’n Dag sonder Wikipedia is soos ’n huweliksonthaal sonder vrugtekoek: onsuksesvol. Om dit nou maar byderwets en onidiomaties te stel: Ek lief Wikipedia!
Maar dié week stuit ek my teen twee vergissings op die Afrikaanse Wikipedia. Anders as ’n onsuksesvolle huwelik(sonthaal), kan onsuksesvolhede op Wikipedia gelukkig maklik ongedaan gemaak word.
Ek loop die woord “gespikkeldeminiatuurgroentekewer” iewers in ’n bemarkingsteks raak. Nou kyk, ek is mal vir lang woorde, maar dié ene laat my drie keer dink en sluk.