TEKEN AAN OF REGISTREER OM 'N SOEKTOG UIT TE VOER

DIE VIRTUELE INSTITUUT VIR AFRIKAANS

    Afdelings
    VivA Algemeen
    VivA Akademies
    VivA Taalpraktyk
    VivA Onderwys
    VivA Uitgewers
    VivA Tegnologie
     
    VivA Weldoener
     
    Viva Uitgewers

    Ons bring die digitale biblioteek na jou toe

    VivA Uitgewers Aanlyn VivA Uitgewers Dis in die soen

    Lees die nuutste boeke op VivA-Uitgewers

    Op skool word ons geleer dat die Afrikaanse vokaalsisteem opgesom kan word in een rympie: Arme ek is Oupa Uil. Alhoewel, dit gedeeltelik waar is, strek die Afrikaanse vokaalsisteem veel verder.

    Wat is ʼn vokaal dan?

    Die vokale van die Afrikaanse taal is nie beperk tot die vyf alfabetletters (a, e, i, o, u) waarmee ons dit voorstel in geskrewe kommunikasie nie. Fonetiek en fonologie gaan oor uitspraak, die gemiddelde gebruiklike uitsprake van klanke, soos wat in hierdie bloginskrywing voorgestel word, maar ook oor uitspraakvariasies. Die uitspraak van ʼn woord hou nie noodwendig verband met die spelling daarvan nie, wat dikwels verwarring tot gevolg het.

    Oorsigtelik kan vokale beskryf word as die klanke wat vorm wanneer lug vrylik deur die spraakkanaal vloei en nie versper of afgekeer word nie. Die onderskeid tussen vokale word bepaal deur die posisie van die tong, lippe en die grootte/vorm van die mondholte tydens uitspraak. Vokale kan ook algemeen geklassifiseer word deur hoe lank die vokaal duur wanneer dit uitgespreek word. Die algemene vokale van Afrikaans kan in twee groepe verdeel word: lang en kort vokale.

    Vokaaltipe

    Vokaalklank (fonetiese transkripsie)

    Voorbeeld

    Lang vokale

    [o]

    [e]

    [a]

    [ø]

    koop, brood

    beet, lepel

    gaap, standaard

    Europa, deur

    Kort vokale

    [ɛ]

    [œ]

    [ɔ]

    [y]

    [i]

    [ɑ]

    [ə]

    [u]

    skets, lê

    put,

    kos, kort

    kru

    fiets, tien

    bad, kat

    vir, bid

    koes, roes

    Die onderskeid tussen spelling en uitspraak is veral sigbaar by die vokale wat skriftelik voorgestel word deur ie, oe en eu, wat gereeld verwar word met diftonge (tweeklanke). Alhoewel hierdie vokale met twee alfabetletters gespel word, vorm slegs een klank – ʼn doodgewone vokaal – wanneer hul uitgespreek word.

    Buiten vir die spelwyse, lê die verwarring dikwels daarin dat ʼn doelbewuste poging aangewend kan word om hierdie vokale as twee klanke uit te spreek en daarom na diftonge te laat klink. In sommige van Afrikaans se variëteite en selfs in sommige idiolekte is dit gebruiklik om veral eu as twee klanke uit te spreek. In hierdie gevalle is eu ʼn gediftongeerde vokaal.

    Gediftongeerde vokale is lang vokale wat soortgelyk aan diftonge uitgespreek word. Die lang vokale wat die geredelikste gediftongeer word, is [e] > beet, [o] > koop en [ø] > deur. Gediftongeerde vokale verskil egter van gewone diftonge, omdat die klankverandering wat plaasvind wanneer gediftongeerde vokale uitgespreek word, altyd neig na die oper mondposisie van [ə] > vir.

    Wat is ʼn diftong?

    Daarteenoor kan die oorgang vanaf een vokaal klank na ʼn ander in diftonge ʼn  verskeidenheid kombinasies hê. Diftonge klink dus of hulle uit twee vokaalklanke saamgestel is. Afrikaans beskik oor twee soorte diftonge: egte diftonge en onegte diftonge.

    Soort diftong

    Fonetiese transkripsie

    Voorbeeld

    Egte diftong

    [əi]

    [œi]

    [œu]

    ry, brei

    buis, vuis

    goud, benoud

    Onegte diftonge

    [e:u]

    [ɑ:i] 

    [o:i] 

    [ui] 

    [ai] 

    [ɔi] 

    skreeu, leeu

    raai, braai

    rooi, nooi

    groei, broei

    kaiings, fraiings

    toiings, toi-toi

    Wat is egte en onegte diftonge?

    Egte diftonge vorm ʼn nuwe vokaalklank. Alhoewel daar in die uitspraak van die egte diftong ʼn oorgang plaasvind vanaf een klank na ʼn ander, vorm egte vokale steeds een lettergreep soos in die geval van standaardvokale ook gebeur. Egte vokale funksioneer dus as een vokaal in terme van die sillabestrukture waarin dit kan voorkom. Onegte diftonge word gevorm deur twee reeds bestaande vokaalklanke te kombineer. In die meeste gevalle word ʼn lang vokaal met ʼn kort, hoë vokaal verbind om ʼn onegte diftong te vorm. Onegte diftonge funksioneer nie as ʼn enkele vokaalklank ingevolge die formanteienskappe wat dit vertoon en die sillabestrukture waarin dit voorkom nie.

    Die onderskeid tussen vokale, gediftongeerde vokale en diftonge is nie altyd klinkklaar nie. Dikwels val die klanke heel eenders op die oor, daarom word hierdie klassifikasies nie op gehoor gemaak nie. Fonetiek en fonologie is ʼn spesialisveld in die Afrikaanse taalkunde, omdat dit gebruikmaak van ʼn aantal gespesialiseerde instrumente en programmatuur wat die toonhoogtes, formante, vorm van die klankgolwe en selfs die lugdruk kan meet om die klanke te beskryf en van mekaar te onderskei, sodat die akkuraatste moontlike indelings gemaak kan word.

    As jy graag meer wil weet oor die fonetiese eienskappe van vokale en die verskeie klassifikasiestelsels, gaan gerus na Taalonderrigportaal op ons webwerf om toegang te kry tot die afdeling oor fonetiek en fonologie van die Algemene Afrikaanse Grammatika.

    VivA-groete

    Roné