- Voorbeeld 1
Veronderstel die sin is: “Martin sal saam met Jesse skool toe loop en gesels.”
Hierdie sin is ’n neweskikkend komplekse sin (oftewel ’n veelvoudige sin). Ek gaan dit bewys deur ’n aantal sintaktiese toetse te gebruik.
(i) Probeer die werkwoord “loop” (en “en”) weglaat om te kyk of “sal” hierdie werkwoord of die werkwoord “gesels” toelig.
- ⚠️*“Martin sal saam met Jesse skool toe gesels.”
Sou die werkwoord “loop” (en “en”) weggelaat word, merk ’n mens onmiddellik op dat “sal” nie saam met “gesels” gebruik kan word nie. Dit sê vir ’n mens die werkwoord “loop” is heel waarskynlik die hoofwerkwoord van die eerste sin, waar dit deur “sal” toegelig word, terwyl “gesels” die hoofwerkwoord van die tweede sin is.
(ii) Probeer bepaal of “en” weggelaat kan word.
- ⚠️ *“Martin sal saam met Jesse skool toe loop gesels.”
Wanneer “en” weggelaat word, merk ’n mens onmiddellik op dat hierdie sin nie meer sin maak nie. Dit begin die vermoede bevestig dat “loop” en “gesels” hoofwerkwoorde is wat tot afsonderlike sinne, wat deur die neweskikkende voegwoord “en” geskakel word, hoort. Sou die weglating van “en” egter tot ’n konvensionele sin bygedra het, sou dit waarskynlik eerder ’n skakelpartikel in plaas van ’n neweskikkende voegwoord gewees het. Gevolglik sou die sin eerder ’n simplekse (enkelvoudige) sin gewees het (sien voorbeeld 2).
(iii) Bepaal of “en” deur ’n ander neweskikkende voegwoord vervang kan word.
Hier bo is reeds aangedui dat “en” waarskynlik ’n neweskikkende voegwoord is wat twee sinne verbind. Hier onder word dit bevestig deurdat “en” deur ’n ander neweskikkende voegwoord (naamlik “of”) vervang kan word om steeds ’n konvensionele Afrikaanse sin te vorm. Hier word twee dinge wat Martin kan doen teenoor mekaar met behulp van die teenstellende neweskikkende voegwoord “of” gestel. Ek voeg ook ’n paar woorde tussen hakies by om die teenstellende verband duideliker te maak.
- “Martin sal saam met Jesse skool toe loop of (Martin sal lekker) gesels.” ✅
Die sintaktiese toetse hier bo bevestig dat daar twee hoofwerkwoorde en gevolglik twee handelinge is – in hierdie geval loop én gesels. Kyk na die prentjie wat hierdie twee handelinge visueel uitbeeld.

Dit beteken daar is twee sinne (tussen hakies) wat met die neweskikkende voegwoord (groep 1-voegwoord) “en” verbind word.
- “[Martin sal saam met Jesse skool toe loop] en [gesels].”
Albei newegeskikte sinne (neweskikkende hoofsinne) waaruit die neweskikkend komplekse sin (veelvoudige sin) bestaan, moet verander word, as ons die hele sin in die verlede tyd wil skryf.
Tipies sal “sal” na “sou” moet verander wanneer ons wil wys dat iets wat iemand belowe of beplan het om te doen, toe regtig gebeur het. In so ’n geval sal die hoofwerkwoord nie na die verledetydsvorm verander nie, byvoorbeeld “Voor ’n regterhandse draai sou hy (die tydrenjaer) die stuurwiel na regs draai”.
Op grond van die bogenoemde inligting sal die verlede tyd soos volg lyk:
- “[Martin sou saam met Jesse skool toe loop] en [gesels].”
Maak ook leerders daarvan bewus dat “Martin sou met Jesse” voor “gesels” in die tweede newegeskikte sin ingevoeg kan word (sien die gedeelte in krulhakies). Die skrywer het hierdie gedeelte waarskynlik weggelaat, omdat dit herhaal. In die taalkunde sê ons dat hierdie gedeelte wat herhaal ellips ondergaan het.
- “[Martin sou saam met Jesse skool toe loop] en [{Martin sou met Jesse} gesels].”
Kantaantekening: Indien die hoofwerkwoord die prefiks (voorvoegsel) “ge-” sou kry, sou ’n ander betekenis oorgedra word, naamlik dat Martin saam met Jesse skool toe sou loop, maar dat dit nooit gebeur het nie, en dat Martin met Jesse sou praat, maar dat dít ook nooit gerealiseer het nie.
- Voorbeeld 2
Veronderstel hierdie sin was egter soos volg:
- “Twee poue loop en soek insekte.” (Geneem uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.)
Hierdie sin is ’n voorbeeld van ’n simplekse (enkelvoudige) sin. Ek gaan dit bewys deur twee sintaktiese toetse te gebruik.
(i) Probeer die sin verdeel om te kyk of “insekte” saam met “loop” gebruik kan word.
- ⚠️ *“Twee poue loop Twee poue / hulle soek.”
Ons sien dadelik die eerste simplekse (enkelvoudige) sin is nie verstaanbaar nie, en die tweede simplekse (enkelvoudige) sin is semanties en sintakties onvolledig. Dit wys vir ons dat “loop (en) soek” waarskynlik in dieselfde simplekse (enkelvoudige) sin voorkom, waar dit ’n hegte eenheid vorm. Die werkwoord “soek” is heel moontlik die hoofwerkwoord, “loop" ’n niehoofwerkwoord (medewerkwoord) wat hierdie hoofwerkwoord toelig en “en” ’n skakelpartikel (nie ’n neweskikkende voegwoord nie), waarvan die gebruik opsioneel is.
(ii) Probeer bepaal of “en” weggelaat kan word.
As dit werklik ’n simplekse (enkelvoudige) sin is, sal “en” weggelaat kan word, want dit is ’n opsionele skakel tussen die niehoofwerkwoord (“loop”) en die hoofwerkwoord (“soek”).
- “Twee poue loop soek insekte.” ✅
Ons sien dat hierdie toets werk. Dit bevestig ons vermoede dat “en” nié ’n neweskikkende voegwoord is nie, maar wel ’n skakelpartikel wat opsioneel is.
Die sintaktiese toetse hier bo bevestig dat hierdie sin ’n simplekse (enkelvoudige) sin is. Daar is één hoofwerkwoord
(“main verb”), naamlik “soek”. Die werkwoord “loop” dui nie op ’n handeling (soos ’n liggaamsposisie) nie, maar lig eerder hierdie hoofwerkwoord toe deur iets oor die interne tyd te sê, naamlik dat die soektog na die insekte voortduur. Omdat dit die hoofwerkwoord toelig, is dit ’n niehoofwerkwoord (medewerkwoord), meer spesifiek ’n indirekte skakelwerkwoord wat saam met die skakelpartikel “en” gebruik kan word. Skandeer die QR-kode om meer oor werkwoordgroeperings (soos “loop en soek”) wat ’n eenheid vorm uit te vind.
Omdat “loop (en) soek” ’n eenheid vorm, sal ons net één prentjie gebruik.

So ’n simplekse (enkelvoudige) sin kan op twee maniere in die verlede tyd volgens die 2017-AWS: reël 19.8 geskryf word. Onthou dat die gebruik van “en” opsioneel is.
- “Twee poue het insekte geloop en soek.”
- Twee poue het insekte loop en soek.”
- Voorbeeld (3)
Lees ook die volgende sin:
- “Die walvis swem en eet planktonkrefies.”
Dit is belangrik om te sien dat hierdie sin, net soos voorbeeld 1, ’n newskikkend komplekse sin (veelvoudige sin) wat uit twee newegeskikte sinne (newegeskikte hoofsinne) bestaan, is. Ook hier is ’n sinsdeel wat herhaal (naamlik “die walvis”) in die tweede newegeskikte sin weggelaat en sou dit ingevoeg kon word (sien die gedeelte tussen krulhakies).
- “[Die walvis swem] en [{die walvis} eet planktonkrefies].”
Elkeen van die sinne tussen kantige hakies druk sy eie handeling uit: In die eerste sin gaan dit oor die walvis wat swem, en in die tweede sin gaan dit oor die walvis wat planktonkrefies eet. Dit kan ook visueel vir leerders uitgebeeld word deur die onderstaande prentjie te gebruik.

Sodra leerders begryp dat hier sprake van twee sinne en twee handelinge is, begryp hulle dat albei die sinne na die verlede tyd verander moet word.
Hierdie sin moet soos volg in die verlede tyd geskryf word:
- “[Die walvis het geswem] en [het planktonkrefies geëet].”
Ek eindig hierdie blog met ’n pleidooi: Beweeg asseblief weg van die praktyk dat leerders moet bepaal of die handeling van twee werkwoorde gelyktydig plaasvind / nie gelyktydig plaasvind nie. Dit is taalkundig onakkuraat, subjektief en moeilik om altyd in sinsverband af te lei. Maak eerder van sintaktiese toetse gebruik om te bepaal of ’n taaleenheid ’n simplekse (enkelvoudige) sin (sien voorbeeld 2) of ’n neweskikkend komplekse sin (veelvoudige sin) is (sien voorbeeld 1 en 3).
Lees ook gerus "Blitsblog 2: Die werkwoord en die verlede tyd in veelvoudige sinne" vir bykomende voorbeelde.
VivA-groete
Nadine
Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

Taalversorging
Annamarie Steenekamp
Bronnelys
AWS. 2017. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 11de herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.
Kirsten, J. 2018. Dit gaan nog belangrik word: Veranderinge in grammatikale toekomsverwysing in Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(2):277-292.
De Villiers, C., Kruger, Ca., Krüger, Co., Rautenbach, L., Smith, T., Struwig, D. & Van der Merwe, E. 2022. Kominpas met Afrikaans Eerste Addisionele Taal Gr. 4-7. Midrand: LAPA Uitgewers.
Fouché-Karsten, N. 2025. Nie almal kan hoofleiers wees nie: die ander werkwoorde in jou sin (https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/blogs-grammatika/1108:nie-almal-kan-hoofleiers-wees-nie-die-ander-werkwoorde-in-jou-sin)
Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.
VivA. 2025. Die betekenis van hulpwerkwoorde van modaliteit (wyse): https://viva-afrikaans.org/media/acfupload/die_betekenis_van_hulpwerkwoorde_van_modaliteit_wyse.pdf Datum van gebruik: 22 September 2025.












