As daar nou een ding is waaroor onderwysers, leerders en ouers maagpyn kry, is dit sinsontleding. Daardie deel van die grammatika waar ons moet bepaal wie die bal wanneer waar vir wie geskop het.
Ongelukkig het van die skoolhandboeke die pad byster geraak, en daar is onakkurate inligting wat die rondte doen. Die volgende inligting oor sintaktiese funksies is behoorlik nagevors, geverifieer en in ooreenstemming met internasionale navorsing.
Wat is sintaktiese funksies?
As ons oor sintaktiese funksies praat, praat ons oor begrippe soos subjek (of onderwerp), gesegde, direkte objek (of direkte voorwerp), indirekte objek (of indirekte voorwerp), en bywoordelike bepalings.
Dit is kernbelangrik om in gedagte te hou dat sintaktiese funksies gaan oor wat die bepaalde gedeelte van die sin vir die hoofwerkwoord doen. Dit is hoekom ons met sinsontleding altyd heel eerste vra Waar is die hoofwerkwoord?
Wat is die verskil tussen sintaktiese funksies en sintaktiese vorm?
Dit is geweldig belangrik om te onderskei tussen ʼn sinsdeel se funksie (dit wat die stuk sin vir die groot sin doen) en die sinsdeel se vorm (hoe die stuk sin vormlik lyk), want ʼn sintaktiese funksie kan deur ʼn woord, ʼn sinsdeel of ʼn bysin verrig word. Die grootste verwarring in sinsontleding kom by hierdie onderskeid in, en as ʼn mens dit gesnap het, is jou kop deur.
In die voorbeelde hier onder is die vetgedrukte gedeeltes elke keer die subjek (onderwerp), hoewel die funksie deur verskillende bousels (vorm) verrig word.
- Hy droom van pienk olifante. (subjek = woord)
- My kollega droom van pienk olifante. (subjek = sinsdeel)
- Wie ook al hierdie voorstel gemaak het, droom van pienk olifante. (subjek = bysin)
Watter sintaktiese funksies onderskei ons?
Sprekers wat ʼn taal vlot praat, kan vir hom buig en plooi soos wat dit hulle pas. Dis nie vir leerders nodig om te weet wat ʼn subjek, ʼn gesegde of ʼn bywoordelike bepaling is om Afrikaans te kan praat nie, en selfs ontaalvaardige sprekers kan baie ingewikkelde sinne maak. Taalkundiges wat sintaksis as hulle studieveld kies, is deeglik hiervan bewus, en die onderskeid tussen al die verskillende sinsfunksies kan soms vurige debatte ontlok.
Uit die navrae wat ek kry, lyk dit vir my asof ʼn mens op skoolvlak ten minste die volgende moet kan identifiseer:
- Die subjek (ook onderwerp)
- Die gesegde
- Die kopulakomplement (indien die sin 'n koppelwerkwoord het)
- Die direkte objek (ook direkte voorwerp) (indien die sin 'n oorganklike werkwoord het)
- Die indirekte objek (ook indirekte voorwerp) (
- Die bywoordelike bepaling(s)
Jy sal opmerk dat ek nie byvoeglike bepaling(s) hier insluit nie. Die “vereiste” vir ʼn sintaktiese funksie is dat dit ʼn stuk sin moet wees wat iets vir die hoofwerkwoord doen. Enige byvoeglike ding doen iets vir ʼn naamwoord, nie ʼn werkwoord nie, en daar kan dus per definisie nie iets soos ʼn byvoeglike bepaling wees nie. Dit wat tans as byvoeglike bepalings bekend staan, is gewoon deel van ʼn ander sintaktiese funksie, soos die subjek of die direkte objek.
Hoe onderskei ons sintaktiese funksies?
Ek het vir my studente die volgende “resep” gegee om hulle te help. Dis nie ʼn voorskrif nie, as jy ander maniere het om ontledings te doen, is dit doodreg. Hierdie metode het maar net vir my gewerk.
Gestel jy moet die volgende sin ontleed: Hierdie kind wat julle gesê het is dom, vra my gereeld vrae in my klas.
Stap 1: Vind die hoofwerkwoord.
- Vra: Watter woord dui die handeling of toestand aan en gaan oorbly in die sin as al die ander werkwoorde weggelaat is?
- Antwoord: vra
Stap 2: Vind die subjek (onderwerp).
- Vra: Wie/wat [hoofwerkwoord]?
- In die voorbeeld is dit Wie [vra]?
- Antwoord: Hierdie kind wat julle gesê het is dom
Let wel: dis die hele lang antwoord, nie net hierdie kind nie.
Stap 3: Vind die gesegde.
- Dit is alles in die sin wat nie die subjek is nie.
- In die voorbeeld is dit: vra my gereeld vrae in my klas.
Let wel: Die gesegde is nie net die werkwoorde nie, die gesegde bevat die hoofwerkwoorde en die res van die sin. Die gesegde is met ander woorde ʼn soort sambreelkategorie waarin daar ander sintaktiese funksies voorkom.
Stap 4: Vind die hoofwerkwoord in die gesegde.
- Afhangend van hierdie werkwoord, gaan die sin 'n direkte objek, 'n indirekte objek, geen objek nie of 'n kopulakomplement hê.
Stap 5: Vind die kopulakomplement.
- Indien die sin nie 'n handeling beskryf nie, maar eerder 'n toestand, is die werkwoord waarskynlik 'n koppelwerkwoord, bv. Die vrae is moeilik; Die kos smaak sleg.
- Die koppelwerkwoord het 'n verpligte sinsdeel daarna (as jy dit weglaat, is die sin onvolledig: *Die vrae is. *Die kos smaak.)
- DIe verpligte sinsdeel is die kopulakomplement.
Stap 6: Vind die direkte objek (direkte voorwerp).
- Sinne met oorganklike hoofwerkwoorde het direkte objekte.
- Vra: [subjek] [hoofwerkwoord] wie/wat?
- In die voorbeeld is dit [Hierdie kind wat julle gesê het is dom], [vra] wie/wat?
- Antwoord: vrae
Stap 7: Vind die indirekte objek (indirekte voorwerp).
- Sinne met dubbeloorganklike hoofwerkwoorde het indirekte objekte.
- Vra: [subjek] [hoofwerkwoord] [direkte objek] aan/vir wie/wat?
- In die voorbeeld is dit [Hierdie kind wat julle gesê het is dom] [vra] [vrae] vir wie/wat?
- Antwoord: my
Let wel: Die vir/aan kan weggelaat word en die indirekte objek kan dan voor die direkte objek staan.
Stap 8: Vind die bywoordelike bepaler(s).
- Sinne met onoorganklike hoofwerkwoorde het dikwels steeds bywoordelike bepalers.
- Vra: [subjek] [hoofwerkwoord] [direkte objek] [indirekte objek] waar/wanneer/hoe/hoekom?
- In die voorbeeld is dit [Hierdie kind wat julle gesê het is dom] [vra] [vrae] [my] hoe?
- Antwoord: gereeld; en
- [Hierdie kind wat julle gesê het is dom] [vra] [vrae] [my] waar?
- Antwoord: in my klas
As jy meer inligting oor hierdie sintaktiese funksies nodig het, lees die blogs wat ons reeds gepubliseer het oor:
As jy steeds sukkel, skakel met my by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees., dan verduidelik ek meer uitvoerig.
VivA-groete
Sophia