So stil-stil, iewers op die oop see, is die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se vlagskip besig om al nader en nader aan sy tuishawe te kom. Ongesiens en onopvallend – maar met die belofte van grootse impak – word gewerk aan ʼn nuwe Geheime Wapen: die Taalportaalprojek.
In 2010 het die Nederlandse Organisatie voor Wetenschappelijk Onderzoek so ʼn stewige €1.7 miljoen (ongeveer R28 miljoen) bewillig om ʼn omvattende, vergelykende, aanlyn grammatika vir Nederlands en Fries op te stel. Aangesien Afrikaans ook verbonde is aan dié twee tale, het ʼn klompie waagmoedige Afrikaanse taalkundiges hulle hande opgesteek en gesê: “Voeg Afrikaans by, ons wil/kan/moet ook saamgesels!”
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, ATKV, Noordwes-Universiteit en Trust vir Afrikaanse Onderwys waagmoedig diep in hulle sakke gegrou en genoeg finansiering verskaf om die Afrikaanse Taalportaalvlagskipprojek in 2014 … uhm … te water te laat.