TEKEN AAN OF REGISTREER OM 'N SOEKTOG UIT TE VOER

DIE VIRTUELE INSTITUUT VIR AFRIKAANS

    Afdelings
    VivA Algemeen
    VivA Akademies
    VivA Taalpraktyk
    VivA Onderwys
    VivA Uitgewers
    VivA Tegnologie
     
    VivA Weldoener
     
    Viva Uitgewers

    Ons bring die digitale biblioteek na jou toe

    VivA Uitgewers Aanlyn VivA Uitgewers Dis in die soen

    Lees die nuutste boeke op VivA-Uitgewers

    Ons sê: “Die pad loop teen die berg op.” “Ek het die enjin laat loop.” “Treine loop elke halfuur.” “Hy het van die huis af weggeloop.” “Ons het hulle op die lughawe raakgeloop.”

    Engels sê: “The road runs up the mountain.” “I left the enjin running.” “Trains run every half an hour.” “He ran away from home.” “We ran into them at the airport.” 

    ’n Skip loop op die rotse. ’n “Run” in krieket noem ons ’n “lopie”; ’n “run-through” is ’n “oefenlopie”. Die lang, smal tapyt in ’n gang, die lang, smal lap op ’n tafel, in Engels ’n “runner”, word in Afrikaans ’n “loper” genoem.

    Ook die tyd, wat aanstap, “loop” uit – ’n beeld wat na die sand, of sout, verwys wat uit die een in die ander bolvormige glas van ’n sandloper vloei. Pas ons nie op nie, loop dié uurglas leeg, want baie (veral jonger?) Afrikaansgebruikers wikkel-wankel op die hakke van Engels.

    Die afgelope ruk val voorbeelde soos die volgende my op. Dalk omdat ek dit nie net meer in informele gesprekke hoor nie, maar al hoe meer ook oor die radio en televisie? ’n Mens kom dit nie net meer in die sosiale media teë nie, maar lees dit ook op nuuswebwerwe. Ek gewaar dit in die gedrukte media, selfs in die standaardvariëteit van Afrikaans: 

    “Die Nampo-oesdag-enjin dreun in gereedheid om vanaf Dinsdag buite Bothaville te hardloop,” berig Netwerk24. “Die treine hardloop vanmôre ’n uur laat,” verneem ek van ’n oudkollega. “Ons hardloop uit tyd uit.” “Ek is bevrees ons het uit tyd gehardloop,” sê uitsaaiers en TV-aanbieders. Op Facebook en Twitter hoor ek van spesiale aanbiedings wat “hardloop”. “Die voorraad hardloop uit.” “Die tyd hardloop uit soos my asem,” sing ’n Afrikaanse sanger in 2011 al.

    Taal verander, en verandering begin dikwels as ’n “fout”. As die “fout” egter by al hoe meer sprekers voorkom, en later ook by skrywers, moet Taalkommissielede en woordeboekmakers op die ou end vra: Tot wanneer toe is die verandering nog ’n fout?

    Op grond van waarneming en gebruiksfrekwensie in korpusse van geskrewe taalgebruik, dink ek, kan “hardloop” in plaas van “loop” gerus nog maar uit Afrikaanse woordeboeke weggelaat word. Maar hou in gedagte dat woordeboekmakers en taaladviseurs met voorskrifte en waarskuwings nie enduit taalverarming kan bly teëwerk nie.

    Oor wat gangbaar is, en wat nié, besluit die spraakmakende gemeenskap uiteindelik self.

    Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 18 Mei 2018 verskyn.