“Suid-Afrika behoort sy kulturele erfenis te verwyder om nasiebou te bevorder.”
Dis weer daai tyd van die jaar: ATKV-debatskompetisietyd. Dan loop my en my kollegas se e-pos-inmandjies oor. Soos hierdie week: “Oom, oom! Interpreteer vir my die woord ‘behoort’ [en die res van die woorde in die onderwerp]. Asseblief en dankie, oom!” #EkLuisterByDieRadio
So graag soos wat ʼn mens wil help, so word dit ʼn onbegonne taak om vir elke debatsbloedjie ʼn omvattende en unieke antwoord te gee. Nee, ons probeer hulle liewer bemagtig, sodat hulle sélf die woorde kan interpreteer. Die ATKV is immers duidelik in hulle instruksies: “Doen so wyd as moontlik navorsing.”
Verlede naweek het die ATKV se nasionale redenaars- en debateindstryd by die pittoreske Goudini Spa naby Worcester plaasgevind. Huis- en niehuistaallaer- en -hoërskoolleerders in kleurvolle skoolregalia het van heinde en verre gekom om mee te ding om die gesogte titel as beste redenaar of debatspan.
Aangesien ʼn paar ATKV-lede hulle menings oor die aard en toekoms van die kompetisie teenoor my gelug het, besluit ek om eerstehands te gaan waarneem hoe sake staan.