TEKEN AAN OF REGISTREER OM 'N SOEKTOG UIT TE VOER

DIE VIRTUELE INSTITUUT VIR AFRIKAANS

    Afdelings
    VivA Algemeen
    VivA Akademies
    VivA Taalpraktyk
    VivA Onderwys
    VivA Uitgewers
    VivA Tegnologie
     
    VivA Weldoener
     
    Viva Uitgewers

    Ons bring die digitale biblioteek na jou toe

    VivA Uitgewers Aanlyn VivA Uitgewers Dis in die soen

    Lees die nuutste boeke op VivA-Uitgewers

     

    Opdrag 5: Die bedrewe taalgebruiker verwerk (digitale) inligting krities

    Deur Marc van Oostendorp
    (My vertaling)

    Wie begryp nié dat dit inderdaad ’n belangrike opdrag van die onderwys is nie, en eintlik ’n opdrag waarvoor ons almal nou staan? Hoe moet ons omgaan met die eindelose deining en klotsing van die inligtingsee wat ons omring? Hoe onderskei ons waardevolle feite van onsin? Hoe vind ’n mens ooit wat jy soek? Alleen: Is dit ’n vraag waarvoor die taalonderwyser spesifiek toegerus is?

    Die opstellers van dié groot opdrag gee in vyf stappe hiervoor ’n (algemene) resep. Breedweg: 1) formuleer ’n vraag; (2) bepaal ’n soekstrategie; (3) selekteer inligting; (4) bestudeer en verwerk die inligting; en (5) bied die verwerkte inligting aan.

    ’n Bietjie eienaardig aan hierdie teks vind ek die woord “digitale” tussen aanhalingstekens en die eerste sin van die toeligting: “Leerlinge groei op in ’n sterk digitaliserende samelewing waarin pal, teen ’n hoë tempo, ’n stroom inligting op hulle afkom wat hulle moet filtreer.” Dit klink ’n bietjie uit die oude doos in my ore. Vir my gevoel leef veral leerders nie meer in ’n “digitaliserende” wêreld nie, maar in ’n digitale een. Vandag moet ’n mens leerlinge reeds daaraan herinner dat nié alles op die internet staan nie; dat hulle dinge ook elders kan vind. (’n Kollega vertel my onlangs hoe haar studente stomverbaas was om te hoor ’n mens kry boeke in die biblioteek; hulle het gedink dis net ’n plek waar jy kan sit en studeer.) Dat inligting digitaal beskikbaar is, spreek deesdae vanself; dit opsigself is dus nie eintlik so interessant nie.

    Bowendien is die metafoor van ’n “stroom inligting” wat op leerders “afkom” ’n bietjie anachronisties. In die tyd van die massamedia het inligting inderdaad op ’n mens afgekom, maar in ’n digitale tyd weet ’n mens tot op ’n bepaalde hoogte self watter inligting jy teëkom.

    Die belangrikste vraag hier is natuurlik egter in hoeverre dié groot opdrag in die taalklaskamer tuishoort. Nie alle “inligting” is immers in taal gegiet nie, en as dit wel so is, kan ’n mens jou afvra of die taal nou die belangrikste aspek is. Die gevaar lyk my dat die taal as vak weer eens uitgebrei word met iets wat nie werklik daarby tuishoort nie. Net soos daar nou reeds “argumentasie” in die taalklas onderrig moet word, so moet onderwysers ineens ook deskundiges in die inligtingswetenskap word.

    Groot opdrag 5 lyk vir my na ’n baie belangrike opdrag, maar nie een vir die taalonderwyser nie.