TEKEN AAN OF REGISTREER OM 'N SOEKTOG UIT TE VOER

DIE VIRTUELE INSTITUUT VIR AFRIKAANS

    Afdelings
    VivA Algemeen
    VivA Akademies
    VivA Taalpraktyk
    VivA Onderwys
    VivA Uitgewers
    VivA Tegnologie
     
    VivA Weldoener
     
    Viva Uitgewers

    Ons bring die digitale biblioteek na jou toe

    VivA Uitgewers Aanlyn VivA Uitgewers Dis in die soen

    Lees die nuutste boeke op VivA-Uitgewers

     

    Ekstra inligting

    Vir sommige taalkundiges is dit problematies om eet ’n onoorganklike hoofwerkwoord in voorbeeld 1, en ’n oorganklike hoofwerkwoord in voorbeeld 2 te noem, want dit voldoen volgens hulle nie aan die definisie van hierdie hoofwerkwoorde nie. Dit is nie vir hulle heeltemal onoorganklik in voorbeeld 1 nie, want dit kan saam met ’n direkte objek, soos in voorbeeld 2, gebruik word. Dit is nie vir hulle heeltemal oorganklik in voorbeeld 2 nie, want dit kan weer sonder ’n direkte objek, soos in voorbeeld 1, gebruik word. Taalkundiges wat só redeneer, verkies om ’n ekstra kategorie hoofwerkwoorde te hê, naamlik ambitransitiewe hoofwerkwoorde. Alle hoofwerkwoorde wat onoorganklik én oorganklik gebruik kan word, word deur hierdie taalkundiges in dié kategorie geplaas. Die woorddeel “ambi-” beteken ‘beide, albei’.

    Op skoolvlak (en in VivA se Afrikaansgrammatika) onderskei ons nie so ’n kategorie nie. ’n Hoofwerkwoord word op grond van sy gebruik in die sin as onoorganklik of oorganklik geklassifiseer, al kan ons ’n situasie voorstel waar dit op ’n ander wyse (d.w.s. oorganklik of onoorganklik) gebruik kan word.

     

    Die betekenis van hoofwerkwoorde is een van die eienskappe wat daartoe bydra dat dieselfde hoofwerkwoord sowel oorganklik as onoorganklik gebruik kan word.

    Onthou, elke hoofwerkwoord het nie noodwendig een betekenisonderskeiding nie. Sommige hoofwerkwoorde het verskillende, maar verwante betekenisse, met ander woorde hulle is poliseme. Die woorddeel “poli-” beteken ‘baie’. Een van hulle betekenisonderskeidings word dalk met ’n direkte objek geassosieer (wat die hoofwerkwoord oorganklik maak), terwyl ’n ander betekenisonderskeiding weer nie met ’n direkte objek geassosieer word nie (wat die hoofwerkwoord onoorganklik maak).

    Dink aan ruik as voorbeeld. Hierdie poliseem het die volgende verwante betekenisse volgens die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek:

    1 ‘met jou neus waarneem’
    2 ‘’n reuk afgee’
    3 (figuurlik) ‘vermoed’

    Wat ’n mens hier bo waarneem, is dat wanneer ruik die betekenis ‘met jou neus waarneem’ uitdruk, ’n mens dadelik IETS wil aandui wat met die neus waargeneem word. Met ander woorde, ’n mens wil ’n direkte objek saneus_oorganklik.pngam met die hoofwerkwoord ruik gebruik, soos in Ek [ruik die see].

    Dieselfde geld vir die figuurlik gebruikte ruik met die betekenis ‘vermoed’. IETS moet vermoed word, soos in Hy [ruik ’n omkopery].

    In so ’n geval word albei hierdie betekenisonderskeidings met oorganklikheid geassosieer.

    Stink.pngAan die ander kant verwag ’n mens nie dat ruik wat ‘onaangename reuk afgee’ beteken, saam met ’n direkte objek gebruik moet word nie. Ons sal eerder sê: Die vrot vleis ruikHierdie betekenis/betekenisonderskeiding van ‘reuk afgee’ word met onoorganklikheid geassosieer.

     

     Dink ook aan ons voorbeelde met eet aan die begin van hierdie blog. Die hoofwerkwoord eet is ’n poliseem, want dit het die volgende verskillende, maar verwante betekenisse:

    1 ‘voedsel deur die mond inneem’
    2 ‘’n maaltyd gebruik’appel_oorganklik.png

    Wanneer die poliseem eet die betekenis ‘voedsel deur die mond inneem’ uitdruk, wil ’n mens dadelik IETS aandui wat ingeneem word. Met ander woorde, ’n mens wil ’n direkte objek saam met die hoofwerkwoord eet gebruik, soos in Die seun [eet ’n appel].

    Aan die ander kant het eet nie altyd ’n direkte objek nodig nie. In ’n sin soos Hulle eet twee maal per dag gaan dit bloot oor die handeling van eet in die algemeen en nie oor wát geëet word nie. Daarom word geen direkte objek saam met eet gebruik nie. In sulke gevalle tree die hoofwerkwoord onoorganklik op.

    Net so is polisemie ook ter sprake by ’n hoofwerkwoord soos hang. Dit het verskeie, verwante betekenisse, hoewel ek net twee hier onder noem:

    1 ‘om iets te plaas in ’n posisie, sodat die bokant geheg/vasgemaak is, terwyl sy eie gewig na onder gestrek is, maar nie val nie’
    2 ‘om in ’n posisie te wees waar die bokant geheg/vasgemaak is, terwyl sy eie gewig na onder gestrek is, maar nie val nie’

    Wat ’n mens hwasgoed_oorganklik.pngier bo waarneem, is dat wanneer hang betekenis 1 uitdruk, wil ’n mens die IETS aandui wat in hierdie posisie geplaas word. Met ander woorde, ’n mens wil ’n direkte objek saam met die hoofwerkwoord hang gebruik, soos in Sy [hang die wasgoed] aan die draad.

    Aan die ander kant verwag ’n mens nie dat hang wat betekenis 2 uitdruk, gebruik mohang_onoorganklik.pnget word saam met ’n direkte objek nie, soos in Die wasgoed hang aan die draad. Hierdie betekenisonderskeiding word met onoorganklikheid geassosieer.

     

    Wat interessant van die hang-voorbeeld is, is dat die direkte objek in Sy [hang die wasgoed] aan die draad die subjek is van die sin Die wasgoed hang aan die draad. Daar is ’n hele paar hoofwerkwoorde wat, net soos hang, poliseme is en deur so ’n patroon gekenmerk word. Thys gee vir ons bykomende voorbeelde hier onder.

    Thys_oorganklik_nuut.png

    Homonimie is ’n ander rede waarom bepaalde hoofwerkwoorde beide oorganklik en onoorganklik gebruik kan word (Van Schoor 1983:188). Sommige hoofwerkwoorde is homonieme van mekaar, met ander woorde hulle is woorde wat toevallig dieselfde vorm (klank- en spelvorm) het, maar verskillende betekenisse kommunikeer. Dit veroorsaak dat die een lid van die homoniempaar oorganklik gebruik word, terwyl die ander lid van die homoniempaar onoorganklik gebruik word. Dink aan sweer. Wanneer sweer die betekenis ‘ontsteek wees’ kommunikeer, skep dit nie die verwagting dat ’n direkte objek saam met dit gebruik moet word nie, soos in Die wond sweer. Indien sweer egter ‘’n plegtige belofte’ beteken, verwag ’n mens dat daar aangedui word WAT gesweer word, soos in Ek sweer dat die artikel deur ’n skoolkind geskryf is, waar ’n bysin ingelei deur dat die direkte objek (die WAT) is.

     

    Die manier waarop jy ’n sin bou (d.w.s. sinskonstruksie), kan ook ’n onoorganklike hoofwerkwoord dwing om oorganklik te word. Jy kan sê Ek praat (onoorganklik), waar praat bloot die betekenis ‘woorde uiter’ het. Die oomblik wat jy byvoorbeeld doof byvoeg as ’n element wat ’n eindtoestand benoem, kan daardie eindtoestand nie in die lug hang nie. Dit moet aan ’n entiteit gekoppel word. Daarom voeg ons ’n direkte objek (soos my) in: Ek praat my doof, in plaas van die onkonvensionele *“Ek praat doof. Die veranderde konstruksie dra daartoe by dat praat se betekenis van ‘woorde uiter’ na ‘maak/veroorsaak’ verander: Ek praat só baie dat ek veroorsaak dat ek doof word. Weens die veranderde konstruksie word praat nou oorganklik[1] gebruik.

     

    Onoorganklike hoofwerkwoorde kan ook in konstruksies gebruik word waar die betekenis van die hoofwerkwoord herhaal. In so ’n geval is die hoofwerkwoord nie meer onoorganklik nie, maar oorganklik.

    • Voorbeeld 3: Sy droom. [onoorganklik]
    • Voorbeeld 4: Ek droom mooi drome. [oorganklik]
    • Voorbeeld 5: Hy slaap. [onoorganklik]
    • Voorbeeld 6: Hy slaap die slaap van die regverdige. [oorganklik]

     

    Ontwikkeling in taal speel laastens ’n rol dat dieselfde hoofwerkwoord oorganklik en onoorganklik gebruik word. Lees die volgende voorbeelde:

    • Voorbeeld 7: Die uitgewers verkoop die boek soos soetkoek. / Die boek word soos soetkoek verkoop. [oorganklik]
    • Voorbeeld 8: Die boek verkoop soos soetkoek. [onoorganklik]

     In hierdie voorbeelde het ’n verandering plaasgevind waar verkoop in voorbeeld 7 as ’n oorganklike hoofwerkwoord in die aktief (bedrywende vorm) en die passief (lydende vorm) gebruik word, terwyl dit in voorbeeld 8 as ’n onoorganklike hoofwerkwoord gebruik word. Wat het in voorbeeld 8 gebeur? In hierdie sin word verkoop eerder gebruik om te dui op die proses.

     

    VivA-groete

    Nadine

     

    Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

    AON.png

    Bronnelys

    Chalker, S. & Weiner, E. 1998. Oxford Dictionary of English Grammar. Oxford: Oxford University Press.

    De Villiers, M. 1975. Die semantiek van Afrikaans. Kaapstad: Hollandsch Afrikaansche Uitgevers Maatscappij.

    Englicious. S.J. Direct objects. http://www.englicious.org/lesson/direct-object Datum van gebruik: 5 April 2024.

    Haeseryn, W., Romijn, K., Geerts, G., De Rooij, J. & Van den Toorn, M. 1997. 2.2.3 Overgankelijke (transitieve) en onovergankelijke (intransitieve) werkwoorden (versie 2.1). Algemene Nederlandse Spraakkunst. https://e-ans.ivdnt.org/topics/pid/ans020203lingtopic.

    Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.

    Van Rooy, B. 2017. Afrikaanse sintaksis, funksioneel benader. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N., eds. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik. pp. 251-297.

    Van Schoor, J.L. 1983. Die grammatika van Standaardafrikaans. Kaapstad: Lex Patria.

     

    Taalversorging

    Annamarie Steenekamp

    Maureen van Helden

    [1] Sulke oorganklike hoofwerkwoorde wat twee verpligte sinsdele het, word eintlik “kompleks oorganklike hoofwerkwoorde” genoem.