Die vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit en die Pionierskool vir siggestremdes in Worcester se Byderhandprojek bied innoverende, interaktiewe leeservarings waardeur plek en literatuur op grensverskuiwende maniere ervaar kan word. Sowel visueel gestremde as siende persone gebruik ʼn kombinasie van konkrete en digitale koppelvlakke (soos braille-instruksies, bordjies met QR-kodes en ʼn digitale koppelvlak waarin van spraaktegnologie gebruik gemaak word) om deur die multisensoriese tuin by die Pionierskool te beweeg. Plante in die tuin is gekies met die fokus op reuk en tas; die paadjies is uitgelê met verskillende teksture; buitelugmusiekinstrumente nooi mense uit om saam te speel en musiek te maak. Sentraal tot dié ervaring is tien tuin- en kinderverse deur William Rowland, Hans du Plessis, Bernard Odendaal, Daniel Hugo, Floris A. Brown en Franci Greyling. Van die verse word aangevul deur musiekverwerkings, vertalings en tipografiese animasies sodat gebruikers die werke op ʼn verskeidenheid maniere kan ervaar.
In ʼn ander projek het ʼn seun van die Nuwe Hoop Skool in Pretoria vroeër vandeesmaand vir die eerste keer ʼn seunstem gekry om via ʼn tablet met ander te kommunikeer. Voorheen moes Alexander Avenant vir lief neem om met die kunsmatige stem van ʼn volwasse man te praat, aangesien daar nie ʼn Afrikaanse seunskunsstem beskikbaar was nie. Danksy die WNNR en drie vlytige seuns van Constantia Park Laerskool wat ure en ure se stemopnames geskenk het, kan Alexander (en tallose ander seuns soos hy) nou vir die eerste keer soos regte-egte Afrikaanse seuns klink.
Bemagtigingstegnologieë ontwikkel met rasse skrede, maar is en bly duur – veral vir ʼn klein mark soos die Afrikaanse mark. As jy dink jy kan dalk op een of ander manier bydra tot bogenoemde projekte of tot die ontwikkeling van ander sulke Afrikaanse tegnologieë, stuur gerus ʼn e-pos aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 26 Oktober 2018 verskyn.
