Verbandhoudend hiermee vra Anna-Marie uit Windhoek of ʼn mens kan sê dat kitsskares wat snobmusiek letterlik straat toe gebring het, die geleerde musiek “verplebs” of “verpleb” het? Om die vraag te antwoord, moet ons nie net na die “ver-“-voorvoegsel kyk nie, maar ook na “pleb” of “plebs”.
Soos ons nou al met “verkerk” gesien het, is “ver-“ ʼn vreeslike permissiewe outjie in Afrikaans – spring links en regs met al wat leef en beef in die bed. Van selfstandige naamwoorde (“verafgod”, “vergas”, “verslaaf”) en byvoeglike naamwoorde (“veralgemeen”, “verslank”, “vervals”), tot werkwoorde (“verbleik”, “verdra”, “verdrink”) en allerhande ander snaakse goed (“vermy” teenoor “vermei”; “verkneukel” of “verkneuter”; “verfomfaai” en “verfoes”). Daar is allerhande fynere betekenisnuanses, maar as dit met selfstandige of byvoeglike naamwoorde verbind, beteken dit meestal iets soos “verander tot X”: “verafgod” beteken “verander iemand tot ʼn afgod”, of “verslank” beteken “iemand verander tot hy/sy slank is”.
Geen haan sal dus daarna kraai as “ver-“ ook by die “pleb(s)” gaan loop lê nesskop nie. Die vraag is egter steeds of dit “verpleb” of “verplebs” moet wees.
Wat op deeske aarde is ʼn pleb?
Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans sê ʼn pleb is ʼn persoon van lae inbors, ʼn swak klas mens, ʼn ongekultiveerde persoon. Maar “pleb” is eintlik óf ʼn inkorting van die woord “plebejer”, óf ʼn truvorming van die woord “plebs”. Want sien, in die Romeinse tyd het die Latynse woord plēbs (of plēbēs) na die gewone mense op straat verwys. Daardie -s in “plebs” lýk dus eintlik net soos die meervoud, dis nie regtig die meervoud nie! Beide “verpleb” en “verplebs” sou dus kon.
Die enigste byvoeglike naamwoord wat met die plebs verband hou, is volgens die AWS “plebejies”. Wat ʼn heerlik snobistiese belediging: “Ag, sy is vir ons regtig vreeslik plebejies, hoor!”
Maar Afrikaanse mense laat hulle nie verborstrok nie. Op die internet kry ek allerlei mooi maaksels soos “plebeius”, “plebiaans”, “plebeiese” en my gunsteling: “plebberig”! Smaak my die woord “pleb” is net so prostitueus soos die voorvoegsel “ver-“ ...
My raad aan Anna-Marie? Wanneer kitsskares popliedjies verpentatonix, word dit behoorlik verplebber!
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 01 Maart 2019 verskyn.
