Ons wêreld kan daarby baat as meer mense net ʼn bietjie woordnavorsing doen oor wat hulle eintlik besig is om te sê. Vir taalgebruikers, leketaalkundiges en slaapkamerwoordeboekmakers het ek op VivA se webblad ʼn lys van 11 stappe gepubliseer wat enigiemand kan volg om ʼn bepaalde woord beter te verstaan.
Wat raak ek wys oor “behoort” as ek self die stappe volg?
As jy ʼn bietjie dink hoe jy en jou vriende die woord gebruik, kan jy klaar baie insigte kry. Om net klakkeloos ander mense se interpretasies op te dis sonder om die konteks te verstaan, is ʼn bietjie soos om alleen by jou huis te sit en dronk word. Niemand word daar vroliker van nie (behalwe dalk jyself, maar dan ook maar net kortstondig).
Streng taalkundig kan ons sê “behoort” is ʼn deontiese modale hulpwerkwoord. Huh? OK, OK, kom ons gee hom ʼn bynaam: Dis ʼn “pliggiehulpwerkwoord”.
Pliggiehulpwerkwoorde druk die verpligting wat ʼn spreker op jou plaas op ʼn skaal uit. Aan die een kant van die skaal is jy absoluut verplig om iets te doen, jy móét dit doen (dink aan wette). Aan die ander kant van die skaal word ʼn voorstel of moontlikheid aan die hand gedoen, jy mag of kan dit doen, maar die keuse is joune (dink aan voorstelle of toestemming).
Iewers tussen dié twee uiterstes lê behoort en sy maatjie beter (soos in: “Jy beter jou husse eet, of anders kry jy lang ore!”). Jy word aangeraai met “behoort” en gewaarsku met “beter”.
Saam met “behoort” hoort ʼn hoofwerkwoord: ʼn voorgestelde aksie wat jy moet uitvoer om by ʼn plek uit te kom wat aan die verwagtinge van die spreker voldoen. Die wêreld (Suid-Afrika, in hierdie geval) is in ʼn toestand wat nie aan ʼn bepaalde standaard of ideaal voldoen nie (d.i. waar daar ʼn eensgesinde gevoel onder Suid-Afrikaners heers). Die voorgestelde aksie? Raak ontslae van monumente, standbeelde en ander erfgoed.
Veel ingewikkelder is die onderwerp eintlik nie ... Kom ons hoop die debatteerders fokus op die meriete van die stelling en moontlike oplossings, eerder as om hare oor “behoort” te kloof.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 12 April 2019 verskyn.
