Wat is versamelnaamwoorde, en waarom is bagasie en gereedskap nie voorbeelde hiervan nie?
Versamelnaamwoorde kan vóór ’n ander naamwoord gebruik word – dikwels ’n soortnaamwoord (oftewel ’n soortnaam op skoolvlak). Dit dui aan dat dít wat deur die soortnaamwoord benoem word in ’n groep voorkom. Aangesien die versamelnaamwoord nie vas aan die soortnaamwoord geskryf word nie, kan die versamelnaamwoord die verkleiningsvorm en meervoudsvorm kry en saam met ander woordsoorte gebruik word.
Kom ons pas hierdie definisie van “versamelnaamwoord” toe op die woord trop, soos in trop varke.
Ons het gesê versamelnaamwoorde staan vóór ’n ander naamwoord (veral ’n soortnaamwoord), byvoorbeeld ’n Groot [trop varke] het op die berg gewei. Hier baken die versamelnaamwoord trop die soortnaamwoord varke af, want dit wys vir ons dat die vet soogdiere met kort pote, geteel vir hul vleis en spek, waarna die woord varke verwys, in ’n groep voorkom. Aangesien trop nie vas aan varke geskryf word nie, kan ons die verkleiningsvorm of meervoudsvorm daarvoor gee (bv. Die tropp·ie/tropp·e varke staan in ’n groep) of dit saam met ander woordsoorte gebruik. Kyk maar na die voorbeeld [’n Groot trop] varke het op die berg gewei, waar die versamelnaamwoord saam met die onbepaalde lidwoord en die adjektief groot (ook bekend as ’n byvoeglike naamwoord) gebruik word.
Kom ons pas dieselfde definisie nou toe op die woorde bagasie en gereedskap. Wat sien ons?
Ons sien dit is nié versamelnaamwoorde nie.
1. Die woorde bagasie en gereedskap dui nie aan dat dít waarna ’n daaropvolgende naamwoord verwys in ’n groep voorkom nie. Hulle self dui op ’n versameling.
2. Nie een van hierdie twee woorde kan voor ’n ander naamwoord staan nie (in teenstelling met swerm, span en ploeg wat wel kan, byvoorbeeld swerm bye, span osse en ploeg arbeiders).
3. Hoewel die woorde bagasie en gereedskap saam met sommige woordsoorte (uitsluitend die onbepaalde lidwoord en bepaalde hooftelwoord) gebruik kan word, kry nie een van hierdie twee woorde, soos tipies die geval met versamelnaamwoorde is, die meervoudsvorm (of verkleiningsvorm) nie. Vergelyk die volgende voorbeelde uit VivA se versameling aanlyn tekste in Korpusportaal:
- Jiemie sit sy gereedskap in sy viskis en kyk wat hy te ete het.
- Bagasie sonder identifikasie word altyd na die SAL se bagasieruim geneem.
Wat is woorde soos bagasie en gereedskap dan?
Hulle is massanaamwoorde (oftewel massaname op skoolvlak). Net soos versamelnaamwoorde ’n spesifieke stel eienskappe het, het massanaamwoorde ook. Lees die volgende beskrywing van massanaamwoorde:
Massanaamwoorde benoem iets wat nie getel kan word nie, maar wel meer of minder kan word. Ons sê hierdie “iets” is uitsetbaar. Omdat massanaamwoorde ’n naam gee vir iets wat uitsetbaar is, word dit ook in sy struktuur waargeneem. Op vormvlak kry dit nie meervoude nie. Ons sê nie *Hy draai die stort geleidelik kouer, totdat water·s yskoud oor hom spoel nie. Op sintaktiese vlak word die onbepaalde lidwoord en bepaalde hooftelwoorde ook nie saam met massanaamwoorde gebruik nie. Ons sin is onkonvensioneel, sou ons skryf *Hy draai die stort geleidelik kouer, totdat [’n water] yskoud oor hom spoel. Betekenisgewys benoem massanaamwoorde ook sake (net soos soortnaamwoorde) wat met ons sintuie waargeneem kan word.
Kom ons pas dieselfde definisie nou toe op die woorde bagasie en gereedskap. Wat merk ons op?
Ons sien dat bagasie en gereedskap voorbeelde van massanaamwoorde is, want dit voldoen aan die bostaande toetse.
1. Dit gee ’n naam vir iets wat meer of minder kan word, maar nie getel kan word en twee kan word nie.
2. Daarom kry dit nie die meervoudsvorm nie. Ons sê nie *Jiemie sit sy gereedskappe in sy viskis en kyk wat hy te ete het en *Die bagasies is van die motor af ingedra nie.
3. Dit kan saam met die bepaalde lidwoord gebruik word; nie die onbepaalde lidwoord nie en ook nie saam met bepaalde hooftelwoorde nie.
- Bennie kry [die gereedskap] bymekaar en dra ’n stoel tot voor die agterdeur.
- [Die bagasie] is van die motor af ingedra.
4. Betekenisgewys benoem massanaamwoorde ook sake (net soos soortnaamwoorde) wat met ons sintuie waargeneem kan word. Hier onder is ’n illustrasie van elk.

Voorgestelde werkswyse in die klaskamer
Gebruik gerus die volgende interaktiewe beeld in jou klaskamer wanneer naamwoorde (oftewel selfstandige naamwoorde) onderrig word. Hierdie definisies bied ’n sistematiese wyse om naamwoorde te onderrig.
Onthou dat dit wel moontlik vir sommige massanaamwoorde, soos hout, wyn en tee is om die meervoudsvorm te kry. Biber et al. (1999:244) redeneer dat massanaamwoorde ’n telbare gebruik kán kry. Met ander woorde, dit kán na iets verwys wat repliseerbaar is en twee of meer kan word. Ook Trask (2001) dui aan dat “English nouns denoting things that cannot be counted, such as ‘wine’, ‘coffee’ do not easily form plurals in their central senses. Some of them, however, can be pluralized when they have transferred senses, such as varieties (Rhone wines)...” ’n Woord soos hout, wat tipies verwys na iets wat uitsetbaar is, soos in hout vir ’n vuur (Stander et al., 2021:40), kan van ’n meervoudsuffiks voorsien word, in welke geval die woord die betekenis van ‘soorte/stukke’ kommunikeer (Van Schoor 1983:241). In so ’n geval word die woord as ’n soortnaamwoord gebruik; nie meer ’n massanaamwoord nie.
In die volgende sinne word hout as ’n soortnaamwoord (oftewel soortnaam) gebruik:
- Op hierdie blad is daar pype gemaak van ’n paar van ons inheemse houte. [’n Spesifieke soort hout word benoem, naamlik dié wat inheems is.]
- Kies jou twee houte. [Die soortnaamwoord houte verbind met die bepaalde hooftelwoord twee. Twee verskillende voorbeelde word benoem.]
- Die olyfboom het ’n hout met baie fyn grein, en dit is amberkleurig. [Die soortnaamwoord hout verbind met die onbepaalde lidwoord ’n om ’n bestanddeel van die olyfboom te benoem.]
Ander massanaamwoorde, soos wyn en tee, kan ook as massa- én soortnaamwoorde gebruik word. Lees die volgende voorbeelde van elkeen:
- Hy skink vir hulle wyn en dek die tafel. [Massanaamwoord]
teenoor - ’n Pinotage-versnit is deel van sy Vriesenhof-reeks wyne. [Soortnaamwoord; ’n spesifieke reeks wat uit verskillende voorbeelde van wyne bestaan.]
- Drink jou tee. [Massanaamwoord]
teenoor - Ons het geleer om bruin rys en jogurt te eet en om tees wat eienaardig smaak te verdra. [Soortnaamwoord; verskillende soorte tees]
Vir bykomende voorbeelde kan die hoofstuk oor massanaamwoorde in VivA se Afrikaansgrammatika geraadpleeg word.
- Klik op die skakel https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Woordsoorte%2FSelfstandigeNaamwoord%2FAAG_Woordsoort_N_Soorte_Massanaamwoord.html.
- Klik daarna op “Uitgebreide weergawe”.
- Rol af met jou muis, totdat jy “Wisseling tussen massanaamwoord en soortnaamwoord” sien.
VivA-groete
Nadine
Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

Taalversorging
Annamarie Steenekamp
Bronnelys
Biber, D. 1999., Johansson, S., Leech, G., Conrad, S. & Finegan, E. 1999. Longman grammar of spoken and written English. Edinburgh: Pearson Education.
Fouché, N., Luther, J., Kapp, S. & Erasmus, C. 2021. Woordsoorte: Naamwoorde. Taalonderrigportaal. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Woordsoorte%2FSelfstandigeNaamwoord%2FAAG_Woordsoort_N_Inleiding.html Datum van gebruik: 7 Aug. 2025.
Fouché, N., Luther, J., Kapp, S. & Erasmus, C. 2021. Woordsoorte: Massanaamwoorde. Taalonderrigportaal. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Woordsoorte%2FSelfstandigeNaamwoord%2FAAG_Woordsoort_N_Soorte_Massanaamwoord.html Datum van gebruik: 7 Aug. 2025.
Fouché-Karsten, N. 2025. Maak los en vas skryf minder los-en-vas. Aanbieding gelewer by die George-seminaar, Laerskool George-Suid, George. (Ongepubliseerde aanbieding).
Stander, E., Fourie, D., Potgieter, L., Burger, L. & Lesch, L., reds. 2021. Pharos Grondslagfasewoordeboek Afrikaans-Engels/English-Afrikaans. Kaapstad: Pharos.
Trask, R.L. 2001. Mind the Gaffe: The Penguin Guide to Common Errors in English. London: Penguin Books.
Van Schoor, J.L. 1983. Die grammatika van Standaard-Afrikaans. Kaapstad, Johannesburg: Lex Patria.












