Die Latynse woord motacilla, wat ‘wipstert’ beteken, is reeds deur Varro (116–27 VHJ) en Plinius (23–79 HJ) gebruik. Volgens een van my bronne is dit ’n direkte vertaling uit Grieks seisopugis, ‘wipstertjie’, van seiein, wat beteken ‘om te skud’, en pugê, ‘die agterste’. Die eerste deel van motacilla hou verband met motio, ‘om te beweeg’ (soos vandag nog in die Engelse woord motion); die tweede deel, -cilla, word algemeen in ornitologie (foutiewelik) gebruik om die stert aan te dui. Daar is in die Middeleeue verkeerdelik aanvaar dat cilla ‘stertjie’ beteken, maar desondanks het dit inslag gevind, onder andere by Linnaeus.
Kwikkies volg graag vee (groot- en kleinvee), waar hulle natuurlik opgejaagde insekte, asook insekte deur die mis gelok, kan vang. Hierdie gewoonte gee aan hulle name soos cow bird (Brittanje), vachette (‘koeitjie’; Frankryk), Kuhstelze (‘koeikwikkie’) en Schafstelze (‘skaapkwikkie’; Duitsland), en akwano (‘om bokke op te pas’; Kenia). Die Noord-Sotho-naam vir die kwikkie, moletašaka, beteken ‘oppasser of bewaker van die kraal’.
In Afrika kom kwikkies ook dikwels voor waar wasgoed langs spruite en waterstrome gewas word, waarskynlik omdat dit ideale habitat vir hulle is, en sommige alternatiewe name verwys hierna. Dieselfde geld egter ook in Europa. Dus kry ’n mens Molly washdish (Brittanje), lavandiére (‘wasvrou’; Frankryk), en lavandera (‘wasvrou’; Spanje). In laasgenoemde geval is dit die amptelike Spaanse naam en nie slegs ’n alternatiewe streeknaam nie.
Vroeër jare was daar ’n poskantoor in die Rustenburg-distrik met die naam Kwikstert.












