Nou sal ’n mens verwag dat dieselfde patroon waargeneem word wanneer die letterkombinasie <ng> ter sprake is. Dink weer ... Wanneer die letters <n> en <g> langs mekaar staan, ongeag hulle uitspraakmoontlikhede (d.w.s. of hulle twee klanke voorstel, soos in “angora”; en of hulle een klank voorstel, soos in “engel”), kom die skeiding daartussen.
Ek wil die frustrasie rakende die lettergreep minder maak deur ondersoek in te stel na die woorde “huisie”, “neusie” en “kalfie”. Dit is woorde waarvoor eksplisiete reëls nié in die AWS gegee word nie, maar waarvoor patrone wel afgelei kan word.
Huisie
Ons sou die woord volgens lettergrepe kon afbreek, met ander woorde volgens die manier wat die letters saamgegroepeer word. In hierdie geval sal “huisie” afgebreek word as “hui-sie”. Ek het dit in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal nageslaan. Wat ek aflei, is dat wanneer letters wat ’n diftong voorstel (aangedui in rooi) en letters wat ’n vokaal voorstel (aangedui in blou), aan weerskante staan van ’n letter wat ’n konsonant voorstel (aangedui in groen), die skeiding voor die konsonantletter plaasvind (naamlik “hui-sie”).
Neusie
Ek dink dit geld vir “neusie” ook. Die rede waarom ek sê “ek dink”, is dat geen woordeboek wat ek tot my beskikking het, die lettergreepverdeling aandui nie. Na analogie van bostaande voorbeeld kan ek wel ’n patroon aflei. In hierdie woord is letters wat ’n vokaal voorstel (aangedui in blou) aan weerskante van ’n letter wat ’n konsonant voorstel (aangedui in groen). Insgelyks kom die skeiding voor die konsonantletter, dit wil sê “neusie” < “neu-sie”.
Kalfie
Maar by “kalfie” is daar twee konsonantletters wat langs mekaar staan. Die lettergreepverdeling van “kalfie” is “kal-fie” volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Waarom kom die skeiding hier? Die 1960-uitgawe van die AWS dui weer aan wanneer twee konsonantletters langs mekaar staan, die skeiding daartussen kom, byvoorbeeld "ek-samen" en "pas-tel". Hierdie reël is egter nie in die huidige 2017-AWS opgeneem nie. Ek gaan daarom my eie afleiding maak. Soms staan twee konsonantletters (in groen) wat verskillende klanke voorstel langs mekaar. Aan weerskante daarvan kan vokaalletters (aangedui in blou) voorkom. In so ’n geval kom die skeiding tussen die konsonantletters, dit wil sê “kal-fie”.
Alternatiewe siening
Tog kan die lettergreepverdeling van "huisie", "neusie" en "kalfie" vanuit die perspektief van morfologie benader word. Prof. Gerhard van Huyssteen onderskei tussen "cohering affixes" en "non-cohering affixes". Eersgenoemde is ’n agtervoegsel (oftewel suffiks) wat met die voorafgaande letter saamsmelt. Hier gee hy onder andere die verkleiningsuitgang "-ie" (soos in "huisie", "neusie" en "kalfie") as voorbeeld. Dit beteken sodra die agtervoegsel "-ie" by "huis", "neus" en "kalf" gevoeg word, die slotkonsonantletter (onderskeidelik "s" en "f") die aanvangsletter van ’n volgende lettergreep vorm. Die proses lyk soos volg:
- "huis" < "hui-sie"
- "neus" < "neu-sie"
- "kalf" < "kal-fie"
Verdeling volgens betekenisvolle dele
Ons kan ’n woord ook volgens sy betekenisvolle dele verdeel wanneer ons aan die einde van ’n reël kom en nie die volledige woorde kan uitskryf nie. Neem weer “huisie” as voorbeeld. Volgens sy betekenisvolle dele word hierdie woord as “huis-ie” afgebreek. Maar hier is die vangplek: Volgens die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (reël 1.3, opmerking (a)) moet die grense van die betekenisvolle dele ooreenstem met die grense van die lettergreepverdeling, indien ’n woord volgens sy betekenisvolle dele aan die einde van ’n reël afgebreek word. In hierdie geval stem die grense van die betekenisvolle dele (naamlik “huis-ie”) nie ooreen met die grense van die lettergreepverdeling (naamlik “hui-sie”) nie. Daarom kan “huisie” slegs volgens sy lettergreepverdeling (naamlik “hui-sie”) aan die einde van ’n reël afgebreek word. Slegs wanneer dié twee grense (betekenisvolle dele en lettergreepverdeling) ooreenstem, kan ons dié woord as “huis-ie” afbreek (wat nie tans die geval is nie).
Dieselfde geld byvoorbeeld vir die woord “voetstappe”. Sy lettergreepverdeling is “voet-stap-pe”. Sy verdeling volgens betekenisvolle dele is “voet-stap(p)-e” (vergelyk AWS, reël 1.3). Hierna moet ons eers na die lettergreepverdeling daarvan gaan ondersoek instel. In hierdie geval stem sy verdeling volgens betekenisvolle dele, “voet-stap(p)-e”, nie heeltemal ooreen met die grense waar die woord volgens lettergrepe afgebreek word nie, “voet-stap-pe”. Om hierdie rede kan ons nie die woord as byvoorbeeld “voetstap(p)-e” aan die einde van ’n reël gaan afbreek nie.
Afbreking voor agtervoegsels (oftewel suffikse)
Wanneer sal ons dan ’n woord afbreek voor die agtervoegsel (of suffiks) wat die betekenis van ‘verkleiningsvorm’ uitdruk? Volgens die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (reël 1.14) vind die verdeling voor “-jie” plaas wanneer die stam van die woord op die letters <d> of <t> eindig.
- “handjie” afgebreek as “hand-jie”
- “katjie” afgebreek as “kat-jie”
Nog ’n konteks waarbinne die verdeling vóór die verkleiningsuitgang plaasvind, is waar die stamme nie op <d> of <t> eindig nie, maar die woord die verkleiningsuitgang “-tjie” kry.
- “koortjie” afgebreek as “koor-tjie”
- “lepeltjie” afgebreek as “lepel-tjie”
Die hulpmiddel wat ’n mens in hierdie verband kan gebruik, is woordeboeke. Die lettergreepverdeling word in talle woordeboeke met ’n kolletjie aangedui. Vergelyk die onderstaande uittreksel waarin die lettergreepverdeling van “emmer” geïllustreer word:

Figuur 1: ’n Skermskoot om lettergreepverdeling te illustreer
Die verwarring van lettergrepe en klankgrepe
Moet ook nie lettergreepverdeling met klankgreepverdeling verwar nie. Die een handel oor die wyse waarop letters saamgegroepeer word. Daar is sprake van ’n eenheid wat deur spelling bepaal word (Coetzee, 2018:88). Die lettergrepe van “engel” is “en-gel”. Hoe weet ek dit? Ek het reeds vroeër na reël 1.11 verwys. Die ander handel oor die wyse waarop klanke saamgevoeg word. Daar is sprake van ’n klankeenheid of fonetiese eenheid (Coetzee, 2018:88). Die klankgreepverdeling van “engel” is “e-ngel” of “è-ngil” (as jy jou leerders toelaat om die woord te skryf soos wat hulle dit sou uitspreek) of selfs [ɛŋəl], voorgestel met behulp van die Afrikaanse Fonetiese Alfabet.
As jy die waarde van klankgreeponderrig wil verhoog, kan jy vir jou leerders verduidelik dat ons eintlik in klankgrepe praat en dat elke klankgreep met ’n asemstootjie uit gepaardgaan, totdat ons weer inasem. Wat ook interessant is om te noem, is dat hoewel ons in klankgrepe praat, ons spraak as “een aaneenlopende klankstroom” waargeneem word (Coetzee, 2018:23). Ons kan die uitspraak van “engel” visueel voorstel as:

Figuur 2: Klankgrepe visueel voorgestel
As jy voel dat die lettergreepkoors jou behoorlik ná hierdie skrywe beetgekry het, kan jy gerus die blog “Begryp lettergrepe” gaan lees deur op die volgende skakel te klik: https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/434-begryp-lettergrepe.
VivA-groete
Nadine Fouché-Karsten
Bronnelys
AWS. 1960. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 6de verbeterde uitgawe. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Beperk.
AWS. 2017. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 11de herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.
Coetzee, A. 2018. Fonetiek. 5de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.
Van Huyssteen, G.B. 2020. Cohering vs. non-cohering affixes. Taalportaal. https://taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-13998813296131500. Datum van toegang: 5 Februarie 2026.












