As daar nou een ding is wat my dwars in die krop steek, dan is dit dese en gene wat Afrikaans misbruik vir hulle eie (politieke) agendas. Praat ons oor kwotastelsels in sport, dan word Afrikaans aan die hare bygesleep. Grondonteiening en plaasmoorde? Afrikaans is een van die slagoffers. Swak onderwysstelsel? Afrikaans. Beurtkrag? Afrikaans.
En so word Afrikaans die tou in ʼn al wat ʼn (politieke) toutrekkompetisie is, veral ook onderling in die Afrikaanssprekende gemeenskap. Woon jy Afrikaans is Groot by, is jy ʼn laertrekkende Afrikaner-Boer; gaan jy nie, is jy ʼn uitverkoopte Hensopper-Hanskakie. Gaan jy nié Ghoemas toe nie, skaar jy jou by die wit enklave van Afrikaanse popmusiek; gaan jy wél, is jy ʼn Guptabroertjie wat verdien om in die veroordelendste taal uitgeskel en uitgekryt te word.
Oor die Twitterstorm: 242 oorspronklike twiete is van 16 tot 19 April op Twitter gemerk met #DieLand; 97 gebruikers het dié twiete gegenereer. Drie gebruikers is verantwoordelik vir 31% van daardie twiete, en twee van die drie kruip weg agter skuilname en profielprentjies (nie foto’s nie). In totaal bestaan die “storm” uit ʼn raps minder as 6 000 aktiwiteite (ingesluit antwoorde, hertwiete en “Likes”), met ʼn geskatte reikwydte van ongeveer 315 000 rekeninge. (Om dit binne perspektief te plaas: Die afgelope Saterdag het die rugbywedstryd #STOvBRU in drie uur se tyd ʼn reikwydte van meer as 1 500 000 rekeninge gehad.)
Is dit dus werklik ʼn storm, of maar net ʼn storm in ʼn glas water?
Die grys wolk om my kop kwyn. In die middel van hierdie klein ou glasie sit die meerderheid mense wat soos ekke maar net Afrikaans praat, lees en skryf, en van Corlea se stem en Hemelbesem se kletsrymlirieke hou. Namens ons almal roep die Babalela: “Los ons uit!”
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 26 April 2019 verskyn.

