Inleiding
Die kort antwoord is: Vanuit die perspektief van taalkundenavorsing is albei woordvolgordes korrek en sou dit ook as sodanig in die Afrikaans Huistaal-klaskamer benader kon word.
Vir addisioneletaalvlak, waar die NSS-paneel en merksentrums strenger ten opsigte van woordvolgordekwessies is, sal “Die mense hou een maal ’n maand piekniek onder die boom” moontlik geskikter wees.
Bespreking
Die sin “Die mense hou een maal ’n maand piekniek onder die boom” bestaan uit ’n subjek/onderwerp (naamlik “Die mense”) en ’n gesegde (naamlik “hou een maal ’n maand piekniek onder die boom”), wat verder ontleed kan word as bestaande uit ’n predikaat, die verpligte deel van die gesegde (naamlik die werkwoordgedeelte “hou”, en die direkte objek “piekniek”), asook twee bywoordelike bepalings (naamlik “een maal ’n maand” en “onder die boom”). Die direkte objek en bywoordelike bepaling "onder die boom" is die fokus van die res van hierdie blog.
Wat gebeur op skoolvlak?
Op skoolvlak word die STOMPI-riglyn in die klaskamer gebruik. Hierdie riglyn of templaat beveel ’n baie spesifieke sinsvolgorde aan, onder andere dat die direkte objek vóór ’n bywoordelike bepaling wat plekaanduidend is, moet staan. Kyk gerus die volgende video, indien jy nie met STOMPI vertroud is nie: https://www.youtube.com/watch?v=B_p2jget69E. Tog dui een van die Nasionale Senior Sertifikaat-paneellede aan dat sowel “Die mense hou een maal ’n maand piekniek onder die boom” en “Die mense hou een maal ’n maand onder die boom piekniek” as korrek in die eindeksamen aanvaar sou word én dat ’n kandidaat nie noodwendig benadeel sou word, indien die direkte objek ná die bywoordelike bepaling staan en teenstrydig met die STOMPI-riglyn is nie.
Geld dieselfde siening dan vir addisioneletaalvlak? Dieselfde NSS-paneellid sê in hierdie verband die volgende: “Dit is egter belangrik om daarop te wys dat strenger konvensies met betrekking tot sinstruktuur en woordorde gewoonlik die norm binne addisioneletaalonderrig is. Addisionele Taal-leerders word doelbewus geleer om sinne volgens ’n vaste en herkenbare raamwerk saam te stel ten einde begrip en korrektheid te bevorder. Teen hierdie agtergrond is dit dus te verstane dat addisioneletaalleerders eerder by die voorgestelde en meer eksplisiete sinstruktuur hou. Die woordvolgorde ‘Die mense hou een maal ’n maand piekniek onder die boom’ sou gevolglik vir die EAT-konteks as meer gepas beskou word.”
Wat sê taalkundenavorsing hieroor?
Prof. Bertus van Rooy (2024:312) maak die volgende belangrike stelling: “[T]here is a reasonable degree of freedom for the ordering of adverbials relative to one another, and also relative to the obligatory elements of the clause.” Met ander woorde, bywoordelike bepalings (“adverbials”), soos “een maal ’n maand” en “onder die boom”, kan wissel in hulle plasing, selfs al word ander verpligte (“obligatory”) sinsdele, soos die direkte objek “piekniek”, in die sin gebruik. Hierdie stelling impliseer dat die direkte objek (naamlik “piekniek”) dan selfs ná “onder die boom” kan staan.
Die posisionele beweeglikheid van sinsdele word ook bevestig deur die voorbeelde wat prof. Jak Conradie gee (sien voorbeeld 1 en 2 hier onder).
- “Hulle sê dat Albert die nuwe rekenaar waarskynlik gaan gebruik.”
- “Hulle sê dat Albert waarskynlik die nuwe rekenaar gaan gebruik.”
Hy verduidelik dat die direkte objek “die rekenaar” voor die bywoordelike bepaling “waarskynlik” staan wanneer dit na ’n bepaalde rekenaar waarmee die spreker bekend is, verwys (sien voorbeeld (1)). Dit is met ander woorde bekende inligting. Die direkte objek staan egter ná die bywoordelike bepaling wanneer dit nuwe inligting bied: Albert kies om spesifiek van hierdie rekenaar gebruik te maak (sien voorbeeld 2).
By voorbeeld 1 en 2 vra ’n mens in wese verskillende vrae oor die betrokke rekenaar, wat op die betekenisnuanse van hierdie twee sinne dui:
- By voorbeeld 1: Wat gaan Albert met die nuwe rekenaar maak?
- By voorbeeld 2: Watter apparaat gaan Albert gebruik?
Na analogie van die “rekenaar”-voorbeelde, waar die posisie van die direkte objek (“die nuwe rekenaar”) beïnvloed word deur die inligtingstatus (bekende teenoor nuwe inligting), kan ’n soortgelyke verklaring vir die “piekniek”-voorbeelde voorgestel word.
- In “Die mense hou een maal ’n maand piekniek onder die boom” kom “piekniek” vroeër in die sin as die bywoordelike bepaling “onder die boom” voor. Dit kan gelees word, asof die aktiwiteit van piekniek hou die fokus is en die piekniek bekende inligting is. Die bywoordelike bepaling “onder die boom” voorsien waarskynlik addisionele omstandigheidsinligting. Met hierdie konstruksie word die volgende vraag beantwoord: “Wat doen hulle?”
- In “Die mense hou een maal ’n maand onder die boom piekniek” verskyn“piekniek” ná die bywoordelike bepaling wanneer dit nuwe inligting bied. Met hierdie konstruksie beantwoord ons die volgende vraag: “Wat is dit wat onder die boom gebeur / gehou word?”
Ander interessante inligting
Die opsig waarin die taalkundenavorsing en die STOMPI-riglyn, waarna vroeër verwys is, wel ooreenstem, is die feit dat bywoordelike bepalings wat op tyd dui, tipies voor bywoordelike bepalings wat plekaanduidend is, geplaas word, veral wanneer albei bywoordelike bepalings in die middelveld voorkom. Dit is met ander woorde korrek om “een maal ’n maand” vóór “onder die boom” te skryf.
Sou dieselfde bywoordelike bepalings byvoorbeeld ná die werkwoord in die tweede werkwoordgleuf (hier onder onderstreep) staan, sou hulle plekke omruil.
- “Ferdinand vertel hoe hy en Lex fisante geskiet het {PLEK op pad fontein toe} {TYD dié middag}.”
Vriendelike groete
Nadine
Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

Bronnelys
Conradie, Jac. 2020. Nominal argument shift. Taalportaal. https://taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-20200224173916316. Datum van toegang: 5 Februarie 2026.
NSS-paneellid. 2026. Die plasing van die bywoordelike bepaling in verhouding tot die direkte objek. [WhatsApp-korrespondensie.] 4 Febr., aanlyn.
Van Rooy, B. 2024. Afrikaans syntax: An empirical overview. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N., reds. Afrikaans Linguistics: Contemporary Perspectives. Stellenbosch: Sun Press. pp. 261-324.
Taalversorging
Annamarie Steenekamp












