Nuwe kompetisie, met ʼn spesiale prys op die spel vir graad 11- en graad 12-leerders! Skryf in vir ons Kykgoedkompetisie by Varsgebek, en jy slaan dalk ʼn R150 000-studiebeurs vir tersiêre opleiding los. Al die besonderhede is by varsgebek.org beskikbaar. Hier onder is die inskrywings van verlede jaar se wenners.
VIVA-SKOLEKOMPETISIE: HULLE IS ALGEHELE WENNERS
ʼn Kompetisie vir hoërskoolleerders en hoërskole waarin leerders Afrikaanse idiome op ʼn vars, kreatiewe manier moes uitbeeld, het byna 900 inskrywings van regoor die land gelok.
Leerders kon self die medium vir hulle inskrywings kies, en kon die idiome toelig met behulp van video’s, sketse, foto’s of grafiese ontwerpe. Die beoordelaars en organiseerders was baie beïndruk met die hoë gehalte, humoristiese inhoud en kreatiwiteit van die inskrywings.
Die universiteitsbeurs van R150 000, geborg deur die Atterbury Trust, is losgeslaan deur Lene van Heerden, ʼn graad 12-leerling van Hoërskool Swellendam. Die bekende kunstenaar, Diek Grobler, het gesê Lene het die beoordelaars om verskeie redes beïndruk. “Die feit dat Lene vyftien inskrywings gestuur het, dui op die toewyding waarmee sy hierdie kompetisie aangepak het. Elke inskrywing het boonop ʼn sterk grafiese aanleg getoon, en Lene beskik oor die vermoë om ʼn konsep effektief en met humor te kommunikeer.” Volgens Grobler was humor baie belangrik in hierdie projek. “Dit maak kommunikasie makliker en meer effektief – ons almal ken die gesegde ‘lag en die wêreld lag saam’. Lene se humor is vars en effektief kripties, ʼn vereiste vir die tipe grafika wat sy geskep het.”
Met die hoed in die hand kom jy deur die hele land - Nederige mense kom verder as ander en bereik baie dinge.
Selwyn Steyn, ʼn graad 12-leerling van St. Alban’s College, Pretoria, is as naaswenner aangewys. Selwyn het ʼn animasie-kortfilm gemaak oor die idioom Rome is nie in een dag gebou nie:
Annemarie Wüst, ʼn graad 12-leerling van Hoërskool Stellenberg in die Kaap het algeheel derde gekom. Annemarie het drie kortfilms ingeskryf met die idiome ‘probeer is die beste geweer’, ‘met die verkeerde voet uit die bed opstaan’, en ‘skrik vir koue pampoen’ as onderwerpe.
Die Hoërskool Stellenberg is aangewys as die skool met die oulikste en oorspronklikste inskrywings. Die skool ontvang R15 000 kontant, geborg deur die Atterbury Trust. Die Trust het ook die meeste van die weeklikse pryse toegeken, wat geskenkbewyse, tablette, kameras en kunswerke ingesluit het. Ander instansies wat ook pryse geborg het, is die ATKV, HAT en WAT. Altesaam tien pryse is uitgeloof in die kompetisie. Gaan kyk na die weninskrywings op VivA se Facebookblad, of by #viva_afrikaans op Instagram.