Kom ons begin by die definisie van ’n lidwoord, soos wat dit in ASG vervat is: Die lidwoord is ’n funksiewoord wat voor ’n naamwoord optree, en aandui of die naamwoord ’n onbekende, ’n bekende of ’n afwesige ding benoem.
Daar is ’n paar belangrike dinge om van kennis te neem in hierdie definisie:
In die eerste plek sê die definisie die lidwoord is ’n funksiewoord. ʼn Funksiewoord se werk in ʼn sin is nie om soseer inhoud oor te dra nie (ʼn naamwoord, byvoorbeeld, dra inhoud oor), maar om verhoudings tussen inhoudswoorde te skep. Kyk byvoorbeeld wat gebeur in hierdie voorbeeldsinne:
- Sandra koop die trui
- Sandra koop ʼn trui
Die lidwoorde dra nie in die eerste plek inhoud oor nie, maar die lidwoord verander die verhouding tussen Sandra en trui. In die eerste voorbeeld koop Sandra ʼn gespesifiseerde (bepaalde) trui, en is die implikasie dat Sandra en die trui reeds geskakel is – Sandra ken die trui. In die tweede voorbeeld koop Sandra ʼn ongespesifiseerde (onbepaalde) trui, en is die implikasie dat daar nog nie ʼn verhouding tussen Sandra en die trui is nie.
In die tweede plek tree lidwoorde ingevolge die definisie voor naamwoorde op. Dit is ʼn belangrike kenmerk van lidwoorde.
Die derde ding wat ons in hierdie definisie moet raaksien, is dat ʼn lidwoord kan aandui of ʼn ding afwesig is. Ek vermoed dit is inligting wat nie geredelik in skoolhandboeke ingesluit word nie, daarin is dit belangrik om hiervan kennis te neem. In die volgende sinne tree daar sogenaamde ontkenningslidwoorde op. Dit is hierdie ontkenningslidwoorde wat veroorsaak dat die ding waarna die naamwoord verwys, afwesig is:
- Sandra wou geen trui koop nie.
- Daar was gʼn trui in sig nie.
Die ontkenningslidwoorde is die teenhanger van die onbepaalde lidwoord. Dit word aangedui deur die ontkenningslidwoord g'n met nie + ’n te vervang, byvoorbeeld Sandra wou g'n trui koop nie. Daar was g'n trui in sig nie < Sandra wou nie ’n trui koop nie. Daar was nie ’n trui in sig nie.
Noudat ons verduidelik het wat die lidwoord as woordsoort behels, is dit belangrik om daarop te dui dat daar drie soorte lidwoorde in Afrikaans is: bepaalde lidwoorde, onbepaalde lidwoorde en ontkenningslidwoorde, en elkeen van hierdie lidwoorde word volgens hulle gebruik binne die sin - nie hul betekenis nie - van mekaar onderskei.
- Bepaalde lidwoorde: Die bepaalde lidwoord word voor ’n naamwoord in die enkelvouds- of meervoudsvorm gebruik.
- Daar volgende groepie wat uit Nederlands oorgehou is, is argaïese (baie ou) vorme van die bepaalde lidwoord wat ons in Afrikaans eintlik net in vaste uitdrukkings aantref, soos wat de joos, ter herinnering aan en nog is dit het einde niet. Dit is belangrik dat ʼn mens hulle as lidwoorde moet kan herken, maar ʼn mens hoef hulle nie te kan opsê nie – die vorme is in woordeboeke opgeteken.
- Onbepaalde lidwoorde: Die onbepaalde lidwoord word slegs voor ’n naamwoord in die enkelvoudsvorm gebruik.
- Ontkenningslidwoorde: Die ontkenningslidwoord word slegs saam met ’n naamwoord in die enkelvoudsvorm gebruik. Dit verskil van die ander lidwoorde deurdat dit saam met nie gebruik word.
ʼn Ander belangrike ding waarvan ʼn mens in die afdeling oor lidwoorde moet kennis neem, is die skryfwyse van die onbepaalde lidwoord ʼn. Die woord slaan ook terug op Afrikaans se Nederlandse herkoms, want dit is ʼn vervorming van die Nederlandse lidwoord een. Die apostroof (ander naam: afkappingsteken) dui aan dat die twee e's weggeval het, en dat ons in Afrikaans net met die n oorgebly het.
Let daarop dat die apostroof in Afrikaans soos ʼn 9 gevorm word. Die bolgedeelte van die teken is bo, en die stert word regs van die bol na onder gemaak. Maak seker as jy tekste op ʼn rekenaar genereer dat jy die regte apostroof gebruik, want die verstek in Word is dat die omgekeerde apostroof gebruik word (wat soos ʼn 6, met die bol onder en die stert links na bo, krul). Die reguit strepie is ook in drukwerk aanvaarbaar.
Die uitspraak van hierdie oënskynlik onbenullige woordjie is ook klaarblyklik problematies. Die feit dat die n in die skrifbeeld oorgebly het, beteken nie ʼn mens moet dit so uitspreek nie. Die Uitspraakwoordeboek van Afrikaans erken sewe uitsprake, onder andere een wat klink soos in en een wat klink soos hin, maar dié horingou bron sê al dat die uitspraak met net die schwa, dit wil sê die neutrale i-klank in ʼn woord soos in, wat foneties as [ə] voorgestel word, die algemeenste is.
Die ontkenningslidwoord g'n word ook dikwels as ’n telwoord of ’n bywoord gebruik. Om hierdie rede het ons vroeër gespesifiseer dat ’n lidwoord ’n ontkenningslidwoord is wanneer (i) dit gebruik word saam met ’n naamwoord in die enkelvoudsvorm; (ii) en die gebruik van ’n eind-nie vereis. Vergelyk die volgende drie sinne wat die verskil tussen ontkenningslidwoorde, telwoorde en bywoorde illustreer:
- [Gʼn dokter] gaan vir jou daardie medisyne voorskryf nie. (ontkenningslidwoord, word gebruik voor ʼn naamwoord in die enkelvoudsvorm; vereis die eind-nie; jy kan dit vervang met nie en die onbepaalde lidwoord ’n)
- Ek is gʼn honger nie. (bywoord; beteken dieselfde as nie; kan nie vervang word met nie ’n nie, hoewel dit ’n eind-nie vereis)
- [G'n kinders] het die ekstra klasse bygewoon nie. (telwoord, word gebruik saam met ’n naamwoord in die meervoudsvorm; kan nie vervang word met nie ’n nie, hoewel dit ’n eind-nie vereis; beteken dieselfde as niks)
VivA-groete
Sophia