TEKEN AAN OF REGISTREER OM 'N SOEKTOG UIT TE VOER

DIE VIRTUELE INSTITUUT VIR AFRIKAANS

    Afdelings
    VivA Algemeen
    VivA Akademies
    VivA Taalpraktyk
    VivA Onderwys
    VivA Uitgewers
    VivA Tegnologie
     
    VivA Weldoener
     
    Viva Uitgewers

    Ons bring die digitale biblioteek na jou toe

    VivA Uitgewers Aanlyn VivA Uitgewers Dis in die soen

    Lees die nuutste boeke op VivA-Uitgewers

    Die Franse hoor geen padda nie, maar ’n kat. “Il a un chat dans la gorge”: Hy het ’n kat in sy keel. En die Swede ’n hoenderhaan. “En tupp i halsen”: ’n haan in jou keel hê. Griekse stemme skuur maar net soos skeermeslemmetjies. Volgens Van Dale se Idioomwoordenboek, en ook Spreekwoorden.nl, kan van ’n persoon met ’n skor stem gesê word dat hy of sy ’n graat in die keel het, of selfs ’n rogstert (die lang sweepstert van daardie soort haai met die plat, vierkantige lyf en ovale, elektriese organe weerskante van sy kop wat in party dele van die wêreld by mense op hulle etenstafel beland).

    Wanneer ’n seun se stem van register verander en hy tydelik daaroor beheer verloor, grap die Hollanders, kry hy baard in sy keel. In Afrikaans word gesê dat die baard al deur sy keel groei.

    Uit Frans kry ons dat ’n mens se stem, of jou asem, stok, wanneer jy iets nie gesê kan kry nie (dalk omdat dit jou dwars in die keel, of krop, steek). ’n Mens kan in jou woorde stok, of die woorde, of jou stem, kan in jou keel stok – daar vassteek, soos in Engels: “stick in one’s throat”. Soos in Duits (“im Halse würgt”) kan ’n mens in Afrikaans ook aan jou woorde stik, of verstik, sodat jy dit – hees, skor, krakend – moet uitwurg.

    Die Duitsers, en die Tsjegge en Hongare, onder andere, kry ’n kluitjie of knoedel in die keel (Hongaars: “gombóc van a torkában”; Duits: “einen Knödel im Hals haben”, ook “einen Kloss”), veral sangers. Van ’n sanger wat met ’n knypstem die woorde van ’n lied uitwurg, word in Nederlands gesê dat dit klink of hy ’n garnaal in die keel het. In Arabies klink dit of hy ’n rot ingesluk het.

    Is dit vir jou moeilik om te praat, omdat jy hartseer is, of diep ontroer? Dan is daar ’n knop in jou keel.

    Is jy bang? Dan klop jou hart in jou keel.

    Vrees – of blydskap – kan ’n mens se hart ook in jou keel laat bokspring. Pasop net dat dit nie by jou mond uitspring en op jou mou kom sit nie.