
In baie, veral ouer Afrikaanse uitdrukkings word mense in die algemeen, en ook diere en gepersonifieerde dinge, met veel gebruikte mansname aangedui; dikwels vergesel van ’n historiese, anekdotiese of tiperende bynaam of van.
“Ek is Daantjie Donderbos; daar waar ek trap, daar bars die grond.” Die naam van die outydse eenskaarploeg in dié raaisel is eens ook as benaming gebruik vir iemand wat onverwags iets groots vermag het. “Klein Daantjie Donderbos”, is spottend teenoor ’n kind gesê, of van iemand wat spog met krag of vermoëns wat hy duidelik nie het nie.