Só ’n uitspraak van die eu-klank /ø/[i], waar die mond stil in een posisie bly, is al by enkele deelnemers waargeneem. ’n Voorbeeld van so ’n deelnemer was ’n dame wat in Nederland gebore is en op 15-jarige ouderdom SA toe gekom het. Sy het deel gevorm van ’n Nederlands-Afrikaans-navorsingsprojek wat Wikus Pienaar (VivA se taaltegnoloog) saam met prof. Daan Wissing, proff. Mia le Roux en Salomé Geertsema (Departement Spraak-, Taalpatologie en Oudiologie, Universiteit van Pretoria) en Marc van Oostendorp (Radboud Universiteit, Nijmegen) onderneem het. Luister na hierdie klankgreep.
Bestudeer nou figuur 1 hier onder. Dit lyk vreemd, nè? Moenie bekommer nie! Ons gaan nou verduidelik wat jy sien. Jy kyk na die deelnemer na wie hier bo verwys is se uitspraak van die woord “reus”. Dit word met behulp van ’n spektogram (met formantspore) uitgebeeld.
Die middelste deel, gemerk /ø/, is die eu-klank in “reus”. As ’n vokaal lank is, vat dit meer tyd om uit te spreek. Kan jy sien dat /ø/ in die spektogram ’n breër horisontale stuk beslaan? Dit wys vir ons dat /ø/ wel ’n lang vokaal is.

Figuur 1: Uitspraak van die woord “reus”
Kyk in die spektrogram na die gedeelte wat met groen omraam is. Kyk nou na die lyne in hierdie blokkie wat deur die rooi kolletjies gevorm word en gemerk is as F1 en F2. As die rooi lyne min op en af beweeg, is dit ’n stabiele klank, oftewel monoftong. As die rooi lyne duidelik op of af beweeg, dui dit op ’n verglyding van die betrokke vokaal. Wat ons in figuur 1 opmerk, is ’n duidelike afwesigheid van betekenisvolle beweging, wat daarop dui dat hierdie spreker die vokaal /ø/ as ’n monoftong produseer.
- Is die eu-klank altyd ’n monoftong?
Pienaar en Le Roux noem reeds in 1927: “in die binnelande word die ø: uitgespreek as diftong”. Verder skryf Wissing (2020) op Taalportaal dat /e/ (e-klank) en /ø/ (eu-klank) vandag hoofsaaklik ’n diftongkarakter, oftewel tweeklankkarakter, in die oorgrote meerderheid van Afrikaanse variëteite toon.
Let wel dat hier nie gesê word hierdie vokale verander na diftonge nie. Deesdae het dit net ’n tweeklankkarakter. Met ander woorde, /e/, /ø/ en /o/ word in hedendaagse spraak deur verglyding gekenmerk, sodat ons daarna as “gediftongeerde lang vokale” verwys; nie diftonge nie.
Die volgende vraag is: Word hierdie drie vokale deesdae áltyd as lang gediftongeerde vokale uitgespreek? Daar is na ’n klomp opnames geluister en ons kon nie ’n opname identifiseer waar hierdie klanke nie gediftongeerd uitgespreek word nie.
Om te illustreer dat /e/ en /ø/ deesdae tipies verglyding ondergaan en as gediftongeerde lang vokale uitgespreek word, kan die formantgrafieke hier onder, geskep deur prof. Daan Wissing en gepubliseer op Taalportaal, bestudeer word. Jy wonder seker wat ’n formantgrafiek is? Toemaar, ons verduidelik dit baie mooi net onder die figuur.

Figuur 2: Formantgrafieke
’n Formantgrafiek is in wese ’n “klankkaart” wat presies meet wat in jou mond gebeur, terwyl jy ’n klank van begin tot einde uitspreek (tydsverloop van links na regs). Die gekleurde lyne wys die eggo’s of resonansies in jou mond wat direk gekoppel is aan waar jou tong is:
- Die onderste oranje lyn: Dit wys die vertikale beweging (hoe oop jou mond is of hoe hoog jou tong is).
- Die middelste groen lyn: Hierdie lyn wys die horisontale beweging van die tong (hoe ver jou tong na voor of na agter in jou mond is).
In hierdie grafieke van Wissing is die oranje lyn redelik gelyk. As ’n mens na die groen lyn by beide die /e/ (links) en die /ø/ (regs) kyk, sien ’n mens iets baie belangriks: In plaas daarvan om ’n reguit, plat lyn te wees (wat sou beteken jou mond staan heeltemal stil in een posisie), begin daardie lyn in die tweede helfte afwaarts duik. Daardie kurwe is die harde, wetenskaplike bewys dat hierdie klanke gediftongeer word. Jou tong en spraakorgane is fisiek besig om na ’n nuwe posisie (meer na agter) te gly, terwyl jy die klank sê. Hoewel /e/ en /ø/ in die teorie as ’n lang vokaal bekend staan, maak die mond tog twee bewegings en word /e/ en /ø/ (asook /o/) as gediftongeerde lang vokale beskou.
- Die onderskeid tussen diftonge en gediftongeerde lang vokale
As /e/ en /ø/ ’n diftong- of tweeklankkarakter het, beteken dit nie ons klassifiseer dit as diftonge nie. Sulke gediftongeerde lang vokale moet van diftonge, as afsonderlike klankkategorie, onderskei word.
Hier onder word ’n onderskeid tussen “ware diftonge” (bv. ui-klank /œy/, aai-klank /ai/) en “gediftongeerde lang vokale” getref.
3.1 Ware diftonge
Diftonge het twee verpligte teikens. Jy móét by punt A begin en by punt B eindig. As jy nie daardie reis voltooi nie, bestaan die klank nie.
Kyk na figuur 3, ’n vokaalkaart, hier onder. Die pyltjies demonstreer die verpligte glybeweging van ware diftonge. Vir die ui-diftong (aangedui as /œy/) is dit duidelik sigbaar hoe die spraakorgane vanaf ’n sentrale vokaalposisie oor ’n lang afstand móét beweeg na ’n hoër teiken (/i/, oftewel die ie-klank) om die diftong of tweeklank suksesvol te kan vorm.

Figuur 3: ’n Vokaalkaart gebaseer op gemiddelde formantwaardes wat die artikulatoriese “reis” van klanke aandui
Die woord “muis” kan nie sonder die uh-klank /oe/ en ie-klank /i/ uitgespreek word nie. Beide klanke móét uitgespreek word. By ’n ware diftong is die verglyding dus noodsaaklik vir begrip van die woord; anders sal “muis” verkeerdelik as iets soos / in die rigting van “mus” uitgespreek en geïnterpreteer word.
3.2 Gediftongeerde lang vokale
Daarenteen het gediftongeerde lang vokale (bv. eu-klank /ø/; ee-klank /e/; o-klank /o/) slegs een verpligte teiken (die geronde, middelhoë posisie, hetsy voor in die mond in die geval van “eu” /ø/; “ee” /e/, en agter in die mond in die geval van “oo” /o/). Dit word met oranje in figuur 4 aangedui.

Figuur 4: Posisie van eu-klank /ø/; ee-klank /e/; o-klank /o/ (Coetzee 2018:55)
Die feit dat hierdie klanke na ’n ih-klank /ə/ (in rooi) vergly, is nie deel van die klank se amptelike identiteit (of ideosinkratiese eienskappe) nie. Die spraakorgane ontspan bloot teen die einde van die lang klank. Dit is dus ’n meganiese gewoonte van Afrikaanse sprekers. Probeer die woord “neus” sonder enige verglyding uitspreek, soos in die klankgreep waarna jy geluister het. Dit bly steeds “neus”.
- ’n Laaste belangrike vraag
Moet onderwysers steeds die eu-klank /ø/; ee-klank /e/; o-klank /o/) as vokale onderrig? Ja, want dit voldoen 100% aan formele grammatika. Hierdie klanke het net ’n tweeklankkarakter, maar dit is nie diftonge nie. Gebruik gerus die inligting in afdeling 3.2 om die aard van hierdie vokale vir leerders te verduidelik.
VivA-groete
Wikus Pienaar en Nadine Karsten
Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

[i] / / dui fonologiese ontleding aan, d.w.s. die abstrakte klanksisteem of foneem in die brein (breë konsep), terwyl [ ] tipies die fonetiese transkripsie aandui, d.w.s. die fisieke, meetbare klank wat deur die spraakorgane geproduseer word. In hierdie blog gebruik ons konsekwent / /, omdat ons aanvanklik vanuit ’n fonologiese perspektief begin skryf het, al het ons op enkele plekke na klankrealisering deur spesifieke sprekers verwys.
Bronnelys
Coetzee, A.E. 2018. Fonetiek. 5de uitg. Pretoria: Van Schaik.
Le Roux, T. H. & De Villiers Pienaar, P. 1927. Afrikaanse fonetiek. Kaapstad: Juta.
Wissing, D. 2020. The diphthongised long vowels /e/, /ø/ and /o/. Taalportaal. Beskikbaar by:
https://taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-14613250677784554.
Taalversorging
Annamarie Steenekamp












