TEKEN AAN OF REGISTREER OM 'N SOEKTOG UIT TE VOER

DIE VIRTUELE INSTITUUT VIR AFRIKAANS

    Afdelings
    VivA Algemeen
    VivA Akademies
    VivA Taalpraktyk
    VivA Onderwys
    VivA Uitgewers
    VivA Tegnologie
     
    VivA Weldoener
     
    Viva Uitgewers

    Ons bring die digitale biblioteek na jou toe

    VivA Uitgewers Aanlyn VivA Uitgewers Dis in die soen

    Lees die nuutste boeke op VivA-Uitgewers

    As jy na viva-afrikaans.org gaan en op [Portale > Taalportaal] klik, beland jy op ʼn webblad waar jy reeds ʼn hele wavrag vol stukke oor die Afrikaanse fonologie (klankleer), morfologie (woordbou) en sintaksis (sinsbou) kan lees – natuurlik náás en in vergelyking met Nederlandse en Fries. Byvoorbeeld:

    • Hoekom sê ons “gehard” (klem op “hard”) maar “Gerhard”? Lees in die fonologiegedeelte oor uitsonderings op Afrikaans se sogenaamde hoofklemtoonreël.
    • Is daar ʼn verband tussen die agtervoegsel -baar (soos in “drinkbaar”) en die werkwoord “baar” (‘geboorte gee’)? In die morfologiegedeelte word hierdie agtervoegsel uitvoerig bespreek.
    • Op skool het ons geleer dat ʼn mens allerhande omskakelingstoertjies moet doen tussen die direkte en die indirekte rede. Byvoorbeeld:

    Ismail het gesê: “Vandag is dit my verjaardag.”

    moet kennelik word

    Ismail het gesê dat dit daardie dag sy verjaardag was.

    Maar gebeur dit in werklike taalgebruik, of is dit Skoolboekafrikaans? Gaan lees wat die kundiges in die sintaksisgedeelte oor die indirekte rede sê.

    As dié grammatikale kwessies vir jou ʼn hoë gaapgehalte het, hoop ek dat ʼn paar ander (newe-)aspekte van die projek jou ten minste opgewonde sal maak.

    Die grammatika word in Engels geskryf ten einde by te dra tot die internasionalisering van Afrikaans as objek van wetenskaplike navorsing. Amsterdam University Press het reeds belangstelling getoon om van die dele as boeke te publiseer, wat Afrikaans verder internasionaal onder navorsers se aandag sal bring.

    Ons het pas ook begin met aangepaste Afrikaanstalige weergawe wat veral op onderwysers en studente gerig is. Die eerste gedeelte – oor woordsoorte – sal vroeg in volgende jaar aanlyn beskikbaar gestel word. (Die Engelse en Afrikaanse dele van die projek word eers teen 2020 afgehandel.)

    Alle inligting word onder ʼn oopdatalisensie beskikbaar gestel. Enigeen kan dus die inligting vrylik gebruik om handboeke, reistaalgidse of aanleerdersboeke te skryf. En dis alles gratis, danksy die vrygewige finansiers.

    Die skrywers is van die gerekendste (en oudste? #hiehiehie) Afrikaanse taalkundiges. Om die vergrysing van die Afrikaanse taalkunde teë te werk, word jong, opkomende taalkundiges as moderatore gebruik. Boonop stel VivA jaarliks beurse beskikbaar aan voorgraadse en honneursstudente wat in taalkunde spesialiseer. Om aansoek te doen en deel te word van die opbloeiende Afrikaanse taalkunde, gaan na viva-afrikaans.org en klik op [Portale > Inligtingsportaal > Taalkundebeurs]; die sluitingsdatum is 30 November deser.

    Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 28 Oktober 2017 verskyn.

    Beeld logo