Reël 13.42 dui aan dat wanneer een of ander verbindingswoord (soos ’n onderskikkende voegwoord, bv. “aangesien”) gebruik word om twee sinne aan mekaar te voeg om ’n kompleks onderskikkende sin (oftewel saamgestelde sin) te skep, ’n komma die twee sinne van mekaar moet skei.
Nou, in sinne waar die hoofsin eerste staan, gevolg deur die bysin, vereis die 2017-AWS die gebruik van ’n komma voor die onderskikkende voegwoord (in hierdie geval “omdat”): “Die AWS skryf voor dat ’n komma altyd by onderskikkende voegwoorde gebruik moet word. Juis om die inkonsekwentheid van [die] pouseringsreël uit te skakel” (Pilon 2024). Die gebruik van die komma hier hang dus nié van pousering af nie.
- Voorbeeld 1: “Ek koop nou my blomme elders, omdat ek jou nie meer by hierdie winkel sien nie.”
Wat egter ook kan gebeur, is dat die bysin voor die hoofsin kan staan, soos in die onderstaande sin.
- Voorbeeld 2: “Aangesien ons vliegtuig om 17:00 vertrek, moet ons om 15:00 op die lughawe wees.”
Die bysin (in hierdie geval “[aangesien] ons vliegtuig om 17:00 vertrek”) behoort steeds van die hoofsin (in hierdie geval “moet ons om 15:00 op die lughawe wees”) geskei te word. Nou kan ’n komma nie voor die onderskikkende voegwoord (soos by voorbeeld 1) gebruik word nie, want die bysin staan voor die hoofsin. Kyk hoe die komma strategies tussen die twee werkwoorde (naamlik “vertrek” en “moet”) ingevoeg word.
- Voorbeeld 3: “Aangesien ons vliegtuig om 17:00 vertrek, moet ons om 15:00 op die lughawe wees.”
Maar waarom juis hier? Want die komma dui aan waar die bysin eindig (ná “vertrek”) en waar die hoofsin begin (by “moet”). Ook Suléne Pilon, TK-voorsitter, het tydens 2024 in ’n WhatsApp-gesprek gesê dat “wanneer twee werkwoorde van verskillende klouse langs mekaar staan, hulle met ’n komma geskei MOET word”.
Volgens reël 13.42.b in die 2017-AWS kan ontkenningswoorde (soos “nie … nie”) in onderskikkend komplekse sinne ingevoeg word. Lees die volgende voorbeelde, waar die bysin, wat voor die hoofsin staan, ontkennend gemaak is. Om die skeiding tussen die bysin en die hoofsin aan te dui word ’n komma ná die “nie” gebruik.
- Voorbeeld 4: “Aangesien sy nie haar werkstuk ingegee het nie, sal sy gepenaliseer word.”
- Voorbeeld 5: “Omdat Van Nierop die boek juis nie vir kinders geskryf het nie, was ek betower daardeur.”
Wat dan van sinne wat betrekkingswoorde (soos betreklike voornaamwoorde) bevat? Die 2017-AWS: reël 13.42.a dui eksplisiet aan dat wanneer ’n verbindingswoord ’n betreklike voornaamwoord (soos “wat”) is, die komma net soos by voorbeeld 2 gebruik moet word. Ook hier word die komma tussen die twee werkwoorde, wat tot verskillende sinne hoort, gebruik. Die werkwoord “het” hoort tot die hoofsin (naamlik “die boek het nou spoorloos verdwyn”), terwyl die werkwoord “het” tot die bysin (naamlik “wat ek gelees het”) hoort.
- Voorbeeld 6: “Die boek wat ek gelees het, het nou spoorloos verdwyn.”
Daar het intussen ’n verandering plaasgevind rakende die wyse waarop “om” geag word. Dit word nie meer as ’n inleier van infinitiefkonstruksies beskou nie, maar ’n inleier van bysinne. In hierdie verband word dit deesdae, net soos Ponelis (1979:429) dit in Afrikaanse sintaksis klassifiseer, as ’n onderskikkende voegwoord en derhalwe as ’n inleier van ’n bysin geag. Ten spyte van sy gebruik as ’n onderskikkende voegwoord word spesifieke riglyne in die 2017-AWS gegee.
Op hierdie stadium vereis die 2017-AWS: reël 13.42.c geen komma ná ’n sinsdeel wat deur “om” ingelei word en as die onderwerp van die sin gebruik word nie. Lees voorbeeld 7:
- Voorbeeld 7: “Om ’n koedoe te jag is elke jagter se grootste droom.”
In ouer normatiewe bronne, soos Nuwe taalgids (Coetser, 1992:9), is wel aangedui dat indien hierdie sinsdeel wat deur “om” ingelei word deur ’n gewone bysin voorafgegaan word (soos in voorbeeld 8), of ’n gewone bysin deur so ’n “om”-sinsdeel gevolg word (soos in voorbeeld 9), die gebruik van die komma nie as verkeerd beskou sou word nie. Sulke voorbeelde word nie tans in die 2017-AWS ingesluit nie.
- Voorbeeld 8: “As jy die motor gebruik om tot by die winkel te ry, kan jy die brood kry.”
- Voorbeeld 9: “Om die motor te gebruik as jy wil gaan brood koop, is pure luiheid.”
Ook in die volgende voorbeeld word geen komma tussen “sing” en “ontbreek” ingevolge die 2017-AWS: 13.42.c vereis nie, al lei “om” ’n bysin in en hoort “ontbreek” tot die hoofsin “Die motivering ontbreek soms” en “sing” tot die bysin “(om) te sing”.
- Voorbeeld 10: “Die motivering om te sing ontbreek soms.”
Hoewel ’n komma ingevolge die huidige reël 13.42.c ná “sing” ingevoeg moet word, moet hierdie voorbeeld reg verstaan word. Dit is nie die gebruik van die onderskikkende voegwoord “om” wat die kommagebruik vereis nie.
- Voorbeeld 11: “[As julle dink julle is hier om te sing], [maak julle ’n fout].”
Die bostaande voorbeeld bestaan uit die volgende:
- Een komplekse bysin “As julle dink julle is hier om te sing” bestaande uit drie kleiner bysinne:
- “As julle X dink”
- “Julle is hier”
- “om te sing”
- “Julle is hier”
- “As julle X dink”
- Een hoofsin: “julle maak ’n fout”
In die heel eerste bysin hier bo ontbreek ’n direkte objek (direkte voorwerp) by “dink”. Ons kort met ander woorde ’n sinsdeel om in die plek van “X” te staan en aan te dui wat gedink word. Hierdie sinsdeel is die daaropvolgende “dat”-lose bysin (naamlik “Julle is hier”). Maar kyk mooi: Die “om”-bysin verrig ’n funksie vir die “dat”-lose bysin. Dit dui die omstandighede (rede) aan. Daarom word die “dat”-lose bysin uitgebrei tot “julle is hier om te sing”. Hierdie uitgebreide bysin word as die indirekte objek van “dink” in die “as”-bysin gebruik. Die “as”-bysin word dus uitgebrei tot “As julle dink julle is hier om te sing”.
Die hele “as”-bysin verbind met die hoofsin “julle maak ’n fout”. Dit veroorsaak dat die werkwoord in die eerste werkwoordgleuf (d.w.s. “maak”) en die subjek (d.w.s. “jy”) in die hoofsin plekke omruil < “maak julle ’n fout”. Kyk gou weer na die sin:
- Voorbeeld 12: “[As julle dink julle is hier om te sing], [maak julle ’n fout].”
Die werkwoord “sing” hoort dus eintlik tot die uitgebreide “as”-bysin, terwyl die werkwoord “maak” tot die hoofsin hoort. Die komma word hiertussen ingevoeg om die skeiding aan te dui.
Bykomende, interessante opmerkings oor die gebruik van die komma
Scenario 1
Veronderstel die sin is:
- Voorbeeld 13: "Ons is oortuig dat haar punte sal verbeter."
Ná “dat”, wat die bysin “(dat) haar punte sal verbeter” inlei, word ’n ander bysin ingevoeg: “Ons is oortuig dat indien sy meer aandag in die klas gee, haar punte sal verbeter.”
Hier word geen komma voor “indien” gebruik nie. Die vraag is waarom. Antwoord deur Fred Pheiffer: “Kyk in die AWS by reël 13.30 en verder. Dit gaan hier oor parentetiese invoegings soos jou ‘indien ... gee’ hierbo. Die reël sê sulke invoegings moet deur kommas van die hoofsin geskei word. Dié reël word egter ietwat getemper deur die natuurlike kadens van die sin, wat bepaal dat die komma voor die parentese onnodig is, maar die laaste [komma] verpligtend [dit wil sê tussen ‘gee’ en ‘haar punte’]. Let ook daarop dat ’n kenmerk van hierdie soort parenteses is dat hulle ook heel voor of heel agter aan die sin kan staan.”
Scenario 2
Lees die volgende sin:
- Voorbeeld 14: “Die persoon wat die boek oor rekenaars geskryf het, is baie slim.”
Hier is sprake van ’n beperkende betreklike bysin, want die bysin “wat die boek oor rekenaars geskryf het” beperk dit waarna die naamwoord “persoon” verwys. Om hierdie rede word geen komma voor die bysin geplaas nie (vgl. die 2017-AWS: 13.33.b). Omdat dit duidelik is dat die werkwoorde “het” en “is” tot verskillende sinne hoort, word ’n komma daartussen gebruik (vgl. 2017-AWS: 13.42.a).
Wat egter toenemend waargeneem word, is dat die bysin nie by die naamwoord wat dit spesifiseer, geplaas word nie, maar geskuif word:
- Voorbeeld 15: “Die persoon wat die boek geskryf het oor rekenaars is baie slim”.
Dit laat die taalgebruiker met ’n dilemma, want nou staan twee werkwoorde wat tot verskillende sinne hoort nie meer langs mekaar nie, en ’n mens weet gevolglik nie meer waar die komma moet kom nie. In hierdie verband redeneer die huidige Taalkommissievoorsitter, spesifiek met verwysing na voorbeeld 15, soos volg: “Daardie tweede sin ... is m.i. nie ‘korrek’ nie. Ek sien dit dikwelser en dikwelser gebeur – dat die nabepaler in ’n naamwoordstuk so los van die naamwoordstukkern geskryf word. Want wat is daai ‘oor rekenaars’ in jou tweede sin? … Dit is en bly die nabepaler van die naamwoord ‘boek’. ... Ek sou, vir nou, voorstel dat jy mense aanraai om te sorg dat daardie nabepaler by die naamwoord bly – veral as daar in Standaardafrikaans geskryf word. En dan is die komma ook nie ’n probleem nie.”
Die Taalkommissievoorsitter keur dus sinne soos voorbeeld 15 af. Plaas dus die betreklike bysin direk ná die naamwoord wat dit spesifiseer, want sy funksie is immers om die referent van die naamwoord uit te brei of te beperk.
So, die volgende keer as jy wonder oor daardie komma, kan jy daaraan as jou tweede koppie koffie dink: Hoewel die gebruik daarvan dalk alles net gladder en lekkerder maak, is die gebruik daarvan eenvoudig nie nodig nie (soos gemeet aan die voorskrifte van die 2017-AWS).
VivA-groete
Nadine
Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

Taalversorging
Maureen van Helden
Bronnelys
AWS. 2017. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 11de herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.
Coetser, A. 1992. Nuwe taalgids. Pinelands, Kaapstad: Maskew Miller Longman.
Pheiffer, F. (@Taalwerkersforum). 2024, 11 Jun. Kyk in die AWS by reël 13.30 en verder. Dit gaan hier oor parentetiese invoegings soos jou “indien ... gee” hier bo. Die reël sê sulke invoegings moet deur kommas van die hoofsin geskei word. https://www.facebook.com/groups/190778854957853/?multi_permalinks=1422635345105525&ref=share Datum van toegang: 24 Sept. 2025.
Pilon, S. 2024. Die komma voor onderskikkende voegwoorde en die interpretasie van die 2017-AWS: 13.42 [WhatsApp-korrespondensie]. 27 Mei.
Pilon, S. (@Taalwerkersforum). 2025, 7 Aug. Daardie tweede sin van jou is m.i. nie "korrek" nie. Ek sien dit dikwelser en dikwelser gebeur – dat die nabepaler in 'n naamwoordstuk so los van die naamwoordstukkern geskryf word. https://www.facebook.com/groups/190778854957853/?multi_permalinks=1701038810598509&ref=share Datum van toegang: 24 Sept. 2025.












