Soos wat “Kaptein, span die seile” mos soms so sonder waarskuwing in jou kop in kan gaan loop sit, was dit die afgelope week besonder, maar dan besónder, irriterend dat “Africa” se refrein in my kop vasgeklap het:
It's gonna take a lot to drag me away from you // There's nothing that a hundred men or more could ever do
I bless the rains down in Africa // Gonna take some time to do the things we never had
Ek had die voorreg om saam met my beleë ma ʼn week lank op ʼn huisboot op die Choberivier te spandeer. Benewens twee werksuitstappies na Windhoek, was dit my eerste treë in regte-egte Afrika in. (Ek is dus ook maar van die hondjie gebyt as ek snedig oor Toto se non-Afrosentrisme is ...)
Vir ʼn week lank geen nikse, nêrense en niemandse internet en telefoonverbinding nie. Geen Facebook en Twitter nie. Geen nuus, sport of weer nie. Geen Google nie. Zero. Ziltch. Zip. Net die saligheid. En jou eie kop, en jou eie woorde in jou kop.
Toe doen die woord “uitspansel” sig skielik voor – soos ʼn eenwoordkoor wat vasklap.
As jy ooit met vakansie was in die woesterny wat Afrika is, sal jy dalk my obsessie met die woord “uitspansel” herken. Want ek kan op geen ander manier die grootsheid, oopheid, omvangrykheid, wydheid, skouspelagtigheid en glorievolle rykheid van die Afrikalugruim wat ʼn mens daar sien, beskryf nie.
“Firmament”? Praat van Eurosentries!
“Hemelgewelf” of “sterregewelf”? Sou kon, maar daai “gewelf” het vir my alliterasies met “geweld” en dan is dit onvanpas.
Nee, terwyl ek “uitspan” (soos landverkennende trekkers en beeswagtende nomade van ouds) wil ek lê en staar na die “uitspansel”. Dat dié twee woorde niks met mekaar te make het nie, traak my niks nie.
Want in die uitspansel kry jy meer kennis as op die hele Wikipedia saam. Daar is ontelbare Wiktionarywoorde wat wag om beskryf en omskryf en gevang en verloor te word: Oerknal, Oergees, Oerwese, Oerson. Die uitspansel is die Oergoogle ...
I bless the rains down in Africa // I bless the rains down in Africa // I bless the rains down in Africa
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 14 Februarie 2019 verskyn.