TEKEN AAN OF REGISTREER OM 'N SOEKTOG UIT TE VOER

DIE VIRTUELE INSTITUUT VIR AFRIKAANS

    Afdelings
    VivA Algemeen
    VivA Akademies
    VivA Taalpraktyk
    VivA Onderwys
    VivA Uitgewers
    VivA Tegnologie
     
    VivA Weldoener
     
    Viva Uitgewers

    Ons bring die digitale biblioteek na jou toe

    VivA Uitgewers Aanlyn VivA Uitgewers Dis in die soen

    Lees die nuutste boeke op VivA-Uitgewers

    Wat sê die KABV?

    Omdat die vraag vanuit onderwysgeledere gekom het, het ek eerstens die kurrikulum- en assesseringsbeleidverklarings vir Afrikaans vir grade 4 tot 12 geraadpleeg. Die definisies van hierdie drie terme stem egter nie oral binne dieselfde verklarings ooreen nie, en ook die drie onderskeie verklarings vir graad 4 tot 12 verskil in sekere opsigte van mekaar.

    Vanuit my ontleding van die dokumente, kon ek die volgende aflei:

    Beeldspraak: definisie

    Daar is geen definisie in die KABV vir graad 7 tot 9 nie, maar die ander twee verklarings gee die volgende definisie:

    [taaluiting] wat van figuurlike, oordragtelike taal gebruik maak

    Beeldspraak: voorbeelde

     Al die verklarings beskou die volgende as voorbeelde van beeldspraak:

    • Vergelyking
    • Metafoor
    • Personifikasie

    Die verklarings verskil oor die volgende voorbeelde van beeldspraak:

    KABV vir graad 4 tot 6: antonomasia, metonimia, sinekdogee

    KABV vir graad 7 tot 9: eufemisme, hiperbool, litotes, metonimia, oksimoron, paradoks

    KABV vir graad 10 tot 12: antonomasia, metonimia, sinekdogee

    Elders in laasgenoemde dokument word ook na cliché en retoriek as verslete beeldspraak verwys.

    Stylfigure: definisie

    Al die verklarings gee die volgende definisie:

    (ook stylleer) uitdrukking wat ʼn styleffek teweegbring deur woorde nie in hulle normale of letterlike betekenis en funksie aan te wend nie (afwyking in woordgebruik, maar op ʼn besondere wyse groter krag of dramatiese beeld aan skryfwerk verleen

    Stylfigure: voorbeelde

     Al die verklarings beskou die volgende as voorbeelde van stylfigure:

    • Antiklimaks
    • Antitese
    • Elisie
    • Eufemisme
    • Hiperbool
    • Humor
    • Ironie
    • Klimaks
    • Kontras
    • Onomatopee
    • Sarkasme
    • Satire
    • Simboliek
    • Woordspeling

    In die KABV vir graad 7 tot 9 en graad 10 tot 12 word die volgende voorbeelde ook bygevoeg:

    • Antonomasia
    • Litotes
    • Oksimoron
    • Paradoks
    • Sinestesie

    Die KABV vir graad 7 tot 9 gee ook die volgende ekstra voorbeeld:

    • Alliterasie

    In die KABV vir graad 10 tot 12 word die volgende ekstra voorbeeld bygevoeg:

    • Polisindeton

    Die verklarings verskil oor die volgende voorbeelde van stylfigure:

    KABV vir graad 7 tot 9: metonimia, onderbeklemtoning (litotes), onderstelling (wat ek in geen woordeboek in hierdie konteks kon kry nie, hoewel ek vermoed dat dit ʼn swak vertaling van litotes is), vergelyking

    KABV vir graad 10 tot 12: metonimia, onomatopee, sinekdogee

    Hieruit blyk dat daar dus heelwat diskrepansies tussen die verskillende verklarings ten opsigte van die onderskeie terme voorkom.

    Retoriese middels

    Al drie KABV-verklarings gee die volgende definisie van retoriese middels:

    middels soos pouses en herhaling, deur ’n spreker/skrywer/aanbieder gebruik om doeltreffend te oortuig

     

    Wat sê Literêre terme en teorieë?

    beeldspraak: Volgens Literêre terme en teorieë (2013) is beeldspraak ʼn versamelnaamwoord wat verwys na al die beelde wat in ʼn teks of teksgedeelte gesamentlik voorkom, byvoorbeeld personifikasie, vergelyking, simboliek. Literêre stylfigure word elders as sinoniem gebruik.

    stylfiguur: Hoewel daar nie ʼn lemma vir stylfigure in Literêre terme en teorieë is nie, lewer soekresultate tog verwysings daarna in ander inskrywings op. Onder andere word aforisme, anakoloet, apostroof, eufemisme, enjambement, invokasie, ironie, metafoor, metonimie, parodie, paradoks, patos, perifrase, personifikasie, sinestesie as voorbeelde van stylfigure genoem. Soms word die woorde retoriese stylfigure gebruik, byvoorbeeld wanneer na die anekdote verwys word. Die woord kunsgrepe word ook as sinoniem vir stylfigure gebruik. Op dieselfde trant ook retoriese of poëtiese kunsgrepe. Elders word dit ook as sinoniem vir beeldspraak gebruik.

    retoriese middels: In LTT word retoriese vrae as retoriese middel genoem en in dieselfde bron word ook na retoriese beelde en retoriese kunsgrepe (soos die exemplum) verwys. Ander terme is retoriese strategieë (fiksionaliteit); retoriese figure (ironie, metafoor, metonimie en outonomie); retoriese tegnieke en retoriese middels (satire).

     

    Wat sê Lexicon van literaire termen?

    beeldspraak: allegorie, antitese, metonimia, oksimoron, paradoks, paronomasia, personifikasie, simboliek

    stylfiguur: metafoor en metonimie

    retoriese middels: In Lexicon van literaire termen word verwys na retorische figuren wat gedefinieer word as ʼn versamelnaamwoord vir stylmiddele. Die grens tussen sogenaamde gedachtefiguren soos die ironie en litotes, en woordfiguren of tropen soos die vergelyking en metafoor (figuren van identiteit) en metonimie en sinekdogee (figuren van contiguïteit) is selfs volgens hierdie gesaghebbende literêre bron hoegenaamd nie duidelik nie.

     

    Wat sê die WAT?

    beeldspraak: Oordragtelike, figuurlike taal; troop; treffende, suggestiewe uitdrukking van ʼn gedagte deur ʼn kunstenaar wat onder die invloed van sterk emosie gelykenisse, personifikasies, ens. sien.

    stylfiguur: Stylmiddel waar woordgebruik, formulering, sinsbou, of dergelike op ʼn bepalende manier afwyk v.d. gewone gebruik of funksie; onderskei van beeldspraak: Stylfigure soos hiperbool, litotes en eufemisme.

    retoriek: 1. Leer of kuns van openbare welsprekendheid waarin taal en taalgebruik bestudeer en as middel om te oortuig, te beïnvloed of te beïndruk, aangewend word; 2. Literêre taal wat deur clichés, onoortuigende beeldspraak en onoorspronklike mooiskrywery gekenmerk word, en waarin gewoonlik getrag word om die leser te beïndruk of te oortuig, maar wat dikwels as enigsins pretensieus ervaar word; 3. Taal wat gebruik word om te beïndruk, te paai, of iemand tot 'n bepaalde siening oor te haal, maar wat in wese hol en niksseggend is en dikwels van valsheid getuig.

     

    Ten slotte

    Dit is nie my doel met hierdie blog om voorstelle vir "amptelike" definisies en voorbeelde van beeldspraak, stylfigure en retoriese middele aan die hand te doen nie, maar eerder om tot ʼn geringe mate te probeer sin maak uit die verwarring wat onderwysers en leerders heel moontlik in hierdie opsig in die gesig kan staar. Wanneer selfs gesaghebbende bronne nie ʼn klinkklare onderskeid kan tref nie, is dit des te meer onredelik om van onderwysers en leerders te verwag om klinkklaar tussen die begrippe te onderskei. Selfs in Engels is die onderskeid tussen imagery en figures of speech ook ietwat anders en word literary devices (literêre tegnieke) as versamelnaamwoord gebruik.

    ʼn Mens wonder wel of ʼn haarklowery oor hierdie terminologie werklik nodig is. In stede daarvan dat poësie en die ontleding daarvan op skool instrumentalisties benader en bloot deur leerders vir assesserings gememoriseer word, moet die benadering dalk eerder wees om leerders te leer hoe om poësie te geniet en te verstaan sonder om in ʼn oormaat tegniese aspekte verstrik te raak. Natuurlik is dit belangrik om ʼn begrip van basiese terminologie te hê, maar dan met die klem op basies. In ʼn onlangse seminaar op Samespraak stel die literator Martjie Bosman dit byvoorbeeld onomwonde dat die huidige benadering tot poësie in skole ʼn direkte invloed op die afname in die aankoop van digbundels het.

    Lees gerus ook Sophia Kapp se blog oor retoriese middele en ter interessantheid ook haar blog Uit wie se mond hoor jy die waarheid? waarin sy skryf oor die verskille tussen idiome, vaste uitdrukkings, gesegdes en spreuke.

    Onthou dat jy VivA se taaldiens ook met navrae oor Afrikaanse letterkunde kan kontak – ek is slaggereed om te help waar ek kan.

    VivA-groete

    Stefan