VIVA SE PERSONEEL

Gustaf Tempelhoff
Waarnemende Uitvoerende Direkteur
Gustaf is 'n digitale ontwerper en programmeerder wat die tegnologiese visie by VivA dryf. Hy speel 'n sleutelrol in die voortdurende vernuwing van VivA se produkte, en behartig die ontwerp, ontwikkeling en bestuur van die organisasie se toepassings en sagteware. As stelselontwikkelaar is hy onder meer verantwoordelik vir die onderhoud en opdatering van React- en React Native-bronkode, met 'n sterk fokus op die implementering van toeganklike UX/UI-beginsels.
In 2019 het hy 'n meestersgraad in grafiese ontwerp (cum laude) aan die NWU behaal. Sy studie is uitgevoer binne die konteks van die Byderhandprojek en het spesifiek gefokus op toeganklike koppelvlakontwerp vir plekspesifieke digitale literatuur, in samewerking met siggestremde gebruikers.

Wikus Pienaar
Taaltegnoloog
Wikus is 'n rekenaarlinguis wat in 2009 sy BA-graad in taaltegnologie en in 2017 sy meestersgraad in algemene taal- en literatuurwetenskap behaal het. Hy is betrokke by 'n aantal navorsingsprojekte, beide plaaslik en internasionaal. Sy belangstelling en navorsing fokus op fonetiek en fonologie, met 'n spesifieke klem op akoestiese fonetiek, taalverandering, en die ontwikkeling van sagteware vir die digitale verwerking en ontleding van spraakdata.

Nadine Karsten
Onderwystaalkundige
Nadine het in 2012 'n BEd-graad met Afrikaans as hoofvak met lof aan die NWU behaal, in 2013 'n BEd-honneurs in Afrikaanse taalonderwys en in 2016 'n MEd in kurrikulumstudies, albei ook met lof. Sy was vanaf 2016 tot 2019 ’n lektor in die NWU se Fakulteit Opvoedkunde waar sy aspekte van Afrikaanse taalkunde en taalonderrig aan voorgraadse en nagraadse studente onderrig het. Sedert 2020 is sy 'n taalkundeskrywer en -navorser vir VivA. Sy is ook die leier van die projek oor Afrikaansgrammatika vir die onderwys waar haar regter- en linkerbrein saamwerk om VivA se Afrikaansgrammatika op 'n kreatiewe, innoverende wyse vir Afrikaansonderwysers en -leerders te ontsluit.

Maureen van Helden
Taaladviseur
Maureen het in 2004 'n honneursgraad in teologie (vertaalkunde en antieke tale) aan die NWU verwerf. Sy was voorheen as taalversorger en redakteur betrokke by die GKSA se jeugtydskrif, Kruispad, en het die afgelope 20 jaar vir verskeie organisasies en individue teksversorging, vertaalwerk en tolking gedoen. Sy stel belang in antieke tale, die etimologie van woorde en verskillende skrifsisteme.

Annamarie Steenekamp
Taalpraktisyn
Nadat sy 'n BA-graad en HOD aan UP verwerf het, het Annamarie as Afrikaans- en Engelsonderwyseres gewerk. By J.P. van der Walt Uitgewers (nou LAPA) het sy haar regte nis gevind en kennis van alle aspekte van die uitgewersproses in die praktyk opgedoen. Naas redigering en proeflees het sy ervaring as keurder, manuskripontwikkelaar en vertaler. Sy was ook al onder andere medeskrywer, samesteller, kopieskrywer, en beoordelaar vir die ATKV-Woordveertjies. In 2020 het sy by VivA aangesluit, eers op 'n vryskutbasis, en tans as voltydse taalpraktisyn.