Gabrie Malherbe:
Vraag: As die voorvoegsel “a-“ normaalweg “nie” beteken (soos dat “asosiaal” = “niesosiaal”), waarom skryf ons dan “aklimatiseer”?
Antwoord: Goeie vraag, maar Gabrie word mislei deur ʼn algemeen voorkomende spelfout: *“aklimatiseer” in plaas van “akklimatiseer”. Die “ak-“ vooraan is ʼn variant van die Latynse “ad-“, wat “na; tot; vir” beteken. Letterlik beteken “akklimatiseer” dus iets soos “beweeg na die klimaat toe”.
Vraag: Daar word orals gepraat van “proaktief” optree. Dit moet tog sekerlik “preaktief” wees, aangesien “pre-“ dui op iets wat eerste kom? Ek hoor in Nieu-Seeland dat hulle van “preactive” praat.
Antwoord: Die Griekse en Latynse “pro-“ en “pre-“ loop soms deurmekruis. In Afrikaanse korpusse kom slegs “proaktief” voor; vir Engels kry ek hier en daar “preactive”, maar nie met enige aanduidings dat dit spesifiek kenmerkend aan Nieu-Seeland is nie.
Vraag: ʼn Mens sê tog dat iets gemoniteer (werkwoord) word op ʼn monitor (naamwoord). Maar ek hoor dikwels dat mense ook “monitor” as werkwoord gebruik. Is dit verkeerd?
Antwoord: Die AWS, WAT én HAT erken al vir baie jare “monitor” naas “moniteer” as werkwoord. Soos Gabrie, verkies ek ook “moniteer”. Maar ons is verreweg in die minderheid. In die Afrikaanse korpusse is die verhouding moniteer:monitor (as werkwoorde) ongeveer 1:9.
Jakkie Groenewald – van Getroud met rugby-faam:
Vraag: Ek het as jong joernalis geleer ʼn mens praat van “in ʼn stadium” in plaas van “op ʼn stadium”. Is dit nog steeds so?
Antwoord: Beide word al vir baie jare as korrek aanvaar, al was “in” op ʼn stadium (!) as die enigste korrekte een beskou. In korpusse is die verhouding in:op = 65:35.
Gawie van der Walt:
Vraag: Wil jy nie tog asseblief onder die aandag van die redaksie van Beeld bring dat ʼn mens nie pronkertjies saai nie maar plant?
Antwoord: In korpusse sien 'n mens meestal dat pronkertjies "gesaai" word, maar ook hier en daar dat dit geplant word. Dink ook só daaroor: My pa was 'n saaiboer, al het hy mielies en grondbone en sonneblomme geplant. EK dink dus dat “plant” en “saai” in sulke populêre kontekste eintlik sinonieme is.
As jy ook taalvrae het, maak VivA (https://viva-afrikaans.org) se taaladviseur jóú penvriend.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 24 Mei 2019 verskyn.
