Die woord “hierdie” is ’n aanwysende voornaamwoord, net soos “dié”, “daardie”, “sulke(s)” en “diegene”. In VivA se Afrikaansgrammatika lees ons dat ruimtelike oriëntasie (plek en tyd) relevant is by die gebruik van aanwysende voornaamwoorde. Wanneer aanwysende voornaamwoorde saam met ’n naamwoord (oftewel selfstandige naamwoord) gebruik word, benoem die naamwoord ’n referent (of saak), en die aanwysende voornaamwoord spesifiseer die relatiewe afstand (onmiddellike nabyheid of verwyderdheid) van die referent in verhouding tot die spreker/skrywer en/of aangesprokene(s)/leser(s).[ii] Vergelyk:
relatiewe afstand: verwyderdheid
- Nou kan ons wag vir daardie eland om te kom. (VivA-KPO)
In die voorbeeld hier bo benoem die naamwoord “eland” die referent/saak, terwyl die aanwysende voornaamwoord “daardie” aandui watter eland bedoel word, naamlik een wat ver van die spreker/skrywer en/of aangesprokene(s)/leser(s) is.
relatiewe afstand: nabyheid
- Hoe hou jy dit met hierdie werk, Daleen? (VivA-KPO)
Hier benoem die naamwoord “werk” die referent, terwyl die aanwysende voornaamwoord “hierdie” aandui dat dit juis die werk is waarmee Daleen besig is. Die saak word as naby aan die spreker en/of aangesprokene se onmiddellike situasie of aandag voorgestel.
Nabyheid of verwyderdheid hoef natuurlik nie net met relatiewe afstand verband te hou nie, maar selfs met tyd. Die WAT verduidelik dat ’n aanwysende voornaamwoord, byvoeglik (oftewel attributief) gebruik, ’n ding (dinge) of persoon (persone) aantoon wat hom (hulle) in tydelike sin, naas ruimtelike sin, naby die spreker bevind of as sodanig veronderstel. So sal hierdie tyd byvoorbeeld aandui dat dit die tyd is wat pas hier genoem is of waarvan in dié verband sprake is; of die tyd waarin die spreker leef, wat vir hom as die huidige geld; of ’n tydstip in die verlede of die toekoms, wat met die huidige ooreenkom; soos in hierdie tyd verlede jaar / aanstaande jaar. Vergelyk die volgende bykomende voorbeelde:
tyd: nabyheid
- Wie kan dit hierdie tyd van die aand wees? (VivA-KPO)
Hier benoem die naamwoord “tyd” die referent, terwyl die aanwysende voornaamwoord “hierdie” gebruik word om te verwys na ’n oomblik wat nou plaasvind.
tyd: vereenselwiging met ’n bepaalde wêreld
- Glenelg het ’n klomp aanbevelings gedoen. Baie boere het begryplik nie veel simpatie met hierdie aanbevelings nie. (Ponelis 1979:125)
Die eerste sin hier bo is in die verlede tyd geskryf. In die tweede sin benoem die naamwoord “aanbevelings” die saak, waar die aanwysende voornaamwoord “hierdie” die spreker in staat stel om hom terug na die genoemde tyd te verplaas en hom met die aanbevelings te vereenselwig.
Die noue verband tussen ’n aanwysende voornaamwoord en ’n naamwoord blyk ook uit die feit dat (i) die aanwysende voornaamwoord aandui dat die benoemde saak reeds identifiseerbaar of bekend is (in teenstelling met die onbepaalde lidwoord “’n”), en (ii) ’n baie spesifieke voorbeeld van die benoemde saak tersaaklik is (in teenstelling met die bepaalde lidwoord “die” wat slegs aandui daar word oor ’n bekende saak gepraat).[iii] Vergelyk:
- Ken jy hierdie kinders? (HAT)
- Nuwe lede kan hierdie vorm hier aflaai en na die byeenkoms bring. (VivA-KPO, aangepas)
Wat ons in die bostaande voorbeelde waargeneem het, is dat die aanwysende voornaamwoord telkens saam met ’n naamwoord gebruik word. Die naamwoord benoem die referent, terwyl die aanwysende voornaamwoord die benoemde referent verder spesifiseer deur aan te dui watter spesifieke referent bedoel word en hoe dit ten opsigte van die spreker en/of aangesprokene georiënteer is. Dit is juis die aanwesigheid van hierdie naamwoord wat die aanwysende voornaamwoord in staat stel om ’n sterk uitwysende karakter te hê.
Wanneer die aanwysende voornaamwoord “hierdie” egter selfstandig gebruik word, is dit nie duidelik watter referent deur dié aanwysende voornaamwoord ten opsigte van afstand of tyd gespesifiseer word, of watter referent presies bekend of reeds identifiseerbaar is nie. Die naamwoord speel dus ’n belangrike rol in die uitwysende funksie van die aanwysende voornaamwoord “hierdie”. Wanneer die naamwoord weggelaat word, word hierdie sterk uitwysende karakter verswak. Die uitsondering is natuurlik wanneer ’n spreker na die betrokke referent in die gespreksituasie verwys, terwyl hy/sy “hierdie” gebruik (sien figuur 1).

Figuur 1: Die selfstandige gebruik van “hierdie” (Genereer met behulp van ChatGPT.)
Daar is egter ook bykomende bewyse uit preskriptiewe bronne dat “hierdie” nie selfstandig gebruik moet word nie.
Die opmerking in die HAT lui dat die selfstandige gebruik van “hierdie” as onderwerp, soos in die sin Hierdie is nie my werk nie, soms ’n versterkingsvorm kan wees, maar dat dit meestal gebruik word na analogie van die Engelse stelwyse met “this”. Die gebruik van Dit is nie my werk nie word eerder in die HAT aanbeveel.
In die HAT Taal- en Feitegids beskou Tom McLachlan ’n soortgelyke sin as anglisisties:
- Hierdie is ’n moeilike probleem. (Engels: This is a difficult problem.) Hy sê verder die idiomatiese Afrikaans is: Dit is ’n moeilike probleem, Hierdie probleem is moeilik of Dit is ’n moeilike probleem dié.
Ook in Norme vir Afrikaans: Moderne Standaardafrikaans skryf Carstens (2018:78) die selfstandige gebruik van “hierdie” (en “daardie”) toe aan die Engelse “this” (en “that”).
- ?Hierdie is my pen. (Engels: This is my pen.)
- ?Daardie is my motor. (Engels: That is my car.)
Die kwessie word ook in Skryf Afrikaans van A tot Z behandel. Daarin word weer beklemtoon dat “hierdie/dié” net saam met ’n naamwoord as onderwerp van ’n sin gebruik mag word. Die skrywers voeg by dat “dit” ter beklemtoning benadruk kan word en “hierdie/dié” aan die einde bygevoeg word: Dit is die jongste uitgawe hierdie/dié. By die verwysing na die HAT Taal- en Feitegids vroeër is ook reeds op die moontlikheid van hierdie konstruksie gewys. Fritz Ponelis noem hierdie konstruksie in Afrikaanse sintaksis die “gesplete aanwysende konstruksie “dit ... hierdie/daardie/dié”, soos in Dit lyk na ’n mooi dorp hierdie/daardie/dié.
Die gesplete aanwysende konstruksie “dit ... hierdie/daardie/dié”, die attributiewe gebruik van die aanwysende voornaamwoord “hierdie” saam met ’n naamwoord, en die gebruik van ’n konstruksie soos Dit is ’n moeilike probleem is oplossings wat telkens in preskriptiewe bronne aangedui word.
Die aanwysende voornaamwoord “dié” word natuurlik geredelik selfstandig gebruik sonder dat dit as taalkundig verkeerd geag word, omdat dit baie meer as ’n “voornaamwoord” as “hierdie” (en “daardie”) beskou word (sien Ponelis 1979:91-95). Van sy selfstandige gebruike sluit die volgende in:
- Om binne teksverband ’n skakel met ’n sinsdeel te vorm: Ek het [die water] opgesit, en dié kook nou.
- Om iets te benadruk: [Die bome] groei sterk. Wil jy egter dié tot hulle volle reg laat kom, moet jy gereeld bespuit.
- Om dubbelsinnigheid uit te skakel: Koos het by sy broer gaan aanklop en dié het vir hom gesê hy is diep in die knyp.
- Om aan te dui dat die spreker/skrywer (en/of leser/hoorder) familiêr (intiem, familie) met die betrokke referent omgaan: Jy het na my pa-hulle uitgevra, nè? Dié bly nou op ’n plasie.
Ter samevatting: Is daar iets verkeerd met die sinne aan die begin van die blog? Klaarblyklik, ja. Na my mening kan die aanwysende voornaamwoord nie meer ’n benoemde referent spesifiseer wanneer die naamwoord ontbreek nie. Daarby toon die inligting in die aangehaalde bronne onteenseglik aan dat die gebruik van “hierdie” in die eerste voorbeeldsinne ’n patroon is wat die Engelse segswyse navolg.
VivA-groete
Annamarie Steenekamp
Bronnelys
Buro van die WAT. 1950-2026. Aanlyn WAT. Beskikbaar by: https://www.woordeboek.co.za. Datum van gebruik: 14 Mei 2026.
Carstens, W.A.M. 2018. Norme vir Afrikaans: Moderne Standaardafrikaans. 6de uitg. Pretoria: Van Schaik.
Huddleston, R. & Pullum, G.K. 2005. A Student’s Introduction to English Grammar [Kindle edition]. Cambridge: Cambridge University Press.
Luther, L. & Pheiffer, F., reds. 2013. HAT Taal- en Feitegids. 1ste uitg. Kaapstad: Pearson.
Luther, J., Pheiffer, F. & Gouws, R.H. reds. 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. 6de uitg. Kaapstad: Pearson.
Müller, D. & Pistor, S. 2003. Skryf Afrikaans van A tot Z. Kaapstad: Pharos.
Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.
Fouché, N., Kapp, S., Luther, J. & Erasmus, C. 2021. “Soorte voornaamwoorde: Aanwysende voornaamwoorde”. Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. [https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Woordsoorte%2FVoornaamwoord%2FAAG_Woordsoort_PN_Soorte_Aanwysend.html]
Van Rooy, B. 2017. Afrikaanse sintaksis, funksioneel benader. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N., reds. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik. pp. 251-297.
Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). 2025. Korpusportaal: Omvattend 2.7. Beskikbaar by: http://viva-afrikaans.org. Datum van gebruik: 28 Mei 2026.
Moderering
Nadine Karsten
[i] Wanneer taal deur middel van ’n preskriptiewe benadering beskryf word, word aangedui hoe taalgebruikers taal behoort te gebruik, in teenstelling met ’n deskriptiewe (oftewel beskrywende) benadering, wat die onderliggende grammatikale sisteem van hoe taal werklik tydens gesproke en geskrewe kommunikasie gebruik word, beskryf (Huddleston & Pullum, 2005:4).
[ii] Ook die besitlike voornaamwoord speel ’n rol by die aanduiding van ruimtelike oriëntasie. Voorbeeld: my pen (wat aan die spreker/skrywer behoort) teenoor sy pen (wat aan iemand anders behoort).
[iii] Hierdie siening oor die aanwysende voornaamwoord en die bepaalde lidwoord word deur Van Rooy (2017:264) gehuldig.












