Hoe ook al, sy publikasie (in Engels) handel juis oor die rondgaande hof in die Kaapkolonie in die negentiende eeu. Dit kom my voor of die rondgaande howe wel reeds in 1811 in Kaapland begin opereer het, maar dit was in die Wes-Kaap rond, en hulle is eers in die 1820's op 'n streekgrondslag in die kolonie ingestel en na die Oos-Kaap uitgebrei. Was die Swarte Ommegang dus 'n latere gebeurtenis as wat in die geskiedenisboeke opgeteken is?
Die enigste Cloete in die publikasie in die begintyd van die rondgaande howe is ene D. Cloete, voormalige Sekretaris van die Geregshof, wat juis die planne daarvoor uitgewerk het. Maar hy kan nie maklik in die prentjie wees sover dit die idioom betref nie.
Later was daar wel 'n regter H. Cloete. Hierdie regter het egter in die westelike rondgang gewerk – nie by Graaff-Reinet rond nie. En op 'n portret van hom saam met sy kollegas kan ek niks aan hom sien wat hom as 'n "vader" onder hulle sou laat uitstaan het nie (toegegee, 'n mens weet natuurlik nie :-) ).
En toe is daar vir my 'n nuwe verwikkeling. 'n Taalkundige wys my daarop dat mense met wie sy gemoeid is, vas glo dat "vader" Cloete ene Pieter Lourens Cloete was wat op 18 Julie 1756 in Kaapstad gedoop is. A, ja, wag, sy voorname strook mos ook wat die idiomenavorser gesê het ... Kom ons kyk ...
Ja, hierdie Pieter Cloete het boonop vir hom 'n plek in die Kaapse geskiedenis oopgeskryf toe hy in 1776 saam met Hendrik Swellengrebel, seun van die voormalige Kaapse goewerneur, 'n uitgebreide reis na die binneland onderneem, by koloniste aangedoen en ook van die sedes en gewoontes van die Khoi en Xhosa geleer het. Hy het 'n waardevolle "Journaal" van die destydse lewenswyse en omstandighede nagelaat. Sy reisjoernaal is later in die Ryksargief in Nederland bewaar.
Alles lyk toe eers vir my of ons nou die "regte" vader Cloete gevind het. Maar toe sit en dink ek 'n bietjie.
Wat se "rondte" sou hierdie Pieter dan gedoen het om hom met die idioom te verbind? 'n Reisverslag oor die Kaapse koloniste (en Khoi en Xhosa) is mos nie 'n rondte nie? 'n Konstabel doen sy rondtes, 'n verpleegster, 'n rondgaande regter, ja, diesulkes. Nie 'n reisiger op 'n enkele reis nie.
En, belangriker nog, vanwaar die ekstra naam "vader"? Pieter Cloete is dood toe hy maar net sowat 33 jaar oud was. Nie eintlik iemand wat 'n "vader des volks" kon gewees het nie. Hy was self ook kinderloos. En sy "Journaal" is ook nie uitgegee sodat die res van die Kaaplandse bevolking dit kon lees en wyd bespreek, en dit tot 'n volksidioom omgeklink kon word nie. Nie maklik nie. Trouens, baie van hulle kon glad nie lees nie. (Dis 'n ontnugterende waarheid wat ek in die Kaapse Argief besef het toe ek in die jare negentig ons Ollies nagevors en die inligting te boek gestel het.).
Uiteindelik, tot watter gevolgtrekking moet 'n mens dan kom oor die herkoms van die vader Cloete van die idioom?
Ek begin al vermoed (doodernstig, glo my vry) dat die vader Cloete 'n "korruptasie" kan wees van die Engelse Father Christmas. Want wie gaan meer by almal om as die baardman van die Noordpool? Eendag, eendag was daar dalk-dalk 'n Cloete wat Kersvader gespeel het vir die kinders en toe steek die ding vas oor die Vader Cloete-Vader Krismis ...
Google net en jy kry 'n swerm inskrywings oor die "rounds" van Father Christmas (of Santa Clause):
Father Christmas makes rounds at Pretoria Zoo.
Father Christmas doing the rounds in Bristol.
Father Christmas starts his rounds at 5pm on ...
Father Christmas is on his rounds in...
Santa saves young man's life on his rounds
How you can track Santa on his Christmas Eve rounds ...
Genoeg gesê. Sal graag wil hoor wat jy wat tot hier gelees het van die hele Cloete-petalje dink ... en selfs oor Vader Krismis, as jy dit nie kan uithou om my as "net 'n bietjie gek" te verklaar nie!












