“Sal jy asseblief stilbly terwyl ek besig is om jou te onderbreek?” – Todd Rockefeller
Die afgelope Woensdagaand was ek ʼn genodigde spreker by AfriVriendelik se jaarlikse Tinteltong Toekennings. Aanvanklik wou ek die uitnodiging van die hand wys, want my eerste reaksie was dat “Tinteltong Toekennings” vas geskryf moet word. Ek besef toe dat hulle hulle waarskynlik slimweg op reël 15.6 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls beroep het, want daarvolgens is “Tinteltongtoekennings” en “Tinteltong-toekennings” en “Tinteltong-Toekennings” én “Tinteltong Toekennings” korrek. Ek aanvaar toe maar die uitnodiging taalkundig eervol.