So, terwyl die taalkenners nie met mekaar kan saamstem nie, wat doen die skrywende volk?
Uit VivA se korpusversameling van ongeveer 135 miljoen woorde, blyk die volgende verhoudings:
met ʼn knippie:knypie:korreltjie:greintjie sout neem:vat
90 : 9 : 1 : 0 — 89 : 11
Maak dus nie saak wat wie sê nie: Afrikaansskrywendes neem alles met ʼn knippie sout.
Nog ʼn interessantheid is dat, al sê HAT dat “knippie” en “knypie” sinonieme is, het dié twee woorde histories niks met mekaar te make nie. “Knip” is die oudste van die twee, met die eerste optekening uit 1477 (hoewel ons die selfstandige naamwoord knippinghe al in 1252 kry). “Knyp”, daarenteen, is ʼn nuwerwetse woord uit 1599.
Praat die Hollanders ook van ʼn knippie/knypie sout? Hoegenaamd nie! Hulle ken wel ook korreltje/greintje zout, maar meer modern blyk snuifje/snufje zout te wees. Vir hulle is ʼn knipje onder andere ʼn eufemisme vir ʼn vasektomie, terwyl “knippie” by ons na seks kan verwys (dus lekker gronde waar dinge ongewens kan uitdraai tussen ʼn Nederlandse en Afrikaanse huweliksmaat).
Ook in Engels het ons die wisseling tussen a pinch of salt (knippie) en a grain of salt (korreltjie) – eersgenoemde is na bewering meer Brits, laasgenoemde Amerikaans. Dié stelling moet ʼn mens maar ook met ʼn bietjie sout neem, want uit die Britse en Amerikaanse weergawes van die Google N-gram-korpus, blyk dit dat grain wel baie meer as pinch gebruik word in Amerikaans (grain:pinch—80:20), maar in Brits is die verdeling byna gelykop (grain:pinch—43:57).
Waar kom Afrikaans, Nederlands en Engels aan die uitdrukking?
Na regte is dit eintlik ʼn latinisme, want dit is ʼn direkte vertaling uit ʼn geskrif van die Romeinse outeur, natuurkundige en natuurfilosoof Plinius die Ouere. Hy het ʼn resep neergeskryf van een of ander teengif wat jy addito salis grano moes drink (letterlik: “nadat bygevoeg is | sout | korrel”). In latere Latynse vertalings het dit cum grano salis (letterlik: “met | korrel | sout”) geword, en dit word vandag nog só as ʼn Latynse leenfrase in Duits en Spaans gebruik. As jy dus die teengif met ʼn knippie sout geneem het, was dit nie meer nodig om die gif ernstig op te neem nie – net soos wat ons nie vandag alle nuusfeite ernstig kan opneem nie.
Wil jy nog interessante feite oor “knippie sout” hoor? Gaan luister na die podsending Vat dit met 'n bietjie sout! op ons podsendingsblad.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 27 Januarie 2018 verskyn.
