Stal items per gids uit: greintjie

Saterdag, 27 Januarie 2018 07:43

Neem knypie sout maar met 'n knippie sout

Sommige “nuusfeite” moet ʼn mens maar met ʼn knippie sout neem …

Maar wag! Is dit nie “met ʼn knypie sout” nie? Of ʼn “korreltjie sout”? Dalk ʼn “greintjie sout”? Watter een is korrek? En waar kom die uitdrukking vandaan? Daar is soveel fassinerende wetenswaardighede hieroor, ek is sommer lus en registreer vir ʼn doktorsgraad.

Die meeste Afrikaanse woordeboeke en bronne dui sonder enige twyfel aan dat dit “met ʼn korreltjie sout” is, waarvan DF Malherbe se Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme (1925) die oudste is wat ek kon opspoor. Ander resente bronne, waaronder die Kollokasiewoordeboek en Tweetalige voorsetselwoordeboek, stem volmondig saam dat slegs “korreltjie” korrek is.

Anton Prinsloo (in Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom) sê dit kan ʼn “knippie/korreltjie/greintjie sout” wees, maar Johanna de Wet (in Wat praat jy!) wil van “greintjie” niks weet nie: Sy erken slegs “knippie/korreltjie/knypie sout”. HAT sluit indirek by haar aan: Hoewel slegs “knippie/korreltjie sout” onder die lemma sout verskyn, staan daar elders in die HAT dat “knippie” en “knypie” sinonieme is.