TEKEN AAN OF REGISTREER OM 'N SOEKTOG UIT TE VOER

DIE VIRTUELE INSTITUUT VIR AFRIKAANS

    Afdelings
    VivA Algemeen
    VivA Akademies
    VivA Taalpraktyk
    VivA Onderwys
    VivA Uitgewers
    VivA Tegnologie
     
    VivA Weldoener
     
    Viva Uitgewers

    Ons bring die digitale biblioteek na jou toe

    VivA Uitgewers Aanlyn VivA Uitgewers Dis in die soen

    Lees die nuutste boeke op VivA-Uitgewers

     

    In hierdie blog gee ek ’n oorsig van:

    • die woord “junior” se verskillende woordsoortelike funksies;
    • ’n aktiwiteit om die woordsoort van “junior” te bepaal; en
    • werklikewêreldvoorbeelde waarin “junior” gebruik word, wat ek in die Taalkommissiekorpus (oftewel TK-korpus) gevind het.

     

    1. Uiteensetting in verskillende woordeboeke

    In die 2015-HAT word aangedui dat “junior” as ’n adjektief en ’n naamwoord gebruik kan word.

    • Adjektief:
      • ‘jonger as ’n ander’, bv. “Johan van Brakel junior”
      • ‘laer in rang as ’n ander’, bv. “’n junior klerk”, “Sy is ’n junior vennoot in die firma.”
    • Naamwoord:
      • ‘iemand wat laer in rang is as ’n ander’, bv. “Die juniors moet na die seniors luister.”
      • ‘benaming vir ’n tweedejaarstudent aan sommige universiteite’

    Die 2017-AWS koppel ook twee woordsoorte aan die woord “junior”, naamlik dié van ’n naamwoord (deurdat daar ’n meervoudsvorm daarmee geassosieer word), en ’n adjektief (deurdat graadtrappe daaraan toegeken kan word).

    Term: “junior” = naamwoord

    Spelling: junior, -s

     

    Term: “junior” = adjektief

    Spelling: junior, - ; meer -, mees –

     

    Die adjektief- en naamwoordklassifikasie van “junior” kom ook in die WAT voor.

    • Adjektief:
      • ‘jonger as ’n ander — veral, toegevoeg aan ’n persoonsnaam, gebruik (1) om ’n seun met dieselfde voornaam of voorname as sy vader van laasgenoemde te onderskei; (2) om twee leerlinge, klerke, vennote, kollegas, ens. met dieselfde van te onderskei’, bv. “Piet van der Merwe jr. is by die versekeringsafdeling”

    In die aanlyn Merriam-Webster-woordeboek word ook verwys na “less advanced in age: younger  – used chiefly to distinguish a son with the same given name as his father”.

    • ‘laer wat status of plek betref in ’n klas, rang, professie, ens.; met minder diensjare’, soos in “junior vennoot, jongste vennoot; ’n junior klerk”

    Vergelyk ook die aanlyn Merriam-Webster-woordeboek wat “junior” in “junior partners” met “lower in standing or rank” assosieer.

    • ‘bestaande uit juniors’, bv. “junior klas”
    • ‘van, betreffende, bedoel vir juniors’, bv. “’n junior hoërskool”

    Die aanlyn Merriam-Webster­-woordeboek gee “junior prom” as voorbeeld, waar “junior” verwys na “of [juniors] or relating to juniors or the class of juniors at an educational institution”.

    • Naamwoord:
      • ‘iemand wat jonger is as [’n] ander of wat later toegelaat is tot, of van laer rang is in ’n klas, beroep, professie’, soos in “Hy is ’n junior”, “Die juniors in die personeel doen die sleurwerk”
      • ‘benaming, veral aan die Universiteit Stellenbosch, vir ’n tweedejaarstudent’, bv. “Die juniors organiseer ’n uitstappie”

    In die Basiswoordeboek van Afrikaans word “junior”, insgelyks die bostaande bronne, ook as ’n adjektief of naamwoord geklassifiseer.

    • Adjektief: Jy ís junior, bedoelende “dat jy jonger of minder ervare as iemand anders is of tot ’n laer rang behoort”, bv. “Het jy met Mike junior of met sy pa, Mike Steyn senior, gepraat?”; “Die junior klerke moet maar die minder belangrike werk doen”
    • Naamwoord: ‘Iemand wat jonger, meer onervare of laer in rang as die ander is, word ’n junior genoem’, bv. “Hy was vir ’n lang ruk die junior tussen die vennote”

     

    1. Samevatting

    Kom ons vat alles saam: Wanneer is “junior” dan ’n adjektief wat los van die daaropvolgende naamwoord geskryf moet word, en wanneer is “junior” ’n naamwoord?

    Ek stel die volgende identifiseringstoetse voor:

    Identifiseringstoets

    Adjektief

    Naamwoord

    Strukturele identifiseringstoets

    Word dit deur ’n naamwoord gevolg?

    Kan “meer” of “(die) mees” daarvoor gebruik word?

    Word dit selfstandig gebruik?

    Kan dit saam met ’n ander woordsoort (soos ’n lidwoord) gebruik word om ’n eenheid te vorm?

     

    Kan dit die meervouds- en verkleiningsvorm kry?

    Betekenisidentifiseringstoets

    Koppel dit een van die volgende eienskappe aan dít waarna die daaropvolgende naamwoord verwys?

    ·        jonger as ’n ander; veral gebruik om persone met dieselfde naam of van van mekaar te onderskei

    ·        laer in rang of status (“junior vennoot”)

    ·        bedoel vir juniors

    ·        bestaande uit juniors

    Gee dit ’n naam vir een van die onderstaande persone?

    ·        ’n persoon wat jonger as ’n ander is, later toegelaat is of ’n laer rang of posisie beklee

    ·        ’n tweedejaarstudent

     

    Die onderstaande grafika kan in die klaskamer gebruik word om die woordsoort van “junior” te help bepaal.

     

    1. Voorbeelde uit hedendaagse Afrikaanse skryfwerk

    Indien hedendaagse Afrikaanse skryfwerk, spesifiek die TK-korpus in VivA se Korpusportaal, bestudeer word, is dit duidelik dat “junior” verreweg die meeste van die tyd los van die daaropvolgende naamwoord geskryf word, in ooreenstemming met die hantering daarvan in woordeboeke (vgl. voorbeeld a-c). Taalgebruikers interpreteer dit dus korrek as ’n adjektief wat ’n eienskap toeken aan dít waarna die daaropvolgende naamwoord verwys.

    (a) “Dit het haar nog drie jaar geneem om die geoktrooieerderekenmeesterseksamen af te lê, en sy het ’n [junior vennoot] geword.”

    (b) “Sy was by die sendingskool in die [junior leerlingraad].”

    (c) “Die trane rol oor haar wange en drup op [Mvula junior] wat in haar arms lê en slaap.”

     

    Die adjektiefstatus blyk ook dikwels uit die gebruik van ’n graadtrap daarvoor (vgl. voorbeeld d-e):

    (d) “Die [mees junior] mense in dié maatskappye hoef baie min of geen vaardighede te hê nie, terwyl die bestuur van dié ondernemings hoogs geleerd moet wees.”

    (e) “As die [mees junior] meisie hier, hou Magriet haar alreeds te ‘fancy pants’ om sekere dinge te doen.”

    Wanneer “junior” vas aan die volgende naamwoord geskryf word (vgl. voorbeeld f-g), is dit verkeerd, aangesien dit ’n adjektief is wat los van die daaropvolgende naamwoord geskryf moet word. Waarom gebeur dit? My gevoel is dat taalgebruikers die woord “junior” dalk slegs as ’n naamwoord beskou, iets met ’n benoemingsfunksie (soos in “die junior”, “’n junior”), en dan die bestaande reël toepas dat naamwoord-naamwoord-kombinasies samestellings vorm wat vas geskryf word. So ontstaan vorme soos *“juniorspan” en *“juniorliga” in plaas van “junior span” en “junior liga”.

    (f) *“Die Lions se boulwerk is my afdeling, en ek spandeer baie tyd saam met junior-boulers.” [Eerder: “junior boulers”]

    (g) *“Met hierdie soort skryfwerk is dit belangrik dat leerders daagliks geleentheid kry om stories te hoor en te lees (veral by die juniorgroepe).” [Eerder: “junior groepe”]

     

    In teenstelling met die voorbeelde hier bo het die woord “junior” wel ’n naamwoordstatus wanneer dit nié voor ’n naamwoord staan nie, maar deel is van ’n sinsdeel waar dit die belangrikste woord / die kern is (vgl. voorbeeld h-i):

    (h) “Emmie maak ’n fout, as sy dink ek gaan lank [’n junior] in die hotel se agterste kantore bly.”

    (i) “Ook joernaliste begin gewoonlik as [juniors] werk, wie se werk deur ’n subredakteur onder hande geneem word om dit te korrigeer.”

     

    Mag jy nou minder junior voel wanneer jy “junior” (en “senior”) in ’n sin moet gebruik.

     

    VivA-groete

    Nadine Karsten

     

    Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

     

    Bronnelys

    AWS. 2017. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 11de herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.

    Buro van die WAT. 1950-2026. Aanlyn WAT. Beskikbaar by: https://www.woordeboek.co.za. Datum van gebruik: 3 Jun. 2026.

    Gouws, R., Feinauer, I. & Ponelis, F. 1994. Basiswoordeboek van Afrikaans. Pretoria: Van Schaik.

    Luther, J., F. Pheiffer & R.H. Gouws., reds. 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Beskikbaar by: https://mml-hat.co.za/index.php?m=d. Datum van gebruik: 3 Jun. 2026.

    Merriam-Webster. n.d. Junior. https://www.merriam-webster.com/dictionary/junior Datum van gebruik: 3 Jun. 2026.

    Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). 2025. Korpusportaal: Omvattend 2.7. Beskikbaar by: http://viva-afrikaans.org. Datum van gebruik: 15 Jun. 2026.

     

    Taalversorging

    Annamarie Steenekamp

    Maureen van Helden