter kardinale rol tegnologie in die voortbestaan van Afrikaans (en eintlik enige taal) in die wêreld speel.
WAAR KAN EK MEER INLIGTING KRY?
Inligting oor die presiese reisplan, die prys, die datums en die voorwaardes vir deelname is op ons webblad beskikbaar.
Skakel met ons uitvoerende direkteur, Marlie Coetzee, by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. vir meer besonderhede.
Besprekings word hanteer deur Tienie Jonker Toere: https://tjtoere.co.za/inskrywingsvorm
Volg ons op ons sosialemediaplatforms om meer te sien van wat jy te wagte kan wees met hierdie taaltoer:
Sluit ook gerus by VivA se taaltoergroep op Facebook aan en gesels lekker saam met ons oor die toere.
WORD DAAR NOG TOERE BEPLAN VIR 2024?
Die voorlopige beplanning vir 2024 lyk as volg:
- April-toer: 19 tot 31 Maart 2024
- Junie-toer: 13 tot 25 Junie 2024
- September-toer: 18 tot 30 September 2024
Prys: Ongeveer R47 950 per persoon vir 2024
Toerplan
Dag 1
Ons vertrek vanmiddag vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe en geniet aandete aan boord.
Dag 2
Net ná ontbyt land ons in Parys. Ons luukse lugversorgde bus wag by die lughawe en vertrek dadelik na die ikoniese kunstenaarsbuurt, Montmartre. Vanaf die wondermooie Sacré Coeur het mens ’n onbelemmerde uitsig oor die stad.
Dag 3
Ons verken vandag Parys se middestad saam met die bekroonde skryfster Marita van der Vyver. Die Notre Dame, een van die beste voorbeelde van Frans-Gotiese argitektuur; die Operahuis en die Louvre is net ’n paar besienswaardighede wat op ons wag. Die Eiffeltoring in die aand is ’n asemrowende gesig en vanaand gaan ons dit ervaar.



Dag 4
Vandag gaan ons net pret hê. Net ná ontbyt gaan ons Disneyland toe waar ons heeldag gaan baljaar.
Dag 5
Ons vertrek vroegoggend noordwaarts en reis deur die Franse platteland voor ons die grens oorsteek na België waar ons vir die volgende twee aande in Gent, die universiteitstad, tuisgaan. Vandag besoek ons die Poësiesentrum, tuiste van ’n groot versameling Afrikaanse poësie. Daarna kry ons kans om Gent se winkels op horings te neem.
Dag 6
’n Besoek aan die Universiteit Gent, asook die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika is op vanoggend se program. Die middag verken ons die prentjiemooie Brugge. Ons besoek onder andere die sjokolademuseum en proe die heerlikste Belgiese sjokolade. ’n Kanaalvaart is ’n gewilde opsie en wanneer die honger knaag, kan ons aan krokette smul.



Dag 7
Ons groet Gent vandag en reis verder noord na Antwerpen, stad van diamante, en die modemekka van Noord-Europa. Hier sluit professor Gerhard van Huyssteen by ons aan. ’n Mede-Suid-Afrikaner wat hier woon, begelei ons op ’n staptoer deur die stad.
Dag 8
Vanoggend vertrek ons na Brussel, die hoofstad en politieke, ekonomiese en kulturele sentrum van België, en administratiewe hoofkwartier van die Europese Unie. Ons besoek onder meer die Grote Markt waar die heerlikste wafels te kry is. Hierna besoek ons die Atomium wat al as die mees bisarre gebou in Europa aangewys is. Nege sfere van vlekvrye staal is met mekaar verbind en verteenwoordig ’n ysterkristal wat 165 miljard keer vergroot is. Die struktuur is 102 meter hoog. Terug in Antwerpen kry jy die geleentheid om bietjie inkopies te doen en die omgewing op jou eie te verken.
Dag 9
Vandag reis ons na Nederland. Ons besoek die Oosterschelde en Deltapark Neeltje Jans. Dan vaar ons na Nederland se grootste eiland om te sien hoe ingenieursvernuf aan die dag gelê word om Nederland se waterstelsels en vloedversperrings effektief te bestuur. Ons oornag in Delft, oor eeue heen bekend vir die pragtige blou-en-wit porselein.



Dag 10
Ná ontbyt vertrek ons na Den Haag waar ons die Nederlandse Taalunie besoek en met Ingrid Glorie gesels oor die Festival voor het Afrikaans wat in 2023 weer in Nederland aangebied word. Ons reis dan verder na die bekende studentestad Leiden waar ons onder meer die Instituut voor de Nederlandse Taal by die universiteit besoek.
Dag 11
Vandag is ons heeldag in Amsterdam. Zaanse Schaans met sy fraai houthuisies, windmeulens en handwerkwinkeltjies is een van ons besoekpunte. Hier leer ons van Cornelis Corneliszoon se patent wat die skeepvaartindustrie heeltemal verander het. Hierna vertrek ons na die middestad waar ons die koninklike paleis, Zuid-Afrikahuis en die Meertens Instituut besoek. Later onderneem ons ’n gragtevaart om Amsterdam vanuit ’n ander hoek te beskou.
Dag 12
Die laaste dag van die toer het aangebreek. Eerste op die program is Volendam, die oulike vissersdorpie met sy pragtige bote. By die kaasfabriek kan ons verskillende kase proe en uitvind hoe elkeen gemaak word. Daar is ook ’n klompefabriek waar ons sal sien hoe klompe oorspronklik gemaak is. Ons toer eindig met ’n besoek aan Muiderslot, een van die oudste en bes bewaarde kastele, wat in vele flieks te siene is. Vroegaand vertrek ons vanaf Schiphol.
Dag 13
Wanneer ons op OR Tambo Internasionale Lughawe land, is ons stokflou ná ’n opwindende en onvergeetlike toer.
BESPREEK VANDAG!
- retoervliegkaartjie
- lughawebelasting (die meeste rederye vra tans meer as R6 000)
- alle ontbyte en die meeste aandetes
- bootvaart op die Rynrivier in Duitsland
’n Deposito van R10 000 per persoon verseker jou plek op die toer.
Die uitstaande balans kan oor ’n periode van twee maande voor ons vertrek betaal word.
Ons bankbesonderhede:
Bank: FNB
Rekeningnaam: Tienie Jonker Toere
Rekeningnommer: 62571210021
Takkode: 240438 Potchefstroom
Verwysing: Jou naam en van
E-pos die bewys van betaling na: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of faks na 086 718 1866
- Koste van ’n paspoort
- Visum en reisversekering
- Enige binnelandse vlugte
- Sakgeld,
- Opsionele uitstappies
GESELS SAAM