setsel

  • Toe ek klein was, het ek altyd my blou ogies gebruik om my oupa se arm te draai om vir my grondboontjiebotter en stroop in ’n bakkie te meng in plaas daarvan om die mengsel op ’n broodjie te smeer. Dan gaan sit ek skelmpies en eet, sodat Ouma nie daarvan uitvind nie.

    Grondboontjiebotter

    (Beeld ontleen aanPixabay.)

     

    Ek dink die bywoord is net so ondeund soos wat ek was. Net soos wat ek my oupa oorreed het om grondboontjiebotter en stroop te meng, draai die bywoord die arm van die taalgebruiker – nou nie om grondboontjiebotter en stroop te meng nie – om ander woorde en sinsdele ook as bywoorde te klassifiseer, hoewel hulle duidelik nie is nie.

  • Inleiding

    Ek het ’n geruime tyd gelede die navraag ontvang watter woordsoort die woord om in die voorbeeld Die olifant stoot die boom om is. Die gebruiker het gewonder of dit ’n bywoord, ’n voorsetsel of ’n tweede werkwoord is, en watter element van die STOMPI-riglyn daarmee geassosieer word.

    Ek het onmiddellik besef dat hierdie woord eintlik meer as een funksie binne die sin kan verrig. Dink só daaraan: Almal kyk nie op dieselfde manier na ’n selfoon nie. Een persoon beskou ’n selfoon as ’n kommunikasiemiddel, iemand anders gebruik dit vir navigasiedoeleindes, en dan is daar selfs mense wat dit vir vermaak (soos om na musiek te luister) of as ’n wekker gebruik. Dit bly ’n selfoon, maar sy funksie word bepaal deur die een wat hom in sy hand hou. Net so word die funksie van om bepaal deur die wyse waarop die sin waarin dit voorkom, ontleed word.