'n Kurrikulum sluit inhoud in vir 'n rede. Taalstrukture en -konvensies is in die KABV vir 'n rede: Geen mens kan enige vakkennis in enige skool- of universiteitsvak bemeester as hy of sy nie taalstrukture en -konvensies onder die knie het nie. Die leerder leer naamlik alles in alle vakke deur middel van taal, en gee al die antwoorde in alle vakke deur middel van taal weer. Selfs in vakke soos wiskunde en tegnologie speel taal 'n kardinale rol. Al word die antwoord in die vorm van 'n skets of 'n diagram weergegee, is die opdrag deur middel van taal gegee. Wanneer taalonderrig nie slaag nie, is die leerder se vermoë om te leer en opdragte korrek uit te voer, beduidend belemmer.
Ons het ons aanlyn grammatika aan die gang gesit met die beskrywing van woordsoorte. Die besluit om daarmee weg te spring, is nie lukraak geneem nie. Woordsoorte is gewoonlik die eerste afdeling in enige grammatika, want dit is die basiskennis wat 'n mens nodig het om enige ander afdeling van 'n grammatika te beskryf. Kom ek illustreer aan die hand van 'n paar voorbeelde uit die "werklike lewe" hoe kennis van woordsoorte 'n mens kan help:
Een van die grootste kopsere vir jong (en ouer) spellers, is die los en vas skryf van woorde. Een van die gereeldste klagtes wat ek kry, is dat mense op skool geleer het "een ding is een woord". Nou sukkel hulle, want mediese skema is een ding, maar toe hulle dit vas geskryf het as *medieseskema, het een of ander wysneus gesê dit is nie korrek nie. Die wysneus is reg: Dit is nie korrek nie. Daar is ook nie 'n spelreël wat sê "een ding is een woord" nie. Daar is 'n spelreël (AWS 15.3) wat sê 'n samestelling is een woord, en daar is 'n ander een (AWS 15.28) wat sê dat 'n adjektief + naamwoord (skoolterme: byvoeglike naamwoord + selfstandige naamwoord) los geskryf word. Gewapen met hierdie reëls, en met die vaardigheid om klinkklaar te toets of 'n woord 'n adjektief is of nie, raak die los skrywery van woorde soos privaat skool, aanlyn winkel, senior koor en mediese skema onmiddellik duidelik, en raak die vas skrywery van woorde soos gunstelingkleur, reusegemors, standaardantwoord en belastingskema onproblematies.
Nog 'n voorbeeld: AWS 9.3 sê eienaamwoorde word met hoofletters geskryf. As jy weet hoe om te bepaal of 'n woord 'n eienaamwoord is, kan jy onmiddellik besluit waarom die eerste ma hier onder 'n hoofletter moet hê en die tweede ma nie 'n hoofletter mag hê nie:
- Ek wil Ma se motor vanaand leen. Mag ek, asseblief?
- Ek wil my ma se motor vanaand leen, maar ek sal eers haar toestemming moet vra.
Toegewyde gebruikers van die AWS weet daar is omtrent nie 'n enkele spelreël wat nie na woordsoorte verwys nie. Maar dis nie net spelreëls wat op woordsoorte berus nie. Sintaksis (skoolterm: sinsleer) berus ook daarop. Baie gebruikers kla by my oor die (foutiewe) reël dat 'n hoofwerkwoord in ? komplekse sin aan die sinseinde moet staan. Dit beteken as 'n mens twee sinne soos die volgende verbind, moet die volgende gebeur:
- Ons sal met almal moet praat. + Almal het belang by die prosesse en uitkomste van die projek. = Ons sal met almal wat belang by die prosesse en uitkomste van die projek het, moet praat.
Intussen is die aanbeveling (soos vervat in Norme vir Afrikaans van WAM Carstens) dat die hoofwerkwoord so na as moontlik aan die onderwerp gehou moet word sodat die leser/hoorder die draad van die argument kan volg. Dan lyk die sin so:
- Ons sal met almal moet praat wat belang het by die prosesse en uitkomste van die projek.
Ons kan bogenoemde gesprek net hê as ons weet wat 'n hoofwerkwoord is.
Ook in die morfologie is woordsoorte belangrik. Net naamwoorde kan meervoude en verkleiningsvorme kry. Werkwoorde kry die verledetydsvorm. Adjektiewe en bywoorde kry trappe van vergelyking. Daarom is die woord breek 'n naamwoord (dit kan die meervouds-e kry: breke) of 'n werkwoord (dit kan -ge- kry: gebreek). Omdat ons hierdie morfologie verstaan, weet ons dat albei die sinne hier onder korrek is:
- Ons het oor tien minute 'n breek.
- Ons breek oor tien minute.
Nou goed, kennis van woordsoorte is belangrik – watter woordsoorte ons in Afrikaans kry, hoe om die woordsoort te bepaal, wat die eienskappe van die woordsoort is, watter woorde alles tipies hierdie woordsoort is. Waar kry 'n mens hierdie kennis? In Taalonderrigportaal, VivA se portaal waarin ons aanlyn grammatika gehuisves word. Lees die inleiding tot die hoofstuk oor woordsoorte hier, waarin die nut en waarde van die hoofstuk breedvoerig verduidelik word. En gaan dan na die oorsig oor woordsoorte, waarin 'n mens op een bladsy al die noodsaaklikste inligting oor elke woordsoort kan kry. Wenk: Al die inligting op hierdie bladsy mag net so gekopieer en aan leerders uitgedeel word.
As daar vrae, onduidelikhede, kwellings of teenstrydighede is, skakel gerus met my by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of per whatsapp by 0621260295. Ek help graag.
VivA-groete
Sophia