Die ontleding van “kindersiektes”: Samestellende afleiding of nie?
Die woord “kindersiektes” bestaan uit meer as een stam (naamlik “kind” en “siek”) en agtervoegsels/suffikse (naamlik “-te” en “-s”). Die blote teenwoordigheid van meer as een stam en een of meer agtervoegsels/suffikse impliseer nie noodwendig dat die woord deur die proses van samestellende afleiding gevorm is nie.
Bestudeer figuur 1 wat die tersaaklike woordvormingsprosesse visueel uitbeeld, en lees dit van bo na onder.

Figuur 1: Woordvormingsprosesse van “kindersiektes” (Selfgegenereer met Canva)
Soos uit figuur 1 blyk, is die woord “kindersiektes” in die eerste plek ’n afleiding met die agtervoegsel/suffiks “-s” van die reeds bestaande samestelling “kindersiekte”.
Voordat afleiding van hierdie reeds bestaande samestelling plaasgevind het, het die stamme “kind” en “siekte” met behulp van die verbindingsklank/interfiks “-er-” saamgestel om die samestelling “kindersiekte” te vorm.
Natuurlik is dit moontlik om “siekte” verder te ontleed. Die woord “siekte” is immers ’n afleiding van “siek” (adjektief) met die agtervoegsel/suffiks “-te”. Omdat “-te” van die adjektief “siek” ’n naamwoord maak, is “-te” se funksie dié van ’n naamwoordvormer (ook bekend as ’n substantiveerder).
Wanneer daar spesifiek op “kindersiektes” gefokus word, bepaal ’n mens slegs die woordvormingsproses wat daarop betrekking het – in hierdie geval ’n afleiding (met “-s”) van ’n reeds bestaande samestelling (“kindersiekte”). Alternatiewelik kan jy sê dit is ’n afgeleide samestelling, net soos “swembadjie”.
🤔 Hoe moet leerders op skoolvlak die morfologiese ontleding van so ’n woord benader?
Lede wat op die Nasionale Senior Sertifikaat-paneel dien, verwag dat kandidate in die eindeksamen so ’n woord as ’n samestelling met ’n agtervoegsel/suffiks moet klassifiseer. Dié paneel redeneer soos volg oor spesifiek “kindersiektes”:
“Ons sou dit verkeerd gemerk het as ’n kandidaat dit as ’n samestellende afleiding beskou op grond van die ‘-er-’ wat ons as ’n verbindingsklank beskou, sowel as die fleksiemorfeem aan die einde.”
Ek stem saam met die NSS-paneel dat ’n verbindingsklank ’n kenmerk van ’n samestelling, nie ’n samestellende afleiding nie, kan wees (bv. "afskeidsgeskenk, denneboom en "studentenommer), maar in talle woorde word geen verbindingsklanke gebruik nie (bv. "aanloopbaan" en "aartappeloes"), terwyl die gebruik daarvan in ander woorde weer van die gebruiker se oordeel afhang (bv. "werkwinkel" of "werkswinkel").
Waarmee ek nie saamstem nie, is hulle redenasie dat afgeleide samestellings slegs met behulp van fleksiemorfeme, ’n spesifieke tipe agtervoegsel/suffiks, gevorm word.
- Dink aan die voorbeelde “boekrakagtig” en “natuurkunde”.
- Die woorde “boekrak” en “natuurkunde” word onderskeidelik uit “boek” en “rak”, en “natuur” en “kunde” saamgestel.
- Hierna word ’n afleidingsmorfeem, nie ’n fleksiemorfeem nie, onderskeidelik “-agtig” en “-ig”, bygevoeg.
- Hierdie woorde is daarom ook afleidings van ’n reeds bestaande samestelling, oftewel ’n afgeleide samestelling, of ’n samestelling met ’n agtervoegsel/suffiks, die etiket wat deur die NSS-paneel verkies word.
Die tipe agtervoegsel/suffiks (fleksiemorfeem/afleidingsmorfeem) bepaal dus nie of iets ’n afleiding van ’n reeds bestaande samestelling (afgeleide samestelling / samestelling met agtervoegsel/suffiks) is nie.
Hoe word (i) samestellende afleidings van (ii) afleidings van reeds bestaande samestellings onderskei?
Morfologie gaan nie noodwendig net oor bou (d.w.s. komponentstrukture/woorddele/morfeme) nie. Dit handel ook oor die wyse van komposisie (d.w.s. hoe hierdie komponentstrukture met mekaar verbind), volgens professor Gerhard van Huyssteen, dié morfologiekenner.
Met hierdie siening in gedagte stel ek die volgende eienskappe voor om (i) ’n samestellende afleiding van (ii) ’n afleiding van ’n reeds bestaande samestelling (afgeleide samestelling / samestelling met agtervoegsel/suffiks) te onderskei:
(i) Samestellende afleiding:
- Twee woorddele verbind as gevolg van ’n agtervoegsel/suffiks wat gebruik word.
- Die regterkantste deel kan nie as ’n selfstandige woord gebruik word nie.
(ii) Afleiding van ’n reeds bestaande samestelling (afgeleide samestelling / samestelling met agtervoegsel/suffiks)
- Dit is ’n afleiding van ’n reeds bestaande samestelling, met ander woorde die samestelling word eers gevorm, waarna ’n agtervoegsel/suffiks bygevoeg word.
- Die agtervoegsel/suffiks kan ’n fleksiemorfeem of afleidingsmorfeem wees.
- Dikwels, nie altyd nie, is ’n verbindingsklank gebruik.
Die NSS-paneellede sê dat sekere skoolhandboekreekse teenstrydige inligting gee en dat dit tot die verwarring oor samestellende afleidings bydra. Hulle wys ook daarop dat sekere onderwysdepartemente woorde soos “swembadjie” en “kindersiektes” verkeerdelik as samestellende afleidings klassifiseer. Dit dra óók tot grootskaalse verwarring by.
Die skoonheid van woorde is nie net opgesluit in wát ons sien nie, maar ook in die strukturering daarvan.
VivA-groete
Nadine
Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

Bronnelys
Etymologiebank. s.a. -te. https://etymologiebank.nl/trefwoord/te4#ewn Datum van gebruik: 26 Januarie 2026.
Van Huyssteen, G. 2017. Morfologie. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N., reds. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. 2de uitg. Pretoria: Van Schaik. pp. 177-214.
Nasionale Senior Sertifikaat-paneel. 2025. Die benadering van die samestellende afleiding in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen [WhatsApp-korrespondensie]. 31 Oktober 2025.
Taalversorging
Annamarie Steenekamp












