In Oktober 2023 het die appwinkels ongelukkig hulle reëls en regulasies vir apps gewysig, met die gevolg dat VivA se ou woordeboekapps nie meer afgelaai kon word op nuwer slimfone en tablette nie. By VivA ontvang ons daagliks talle taalnavrae uit die Afrikaanse taalgemeenskap en ons weet hoe ná Afrikaans aan mense se harte lê.
As maatskappy sonder winsoogmerk is VivA egter afhanklik van befondsing van goedgunstige organisasies, instansies en individue om produkte soos die Woordeboekapp te kan ontwikkel en gratis beskikbaar te kan stel. Dit is dan ook met trots dat VivA erkenning kan gee aan die steun van die ATKV vir die ontwikkeling van hierdie nuwe Woordeboekapp.
Sedert Januarie 2024 het die VivA-span hulle beywer om die interim-betaweergawe van die nuwe app met vyf nuwe funksionaliteite, asook ʼn breë verskeidenheid woordeboeke en woordelyste, uit te bou. Die nuutste weergawe van die app bevat reeds meer as 680 000 woorde uit ʼn breë verskeidenheid bronne. Van die bronne handel oor Afrikaanse voëlname, buitelandse geografiese name, afkortings en simbole, koronaterme, die kernbedryf, rekenaarterme, ekonomiese terme, lugvaartterme, psigiatriese terme, inheemse boomname, wynindustrieterme, voorsetsels en idiome. Die woordelyste en afkortingslyste van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls van 2017 en 2009 kan ook in die app geraadpleeg word. Sodoende probeer ons voorsiening maak vir die groot verskeidenheid kontekste waarin Afrikaans plaaslik en internasionaal gebruik word.
Die nuwe app bevat ook vyf nuwe woordelyste wat deur VivA saamgestel is – op grond van terugvoer van VivA-gebruikers. Hierdie vyf nuwe bronne word gereeld deur VivA met nuwe inhoud bygewerk:
- VivA-sinonieme
- VivA-kreefwoordelys
- VivA-vertaal
- VivA-woordelys
- VivA-dierebenamings
Die nuwe app wys steeds dat ʼn woord korrek gespel is en dui aan in watter woordelyste hierdie woord opgeneem is, maar bevat ook nou vyf nuwe funksies wat nie in die interim-betaweergawe aanwesig was nie, naamlik:
- Bygewerkte en uitgebreide daaglikse taalwenke wat geskoei is op taalnavrae wat VivA se taaladviesspan in die afgelope drie jaar ontvang het;
- Sommige Engelse terme kan nageslaan word om die Afrikaanse ekwivalent te bepaal;
- Die interimweergawe van die app is ook uitgebrei met ʼn "Luister"-funksie wat gebruikers toelaat om na die uitspraak van bepaalde woorde te luister;
- ʼn "Stuur"-funksie waar gebruikers woorde wat nog nie in die app of in bestaande woordeboeke voorkom nie, kan aanmeld sodat dit met ʼn volgende bywerking ingesluit kan word;
- Die interimweergawe van die app is uitgebrei om taalwenke en soektogte te stoor, sodat dit maklik is om weer daardie één woord wat ’n mens net altyd verkeerd spel, vinnig te kan naslaan.
Naas hierdie nuwe funksionaliteite het ons ook die sekuriteit van die app opgeknap om ons gebruikers en die woordeboekmakers te beskerm teen botte, virusse en die ongewensde aanwending van die woordeboekmakers se inhoud. Die nuwe Woordeboekapp vereis dat ʼn gebruiker een keer per maand, vir sekuriteitsdoeleindes, met ʼn geldige e-posadres en wagwoord moet aanteken. Dit is presies dieselfde e-posadres en wagwoord wat ʼn gebruiker moet gebruik om op VivA se webblad aan te teken. Dit is ook presies dieselfde e-posadres en wagwoord wat ʼn gebruiker moet gebruik om op VivA se lees-en-luister-app (die LELA-app) aan te teken. Een e-posadres en een wagwoord om te onthou om op verskeie VivA-platforms te kan aanteken. Sien, maklik! En indien jy jou e-posadres of wagwoord vergeet, kan die “Wagwoord vergeet”-funksie geraadpleeg word. Gebruikers kan ook hul wagwoorde deurentyd op VivA se webwerf herstel: http://www.viva-afrikaans.org.
Ons by VivA is kinderlik opgewonde om te sien hoe ons gebruikers hierdie app ervaar en aanwend in hulle alledaagse lewens. Ons hoop dat die nuwe Woordeboekapp heelwat van die uitdagings wat ervaar is met die interim-betaweergawe van die app uit die weg sal ruim.
Ons neem ook kennis daarvan dat daar ʼn behoefte is om die kommersiële woordeboeke soos die WAT en HAT op die app te kan raadpleeg. VivA maak spoedig werk daarvan om hierdie funksionaliteite in te sluit by die volgende bywerking van hierdie Woordeboekapp. Hierdie kommersiële woordeboeke en woordelyste bly egter deurgaans op VivA se webwerf beskikbaar.
Soos al VivA se produkte is die nuwe Woordeboekapp ʼn lewendige projek wat uit behoefte ontstaan het en met passie volgehou word. Daarom sal hierdie app deurlopend bygewerk word met nuwe woordeboeke en woordelyste wat die omvang en rykheid van Afrikaans weerspieël, en beywer die VivA-span ons vir die toekomstige bywerking van nóg meer funksies wat die app ook meer toeganklik sal maak.
Vier Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike taal en VivA se tiende verjaarsdag saam met ons en laai ons nuwe Woordeboekapp gratis af, sodat jy nooit jou dag sonder die regte Afrikaanse woord en sy spelling hoef te trotseer nie.
Apple (App Store): https://apps.apple.com/za/app/viva-woordeboekapp/id6471499921
Android (Google Play): https://play.google.com/store/apps/details?id=com.woordeboekapp