Oergermaans, ook Protogermaans genoem, is dié groep Germaanse tale wat uit die Indo-Germaanse taalfamilie ontwikkel het. Die meeste van die moderne tale wat vandag in Europa gepraat word, asook Persies en baie van die tale en dialekte wat steeds in Indië gehoor word, word deur taalkundiges almal teruggevind in die enkele oertaal wat ons Proto-Indo-Europees noem, of kortweg sommer PIE. Van PIE bestaan daar geen geskrifte of inskripsies, selfs in rots of klip nie, maar baie van die woorde en ander kenmerke van dié brontaal, ook van Afrikaans, dus, word vandag gerekonstrueer uit die dogtertale wat daaruit voortgekom het: Albanees, Armeens, Balties, Germaans, Helleens (Grieks), Hetities, Indo-Iraans (wat Persies insluit), Italies (Latyn), Kelties, Slawies en Togaars. Al hierdie tale deel verskeie woorde wat op dieselfde oervorm teruggaan. Vir taalkundiges is dit ’n fassinerende speurtog!
Maar terug na lof en loof, en van lofprysinge, en lofuitinge en -tuitinge, na ’n tweede soort loof: loof as selfstandige naamwoord, wat ’n homoniem is van die Afrikaanse werkwoord wat beteken “om te prys”.
As naamwoord is loof ’n versamelnaam wat ons in Afrikaans gebruik om na die blare van bome of struike te verwys. In Middelnederlands, egter, het loof na slegs ’n enkele blaar verwys, met as meervoud lower ‘blare’, soos ons dit in Afrikaans veral nog in samestellings soos lowergroen en lowerryk aantref. Van die enkelvoud loof kry Engels dus ook sy leaf.

En van lowergroen loof dan nou na die immergroen sierboom Laurus nobilis: In die Griekse mitologie word die lourierboom veral met die god Apollo geassosieer. In een van verskillende mites wat oor hierdie episode handel, is Apollo agter die nimf Daphne aan (wie se naam ook ‘lourier’ beteken), maar Daphne wil niks van hom weet nie. Sy vra die riviergod Peneus om haar van die opdringerige Apollo te help ontsnap, en Peneus verander haar in ’n lourierboom. Vir Apollo is die lourierboom daarna dus van besondere betekenis.
Van die jaar 582 voor die huidige jaartelling af, word Olimpiese kampioene met ’n krans van lourierblare gekroon as simbool van hul oorwinning. Dat dit juis die blare van ’n lourierboom is wat op die wenner se kop geplaas is, het miskien te make gehad met die klankooreenkoms tussen die naam lourier en die Latynse woord laudere ‘om te prys’. Om na ’n lourierkrans te verwys, is laurus in Nederlands tot lauwer aangepas. In Afrikaans het dit louer geword, en die meervoud, louere, gebruik ons nog in uitdrukkings soos “met die louere wegstap”.
Stap iemand met die louere weg, dra hy of sy nie meer letterlik ’n lourierkrans op die kop nie (lourierblare gebruik ’n mens liewer om jou bobotie te geur), maar as jy figuurlik die louere vat, tree jy as oorwinnaar uit die stryd. Iemand wat die louere behaal, inoes, wegdra, word vir sy of haar prestasie geloof en geprys. Die teenoorgestelde van so ’n wenner, is die persoon wat op sy of haar louere rus. Dié uitdrukking – “om op jou louere te rus” – word meestal negatief, skertsend of vermanend gebruik. Dit dui ’n oënskynlike tekort aan amibisie aan, ’n gebrek aan dryfkrag en deursettingsvermoë; dat iemand skynbaar tevrede is met prestasies van die verlede en na niks verder strewe nie.
Laat daar nie van ons (en ook nie van Afrikaans) gesê word dat ons op ons louere rus nie.












