Na aanleiding van ʼn vraag deur prof. Gerhard van Huyssteen op VivA se Taalwerkersforum oor die gebruik van die lidwoord die voor vakdissiplines en teorieë, het ek besluit om ʼn blog te skryf wat fokus op die gebruik en niegebruik van lidwoorde in Afrikaans. Let daarop dat die volgende voorbeelde meestal van toepassing is op die bepaalde lidwoord die met enkele verwysings na die onbepaalde lidwoord ʼn. Dit blyk dat daar in die bestaande literatuur meer dikwels op eersgenoemde lidwoord gefokus word – bes moontlik omdat taalgebruikers meer daarmee sukkel.
In sommige vaste uitdrukkings verander lidwoorde die betekenis
Wanneer lidwoorde in sekere gevalle voor naamwoorde ingevoeg of weggelaat word, kan dit die betekenis verander. Die weglating van ʼn lidwoord maak dikwels van die sin ʼn algemene stelling terwyl die lidwoord meer spesifisiteit daaraan verleen.
Voor massanaamwoorde
• Groente is redelik goedkoop. (algemene stelling)
• Die groente is redelik goedkoop. (spesifieke stelling)
Voor telwoorde
• miljoene/miljarde/triljoene studente/euro/sterre (ongespesifiseerde getal)
• ʼn miljoen/miljard/triljoen studente/euro/sterre (gespesifiseerde getal)
Ná voorsetsels wat deel is van vaste uitdrukkings
• Die man sit op straat. (Figuurlik)
• ? Die man sit op die straat. (Letterlik)
Nog voorbeelde van sulke vaste kollokasies tussen voorsetsels en naamwoorde:
• op skool
• op pad
• na behore
• onder toesig
• in diens neem
In sommige vaste uitdrukkings en idiome word die lidwoord nie gebruik nie
• So waar as padda manel dra
• Al die wysheid in pag hê
• Iemand platriem gee
Soos in die voorsetselvoorbeeld kan die gebruik of niegebruik van ʼn lidwoord die onderskeid tussen letterlike of figuurlike betekenis aandui:
• Hy is besig om met vuur te speel. (Figuurlik)
• Hy is besig om met die vuur te speel. (Letterlik)
Verkeerdelike weglating onder Engelse invloed
Engels het ʼn invloed op die gebruik van lidwoorde in Afrikaans. Dit kan óf die verkeerdelike weglating van ʼn lidwoord óf die verkeerdelike toevoeging van ʼn lidwoord teweeg bring.
• ? Watter span het meeste doele aangeteken?
• Watter span het die meeste doele aangeteken.
• ? Ergste van alles is dat sy nie eers kan sing nie.
• Die ergste van alles is dat sy nie eers kan sing nie.
• ? In derde plek is die man se argument nie geldig nie.
• In die derde plek is die man se argument nie geldig nie.
(maar: In laaste instansie OF In die laaste instansie)
Prof. Wannie Carstens gee in sy boek Norme vir Afrikaans ook die volgende voorbeelde waar die lidwoord gewoonlik in Afrikaans gebruik word waar dit nie noodwendig met die Engels ooreenstem nie:
• Die kopiereg word voorbehou.
• Na die voorbeeld van …
• Hy studeer in die lettere/regte/medisyne. (by dissiplines)
• Buite/Binne die orde
• Iets voor die gees roep
• Hulle woon in die Kaap of die Vrystaat
• Vestig die aandag op iets
• Die mens is ʼn feilbare wese. (Engels: Man is …)
• In die praktyk werk dinge anders.
• Mevrou die voorsitter
• Sy studeer aan die Universiteit van Pretoria (maar: Heleen is op universiteit ná ʼn jaar in die buiteland.)
Dalene Müller en Sebastian Pistor vul hierdie lys met die volgende voorbeelde in Skryf Afrikaans van A tot Z aan:
• die invoer/uitvoer
• die pryse het gestyg
• die begrafnisreëlings
• die wins het toegeneem
• onder die bewind van
• die Mosambiekse en die Suid-Afrikaanse regering (nie: die Mosambiekse en Suid- Afrikaanse regerings)
• die beplanning vir die vergadering (Engels: Planning for …)
H.J.J.M. van der Merwe en Fritz Ponelis verskaf ook ʼn nuttige lys:
• in die besonder
• na die model van
• in die een of (die) ander opsig
• Ek gaan na die dorp toe. (maar: Ek gaan dorp toe.)
• die 27ste Desember
• die Pretoriase staalbedryf
• die ondervinding leer my
• vestig die aandag op iets
• in die wamakery
Sommige eienaamwoorde kry ʼn lidwoord
As ʼn reël word die lidwoord die behou by die volgende:
Geografiese name wat in die meervoud is.
• die Karibiese Eilande
• die Verenigde State van Amerika
• (in/op) die Stormberge
• die Andes
By eienaamwoorde in die enkelvoud word die egter weggelaat:
• op Tafelberg
• in Namakwaland
• op Dasseneiland
Die meeste geografiese eienaamwoorde wat as deel van die naam ʼn woord bevat wat ook ʼn soortnaamwoord kan wees:
• die Verenigde Koninkryk
• die Wes-Kaapse platteland
• die Makwassie-distrik
• die Republiek van Ierland
• die Kalahariwoestyn
• die Kaapse Skiereiland
• die Randburgse gebied
• die Bloemfonteinwaterkant
• die Paarl
• die Strand (maar: Ek gaan Paarl/Strand toe.)
Bouwerke
• die Vrouemonument
• die Empire State-gebou
• die Daspoorttonnel
• die Kasteel
Boulevards en paaie
• die Paryspad
• die Noordelike Boulevard
• die Heerengracht
Sommige koerante en tydskrifte
• Die Burger (maar: Beeld)
• De Kat (maar: Sarie)
Instansies
• die Hoërskool Kalahari
• die Internasionale Lughawe O.R. Tambo
Oop waters (damme, mere, riviere, oseane)
• die Theewaterskloofdam
• die Vaaldam
• die Mooirivier
• die Donau
• die Kariba-meer
• die Langebaan-lagune
• die Indiese oseaan
• die Noordsee
Lidwoorde word soms onder Engelse invloed verkeerdelik gebruik
Dit blyk dat veral die lidwoord ʼn in hierdie spesifieke geval verkeerd gebruik word:
• ?Die kind toon ʼn belangstelling in klaviere.
• Die kind toon belangstelling in klaviere.
• ?Sy studeer vir ʼn aktuaris.
• Sy studeer vir aktuaris.
Nederlandse lidwoorde kom nog in sekere name voor
Die lidwoord het word behou wanneer dit deel van ʼn naam is:
• Beeldhouers kan aansoek doen om befondsing by Het Mondriaan Fonds.
Wanneer die lidwoord de egter so ingeburger geword het dat dit deel van ʼn pleknaam of ander naam uitmaak, word dit wel saam met die Afrikaanse lidwoord die gebruik:
• Die De Aar-biblioteek is gesluit.
ʼn Laaste woord
Wat die oorspronklike navraag oor die gebruik van die lidwoord die voor die name van vakdissiplines en teorieë betref, blyk dit dat daar nie ʼn vaste reël geld nie. Van der Merwe en Ponelis dui wel aan dat die lidwoord opsioneel is:
• Hy spesialiseer in (die) politiek/joernalistiek/fonetiek/romantiek/geskiedenis.
As ons egter na die naam van ʼn kursus of ʼn vraestel verwys, praat ons nie van *die Wiskunde of *die Afrikaans nie, maar eerder Wiskunde of Afrikaans.
Hierdie blog is nie ʼn diepgaande bespreking van die lidwoord in Afrikaans nie. Raadpleeg gerus VivA se Taalonderrigportaal vir ʼn volledige bespreking, en lees ook die blogs Woordsoorte: Lidwoorde deur Sophia Kapp en Dié "die" is die opsionele "die" deur Gerhard van Huyssteen op VivA se webtuiste.
VivA-groete
Stefan
Bronne:
Carstens, W.A.M. 2018. Norme vir Afrikaans: Moderne Standaardafrikaans. Pretoria: Van Schaik.
Müller, D. & Pistor, S. 2016. Skryf Afrikaans van A tot Z: die essensiële gids vir taalgebruikers. Kaapstad: Pharos.
Van der Merwe, H.J.J.M. & Ponelis, F.A. 1982. Die korrekte woord. Pretoria: J.K. van Schaik.