Die reël waarna hulle verwys, is 13.41 in AWS-11, en dit lui soos volg:
ʼn Komma skei twee sinne (albei met onafhanklike sinsvolgorde) wat met ʼn neweskikkende verbindingswoord verbind word.
Hier is die antwoord in ʼn neutedop:
- Sinne kan onafhanklike of afhanklike sinsvolgorde hê.
- Onafhanklike sinsvolgorde beteken die sinne kan uitmekaar gehaal word en net so gebruik word (dis m.a.w. sinne wat simplekse sinne of enkelvoudige sinne kan wees), bv.:
Jeanette het my daardie middag gebel. Sy wou by my ʼn patroon leen. < Jeanette het my daardie middag gebel, want sy wou by my ʼn patroon leen. - Afhanklike sinsvolgorde beteken die sin kan nie op sy eie gebruik word nie, want as gevolg van die gebruik van ’n onderskikkende voegwoord, het die sinsvolgorde verander en die sin 'n bysin geword (d.w.s. 'n sin waarvan die werkwoorde na ʼn plek naby die sinseinde skuif), bv.:
Jeanette het my daardie middag gebel omdat sy by my ʼn patroon wou leen. - Dit is sinne met onafhanklike sinsvolgorde wat deur neweskikkende voegwoorde, soos maar, en, want en of verbind word en dan met ’n komma geskei word sonder dat die sinsvolgorde verander. Hierdie sinne is dus gelykwaardig.
- In die verlede het ons reeds kommas geplaas tussen sinne wat met die neweskikkende voegwoorde want, maar of of geskakel word, bv.:
Jeanette het my gebel, want sy wou ʼn patroon leen.
Jeanette het my gebel, maar ek het nie ʼn patroon gehad nie.
Jeanette het my nie gebel nie, of ek het nie die foon gehoor nie. - Om die kommagebruik eenvormig te maak voor neweskikkende voegwoorde wat twee gelykwaardige sinne so neweskikkend skakel, pas ons dieselfde reël voor en toe as wat ons voor die ander neweskikkende voegwoorde toepas, bv.:
Jeanette het my die middag gebel, en ek het dadelik vir haar die patroon gegee. - Hierdie reël geld net in kontekste waar die en twee sinne met onafhanklike sinsvolgorde skakel. As jy dus wil toets of die sin ʼn komma nodig het, kyk na die volgorde van die stuk sin ná die en.
- Waar die en sinsdele of woorde skakel, geld die reël nie, bv.:
Jeanette het my gebel en lank gesels.
Jeanette het my en Patrys vir patrone gevra. - Die reël geld ook nie waar die en twee sinne met afhanklike sinsvolgorde skakel nie, bv.:
Jeanette het my gebel, wat sy nooit doen nie en wat my eintlik verstom het, om my vir ʼn patroon te vra.
VivA-groete
Sophia