Die komma het sy oorsprong te danke aan Aristofanes van Bisantium (~257-180 VHJ), bibliotekaris van die Koninklike Biblioteek van Alexandrië. Ten einde die leesbaarheid van ou Griekse tekste te vergemaklik, het hy verskillende soorte punte (distinctiones) in die tekste laat aanbring. So byvoorbeeld is ʼn punt in die middel van ʼn reëltjie ( ⋅ ) gebruik om ʼn asempouse aan die einde van ʼn kort frase aan te dui. So ʼn kort frase (nie die tekentjie nie) is later jare deur Isodorus van Sevilla ʼn komma genoem – afgelei van die Griekse werkwoord koptein wat ‘sny’ beteken het.
Ons sien dié betekenis in die bekende johannese komma (Comma Johanneum) in die Bybel. In die 1953-vertaling van 1 Johannes 5:7-8 staan: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.” Maar in die 1983-vertaling is die gedeelte in vetdruk weggelaat. Waarom? Want dit staan nie in die oudste Griekse tekste nie! Dit is eers in die Middeleeue in Latynse tekste bygevoeg en het in die kerkgeskiedenis gesorg vir talle dispute, veral of die Bybel werklik melding maak van die Drie-Eenheid. Gaan lees meer op Wikipedia: Daar is ʼn Engelse artikel oor die Johannine Comma wat langer as ons nasionale stembrief is.
Met verloop van eeue word sulke pouses in die middel van sinne op verskillende maniere aangetoon. So byvoorbeeld was die vorentoeskuinsstreep ( / ), oftewel die virgula suspensiva (‘hangende takkie’), besonder modieus vanaf die 13e tot die 17e eeu. Die bekende Venesiese drukker Aldus Manutius (1449-1515) is die eerste ene wat die skuinsstreep vervang het met ʼn komma soos ons hom vandag nog ken: ʼn krulletjie onderaan ʼn reël.
Die flambojantste en bekendste komma is seer sekerlik die Oxfordkomma. ʼn Mooi regte-egte voorbeeld: Op 10 Desember 2013 lei Sky News met “Top stories: World leaders at Mandela tribute, Obama-Castro handshake and same-sex marriage date set …”.

Soos dit daar staan, sou lesers verder kon lees oor die vasgestelde datum vir Obama en Castro se homohuwelik! Plaas jy ʼn Oxfordkomma vóór “and”, dan gaan dit eintlik oor drie aparte nuusstories. Lees ook in die nuutste AWS (hoofstuk 13) hoe die Oxfordkomma in Afrikaans gebruik word.
En dan is daar die Spinasiekomma – ʼn desimale komma wat op ʼn verkeerde plek staan. Volgens oorlewering het Erich von Wolf, ʼn Duitse chemikus, per ongeluk die desimale komma op ʼn verkeerde plek geplaas toe hy in 1870 oor die voedingswaarde van spinasie geskryf het. In plaas van 3,5 g yster het spinasie skielik 35 g yster bevat! Dié fout is eers in 1937 raakgesien, maar teen daardie tyd was Popeye al styf opgepomp met ysterbelaaide spinasie.
Daar is talryke voorbeelde op die internet van grappige situasies wat ontstaan as ʼn komma weggelaat word. Soos byvoorbeeld die ene waar iemand op Facebook geskryf het: “Watching a movie in which Joseph Gordon Levitt has copious amounts of gay sex with my parents. Awkward doesn’t begin to describe it.”

Of die plakker agterop ʼn baie macho bakkie: “C’mon Let’s Ride Boys!”

En dan is daar nou ook die ZACP-komma: ʼn ondeugsame komma met weinig effek. Net soos sy naamgenoot …
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 10 Mei 2019 verskyn.


