Die definiëring van die term “samestellende afleiding”
Die taalkundig korrekte beskouing van ’n samestellende afleiding is die volgende (ek haal prof. Gerhard van Huyssteen woordeliks aan): “Samestellende afleiding (ook genoem woordgroepafleiding; in Engels ‘synthetic compounding’) is ’n gespesialiseerde proses van afleiding en kan gedefinieer word as die proses waardeur ’n nuwe woord gevorm word as samestelling deur middel van afleiding plaasvind.”
’n Duidelike voorbeeld in Afrikaans is die woord “indiensneming”. Dit kan nie verstaan word as ’n sekwensiële afleiding waarin “-ing” eers met “neem” kombineer om “neming” te vorm, dan met “diens” (“diensneming”), en uiteindelik met “in” om “indiensneming” te vorm nie. In plaas daarvan word die samestelling van “in diens neem” direk deur die afleiding met “-ing” moontlik gemaak. Die vormingsproses kan voorgestel word met die volgende notasie: [[in diens neem]-ing]. Die term “samestellende afleiding” verwys nie net na die woordvormingsproses nie, maar word soms ook gebruik om die eindproduk self (die komposisiestruktuur, voorgestel deur die notasie) aan te dui. Die regterkantste deel van so ’n samestellende afleiding (bv. *“neming”) bestaan meestal nie as ’n selfstandige woord wat as die kern van die samestellende afleiding kan optree nie. By “indiensneming” kan ons nie sê dat “indiensneming” beteken ‘‘neming van in diens” nie. Dit is een van dié kenmerkendste eienskappe van ’n samestellende afleiding. “[A]s ’n reël sê ons dat iets ’n samestellende afleiding is wanneer die laaste deel nie ’n onafhanklike woord kan wees nie” (Van Huyssteen, 2024).
’n Vergelykbare voorbeeld in Nederlands word deur Gert Booij in sy hoofstuk “Synthetic Compounds” aangehaal:
“A clear example is the adjective blauwogig blue-eyed. There is no compound *blauwoog from which this word could have been derived, nor a derived word *ogig that could function as the head of the compound.”
Hoewel “blouoog” in Afrikaans wel as ’n selfstandige woord gebruik kan word (bv. “Dit is duidelik dat hierdie selfversekerde blouoog ook nie sal sukkel in die liefdesdepartement nie”), word *“ogig”, in ooreenstemming met Nederlands, beslis nie as ’n selfstandige woord wat as die kern van die samestellende afleiding optree, gebruik nie. Ons het reeds vroeër aangedui dat dit een van die toetse vir ’n samestellende afleiding is.
Nog voorbeelde van woorde wat deur middel van die proses van samestellende afleiding gevorm is, is onder andere “hardnekkig”, “kleinserig”, “lighoofdig” en “swaarmoedig” (WAT), asook “teraardebestelling” ([[ter aarde bestel]ing]), “besluitneming” ([[besluit neem]ing]) en “laatslaper” ([[laat slaap]er]).
Die ontleding van “swembadjie”: Samestellende afleiding of nie?
Dieselfde redenasie geld egter nie vir ’n woord soos “swembadjie” nie. Ja, hier is ook twee stamme (naamlik “swem” en “bad”) en ’n suffiks (naamlik “-jie”), maar die proses waarvolgens hierdie woord gevorm word, verskil van “indiensneming”.
Ek gebruik die volgende skematiese uiteensetting van prof. Gerhard van Huyssteen om die vorming van “swembadjie” uit te beeld. Lees dit van onder na bo.

Figuur 1: Woordvorming van “swembadjie” (Van Huyssteen, 2017:181)
Hoe verloop hierdie proses?
- Eers stel die stamme “swem” (’n werkwoord) en “bad” (’n naamwoord) saam om die samestelling “swembad” te vorm. Werkwoorde en naamwoorde vorm dikwels samestellings – vergelyk in hierdie verband die 2017-AWS: 15.3.[1]
- Hierna verbind “swembad” met die verkleiningsuffiks “-jie” om “swembadjie” (’n naamwoord), heel bo in figuur 1, te vorm.
Wanneer studente ’n woordvormingproses aan “swembadjie” moet toeken, kan hulle redeneer dat afleiding (met behulp van “-jie”) van ’n reeds bestaande samestelling (naamlik “swembad”) plaasgevind het. Morfoloë verwys na die eindproduk “swembadjie” as ’n “afgeleide samestelling” (of “afgeleide kompositum”).
So ’n klassifikasie gee te kenne dat samestelling nie as gevolg van afleiding plaasgevind het nie (soos in die geval van samestellende afleiding), maar dat opeenvolgende prosesse tersaaklik is.
Dit laat vrae soos die volgende ontstaan:
- Watter ander woord word op dieselfde wyse as “swembadjie” gevorm?
- Hoe benader die NSS-paneellede woorde soos “swembadjie”?
- Watter kriteria kan gebruik word om te bepaal of iets ’n samestellende afleiding is, al dan nie?
Jy gaan die volgende blog moet lees om meer uit te vind. 🤓
VivA-groete
Nadine
Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

Bronnelys
Algemeen Nederlands Woordenboek. s.a. ziekte. https://anw.ivdnt.org/article/ziekte Datum van gebruik: 22 Januarie 2026.
AWS. 2017. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 11de herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.
Booij, G. 2015. Synthetic compounds. https://taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-13998813295988456 Datum van gebruik: 26 Jan. 2026.
Van Huyssteen, G. 2017. Morfologie. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N., reds. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. 2de uitg. Pretoria: Van Schaik. pp. 177-214.
Van Huyssteen, G. 2024. Eienskappe van samestellende afleidings. [WhatsApp-korrespondensie]. 18 Mrt.
Taalversorging
Annamarie Steenekamp
[1] Addisionele voorbeelde hiervan is “baaikostuum”, “breekyster”, “drinkjogurt”, “eetgoed”, “gloeilamp”, “kleefpapier”, “kookwater”, “smeerkaas” en “snykant” (vgl. die 2017-AWS: 15.3).












