Die simposium self was egter vir die gewone sterflinge wat Radiopark toe gery het om dit by te woon, ʼn heel vermaaklike, menslike en insiggewende byeenkoms. Die eerste sessie het gehandel oor die huidige stand van sake in die tradisionele uitsaaiomgewing: radio en televisie, wat ons almal ken. Die bespreking is gelei deur RSG se stasiebestuurder, Magdaleen Kruger. Die ander paneellede was Rian Cloete wat die Namibiese uitsaaier, NBC, verteenwoordig het, Suléne Pilon van die UP wat in haar hoedanigheid as Taalkommissielid kommentaar gelewer het, Daniëlla van Heerden van eNuus, en Dawid van Lill, ʼn vryskutter met dekades se ervaring in die uitsaaibedryf en ʼn parate woordeskat wat ʼn mens na ʼn bandopnemer wil laat gryp.
So ʼn paar interessante opmerkings oor Radioafrikaans is by dié sessie gemaak: Dit is duidelik dat Afrikaans in die uitsaaiomgewing besig is om te verander. Baie faktore het hiertoe gelei, waarvan die belangrikste is dat die taal self verander het. Dit is natuurlik die geval vir enige lewende taal; ʼn taal bly net stagnant omdat hy dood is. Verandering is die teken van lewe. Maar uitsaaiers is ook bewus van die veranderende behoeftes van luisteraars en van die verskuiwende rol van uitsaaiers. Vroeërjare is daar sterk klem gelê op die opvoedkundige rol wat ʼn radiostasie speel, veral tydens die nuusuitsendings. Dit was gebiedend noodsaaklik dat uitspraak en sinskonstruksie net so akkuraat as die nuusdekking moes wees, want dit was die taak van die uitsaaier om die volk "op te voed". Deesdae weet die uitsaaiers die volk is "opgevoed" en wil inligting en vermaak hê in ʼn gemaklike, verstaanbare, toeganklike Afrikaans wat met hulle harte eerder as hulle koppe praat. Dit beteken glad nie dat Afrikaans slordig of verarm aangebied moet word nie – Dawid van Lill en Rian Cloete het trouens ernstig gepleit vir die verruiming van omroepers en luisteraars se woordeskat sodat die volle reikwydte van die taal in programme benut kan word. Daniëlla van Heerden het op haar beurt daarop gewys dat eTV gewoon as gevolg van finansiële oorwegings Afrikaanse nuus begin aanbied het – hulle het besef hulle verloor kykers as hulle dit nie doen nie. Afrikaans praat dus ook met beursies.
Die tweede sessie het gehandel oor die nuwe moontlikhede vir Afrikaans wat met veranderende tegnologie en die nietradisionele uitsaaiomgewing saamhang. Bouwer Bosch het as gespreksleier opgetree en ʼn lewendige bespreking oor Afrikaans op die internet aan die gang gesit. Gareth Cliff, van die bekende en kommersieel suksesvolle CliffCentral, het so ʼn bietjie gesels oor die verpakking van inhoud vir so ʼn podsendingreeks, maar ook mooi woorde te sê gehad vir die moontlikhede wat daar spesifiek vir Afrikaans in hierdie omgewing bestaan. Willim Welsyn, wat sy eie podsendingreeks "uit sy garage" bedryf, en Johrné van Huyssteen van Die GROOT Ontbyt het gesels oor hulle unieke skakeling met nisluisteraars, en Francois Retief van iono.fm het die moontlikhede uiteengesit van die platform wat hy bestuur. Die enigste gevolgtrekking wat ʼn mens uit hierdie sessie kon maak, is dat Afrikaans ʼn wonderlike geleentheid het om hier te woeker en luisteraars op elke uithoek van die wêreld te bereik.
VivA het natuurlik reeds sy eie podsendingreekse geskep. Die een reeks handel oor die nuwe AWS en die ander is ʼn joernaalkanaal waar ons blogs en ander interessante brokkies voorgelees word. Teken in op hierdie podsendings by https://viva-afrikaans.org/lees-luister/podsendings. As jy sukkel om dit te doen, het ons ʼn blitsgids opgestel om jou te help. Dit is hier beskikbaar: https://viva-afrikaans.org/blitsgids_podsendings.pdf
VivA-groete
Sophia