- Die siening op skoolvlak
In die Mind the Gap-hersieningsgids van Afrikaans Huistaal (DBO, 2020) word in die oefenvraestelle wat voorsien word van leerders verwag om die sin “Jy moet vandag detensie sit” in die ontkennende vorm te skryf. In die nasienriglyne word aangedui dat “Jy moet nie vandag detensie sit nie” “onaanvaarbaar” is en dat die leerders eerder “Jy moenie vandag detensie sit nie” behoort te skryf (vgl. DBO, 2020:36).
Hierdie patroon word ook waargeneem in huidige voorgeskrewe skoolhandboeke. In Piekfyn Afrikaans ’n Geïntegreerde taalteks Graad 12 Huistaal word aangedui dat ’n opdrag (bv. “Antwoord jou selfoon!”) slegs met “moenie” ontkennend gemaak kan word (bv. “Moenie jou selfoon antwoord nie!”). Dieselfde geld vir Viva Afrikaans 12 HL waar die voorbeeld “Sing die lied!” gegee word, waarvan slegs “Moenie die lied sing nie!” as die ontkennende vorm aangedui word.
In Platinum Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek word wel aangetoon “moet nie” mag gebruik word, maar alleenlik saam met woorde soos “asseblief” of “tog”, bv. “Pluk asseblief ses avokadopere” > “Moet asseblief nie ses avokadopere pluk nie”; “Kyk tog dat hulle ryp is” > “Moet tog nie kyk dat hulle ryp is nie”.
Geen eksplisiete motivering vir hierdie skoolkonvensie kon in die geraadpleegde bronne gevind word nie. Dit is wel opvallend dat dieselfde voorkeur vir “moenie” reeds in ouer grammatikabronne aangetref word. In Ons moedertaal vir standerds VII en VIII (1970) word byvoorbeeld aangedui dat die ontkennende vorm “Jy moenie ry nie” korrek is, sonder vermelding van “Jy moet nie ry nie” as moontlike alternatief. Die voorkeur vir “moenie” het dus ’n lang geskiedenis in die Afrikaansskoolgrammatika.
Dit is inderdaad so dat ouer woordeboeke, soos die Basiswoordeboek van Afrikaans (Gouws et al., 1994:252), aandui dat “moenie” (as vorm van “moet nie”) in negatiewe versoeke gebruik behoort te word, byvoorbeeld “Moenie vir hulle luister nie” en “Moenie rook nie”.
Dit beteken egter nie ons moet na hierdie een enkele bron (of ander ouer bronne) gryp om te regverdig waarom ’n sekere patroon geld nie. ’n Verskeidenheid bronne behoort geraadpleeg te word, en dit is juis wat ek in die volgende afdeling doen.
- Huidige gesaghebbende bronne
In woordeboeke wat sinchronies gerig is, dit wil sê woordeboeke wat die taal weergee soos dit nou gebruik word (vgl. Carstens, 2018:420), word die gebruik van “moet nie” nié afgekeur nie. Vergelyk inskrywings uit dié woordeboeke:
- Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal: “So iets moet nie toegelaat word nie.”
- Pharos Junior Tweetalige Skoolwoordeboek: “Jou rug moet nie vir hierdie oefening gebuig wees nie.” (Woordorde aangepas deur NK.)
- Pharos Senior Tweetalige Skoolwoordeboek: “Jy moet dit nie doen nie.”
- Verklarende Afrikaanse Woordeboek: “’n Mens moet nie met jou weldade of vrygewigheid te koop loop nie.”
Selfs in die Pharos Tweetalige Skoolwoordeboek word die voorbeeld “Moenie die deur toemaak nie; laat dit oopstaan” gebruik en in ’n nota aangedui dat “moenie” bloot ’n sametrekking van “moet nie” is. Hieruit kan ’n mens aflei dat “moenie” in die bostaande voorbeeld deur “moet nie” vervang kan word (d.w.s. “Moet nie die deur toemaak nie; laat dit oopstaan”) en steeds ’n konvensionele Afrikaanse sin is.
Ja, daar is voorbeelde, soos “Jy moet dit asseblief nie oorvertel nie” (Pharos Senior Tweetalige Skoolwoordeboek), waar “moet asseblief nie”, in ooreenstemming met sommige skoolhandboeke, gebruik word. Tog dui die bostaande voorbeelde aan dat “asseblief” nie noodwendig saam met “moet nie” moet voorkom om as ’n konvensionele konstruksie in woordeboeke ingesluit te word nie.
Iets waarop wel gewys moet word, is dat “moet nie” in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal met die etiket “minder gebruiklik” gemerk word. Ek het met dr. Gerda Odendaal, mederedakteur van die WAT, oor hierdie etiket gesels. Sy redeneer dat die etiket aan “moet nie” in die ontkennende vorm op grond van korpussoektogte toegeken is: “Ek het ’n bietjie vir jou in ons interne korpus gaan kyk (wat van vóór die 1900’s tot vandag strek), en daarin het ek 1 121 trefslae vir moet nie en 2 867 trefslae vir moenie gekry. Dit bevestig dus die minder gebruiklik-etiket. ’n Soektog in meer resente bronne (2000 tot nou) lewer die volgende trefslae op: moenie: 1 546; moet nie: 447. Dit bevestig dus selfs nog meer die minder gebruikliketiket.” Ek het self in die Taalkommissiekorpus opgemerk dat “jy moet nie” veel minder (59 keer) as “jy moenie” (215 trefslae) gebruik word. Voorbeelde van werklike taalgebruik waarin dit wel figureer, is:
- “Jy moet nie vir jou staan en bak hou met my nie, boeta.”
- “Jy moet nie te veel verwagtinge koester nie.”
- “Jy moet nie vir Tiffany onderskat nie.”
Die “minder gebruiklik”-etiket hang egter glad nie saam met “moet nie” wat taalkundig verkeerd is nie. Dr. Gerda Odendaal verwys na een moontlike rede waarom “moet nie” minder as “moenie” gebruik word en gevolglik hierdie etiket in die WAT kry: “As iets bv. vir lank op skool as ‘verkeerd’ aangedui is, gaan ’n mens mettertyd sien dat daardie woord of spelvorm minder in geskrewe tekste voorkom. Omdat ons meestal net tekskorpusse het om mee te werk, gaan die resultate dus dikwels skeefgetrek word in die rigting wat die skryftaal neig (en wat onder die invloed van die standaardtaal en normeringsbronne staan).”
Die feit dat die WAT se inskrywings op geskrewe tekste gebaseer is en dat dié tekste onder die invloed van standaardtaalkonvensies en normeringsbronne staan, dra waarskynlik daartoe by dat “moet nie” minder gereeld as “moenie” in die korpusmateriaal voorkom.
Dr. Odendaal redeneer net soos ek dat “moet nie” beslis nie “taalkundig verkeerd” is nie. Dit is ook duidelik wanneer ek ander gesaghebbende bronne raadpleeg, onder meer Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (Carstens & Bosman 2017) en Afrikaans Linguistics Contemporary Perspectives (Carstens & Bosman 2024).
- In die eerste bron beskryf prof. Bertus van Rooy die ontkennende vorm. Hy redeneer dat die vernaamste strategie vir ontkenning in Afrikaans die gebruik van die ontkenningspartikel “nie” (’n bywoord in VivA se Afrikaansgrammatika) saam met ’n werkwoord in die tweede sinsposisie (d.w.s. die werkwoord direk ná die subjek/onderwerp) is. Een van die voorbeelde wat hy gee om hierdie ontkenningstrategie in Afrikaans te illustreer is “Julle [moet nie] op julle louere rus nie”. In hakies daarna dui hy aan dat “moenie” ook in die spreek- en skryftaal gebruik word (Van Rooy, 2017:282).
- In die tweede bron, wat sewe jaar later gepubliseer is, gee prof. Bertus die voorbeeld “As jy geval het, moet jy nie bly lê nie” om die ontkennende vorm in Afrikaans te illustreer (Van Rooy, 2024:284).
Albei hierdie boekhoofstukke van prof. Bertus is op voorbeelde van werklike taalgebruik gebaseer, soos hy self verklaar: “The sketch of Afrikaans syntax in this chapter is largely descriptive, with a focus on regular patterns and their uses ...” (Van Rooy, 2024:262).
Benewens preskriptiewe bronne verskyn ontkennende sinne met “moet nie” selfs in normeringsbronne, soos Skryf Afrikaans van A-Z (Müller & Pistor, 2022). Vergelyk die volgende voorbeelde:
- “Die aanbiedings moet nie op die individuele lande nie, maar op die SAOG in die geheel gemik wees.”
- “Die vorms moet nie later nie as 10 Julie by die sekretaris van die departement ingedien word.”
Die “moet nie”-konstruksie kom selfs in die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) voor, byvoorbeeld “Vakname word in die Woordelys slegs met ’n kleinletter aangebied, maar ’n vaknaam wat met ’n hoofletter geskryf word, moet nie as ’n fout beskou word nie”. Dit is ’n bykomende bewys dat geen verbod op die gebruik van dié konstruksie bestaan nie; anders sou die Taalkommissie, die samestellers van die AWS, dit nie gebruik het nie.
Gevolgtrekking
Die feit dat hedendaagse woordeboeke, taalkundige beskrywings, normeringsbronne en korpusdata steeds voorbeelde van “moet nie” bevat, bewys dat dié konstruksie nie as taalkundig verkeerd beskou kan word nie. Ons kan hoogstens aanvoer, soos blyk uit my gesprek met dr. Gerda Odendaal en die inskrywing in die WAT, dat “moet nie” minder gebruiklik as “moenie” is.
Luister ook gerus na ’n verkorte weergawe van hierdie blog wat op 30 Junie op Radio Fynbos uitgesaai is tydens die “onsgeselsmet!”-insetsel van Karen Loots, wat deel vorm van haar Radio Fynbos-program, Die Gemeenskapsdagboek.
Vir bykomende interessante podsendings kan toegang tot die "onsgeselsmet!"-insetsel van Karen Loots verkry word, deur van die volgende skakels gebruik te maak:
- https://www.instagram.com/onsgeselsmet?utm_source=qr&igsh=MWg2MTg1eDBxZHU3Mg==
- https://www.youtube.com/@KarenLoots1
VivA-groete
Nadine Karsten
Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

Bronnelys
AWS. 2017. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 11de herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.
Buro van die WAT. 1950-2026. Aanlyn WAT. Beskikbaar by: https://www.woordeboek.co.za. Datum van gebruik: 3 Jun. 2026.
Carstens, W.A.M. 2018. Norme vir Afrikaans: Moderne Standaardafrikaans. 6de uitg. Pretoria: Van Schaik.
Departement van Basiese Onderwys. 2020. Mind the Gap Afrikaans Huistaal Graad 12 Hersieningsgids. https://taalarsenaal2.yolasite.com/resources/MTG%20HT%20HERSIENINGSGIDS.pdf Datum van gebruik: 12 Jun. 2026.
Gouws, R., Feinauer, I. & Ponelis, F. 1994. Basiswoordeboek van Afrikaans. Pretoria: Van Schaik.
Labuschagne, F.J. & Eksteen, L.C. 2010. Verklarende Afrikaanse woordeboek. Kaapstad: Pharos Woordeboeke.
Luther, J., Pheiffer, F. & Gouws, R.H., reds. 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Beskikbaar by: https://mml-hat.co.za/index.php?m=d. Datum van gebruik: 3 Jun. 2026.
Odendaal, G. 2026. Die “minder gebruiklik”-etiket by “moet nie” in die WAT. [E-poskorrespondensie]. 17 Jun.
Pharos. 2020. Pharos tweetalige skoolwoordeboek. 9de uitg. Kaapstad: Pharos.
Pharos. 2023a. Junior tweetalige skoolwoordeboek. Kaapstad: Pharos.
Pharos. 2023b. Senior tweetalige skoolwoordeboek. Kaapstad: Pharos.
Scholtz, P.W. & Vorster, M.E. 2013. Viva Afrikaans Huistaal Graad 12. Florida Hills: Viva Publishers.
Van der Merwe, C.P., Kempen, W. & Meyer, P.S. 1970. Ons moedertaal vir standerds VII en VIII. Kaapstad: NASOU Beperk.
Van Rooy, B. 2017. Afrikaanse sintaksis, funksioneel benader. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N., reds. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik. pp. 251-297.
Van Rooy, B. 2024. Afrikaans syntax: An empirical overview. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N., eds. Afrikaans Linguistics Contemporary Perspectives. Stellenbosch: African Sun Media. pp. 261-324.
Vermaak, A., Du Plessis, S., Du Toit, E., Gouws, R., Hugo, J., Janse van Rensburg, C., Julies, G., Nel, M. & Jansen van Nieuwenhuizen, I. 2013. Platinum Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek. Kaapstad: Maskew Miller Learning.
Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). 2025. Korpusportaal: Omvattend 2.7. Beskikbaar by: http://viva-afrikaans.org. Datum van gebruik: 15 Jun. 2026.
Vosloo, R., Viljoen, H., Prinsloo, B. & Stevens, H. 2013. Piekfyn Afrikaans Graad 12 Leerderboek Huistaal: ’n Geïntegreerde taalteks. Kaapstad: Best Books.
Taalversorging
Annamarie Steenekamp












