Stal items per gids uit: popmusiek

Saterdag, 25 November 2017 04:44

Ná die 3de keer sing ek 'die son gaan nooit set'

Kyk, ek is #mos van donkiejare se tyd af 'n reuse-Afrikaansepopmusiekaanhanger. Dit kom uit my standerd 5-dae toe my suster en haar vriendin Cielie my al om die pilare, al om die pilare op ons stoep leer dans het. Ons het geoefendans op alles van Min Shaw tot Anneli van Rooyen, van Gé Korsten tot Leon Schuster. Dit was die 1980’s …

Vandag is dit Juanita du Plessis, Andriëtte, Corlea, MoniQue en ander enkelnamige skattebolle wat my laat verlang na langarm- en op-die-tafels-dans-aande. Ek koop my musiek aanlyn en stroom dit op my selfoon via my kar se Bluetoothverbinding. Dis immers 2017 …

Op slegs een persoon na in my vriende- en verwysingskring is ek die enigste ene wat ongegeneerd en trots luister na Afrikaanse popmusiek. My snobvriende is te grênd en slim om daarna te luister. (Ek vermoed wel hulle is almal in-die-kas-Kurt Darren- en -Bobby van Jaarsveld-akoliete. So stiekem in die oggendverkeer – as niemand kyk nie – stroom hulle ook maar ʼn popmusiekie of drie, maar wis dan hulle webblaaiergeheue uit as hulle by die werk stop.) Ek gun hulle die intelligente en volwasse musiek van Coenie de Villiers, Anna Davel en Die Heuwels Fantasties. Dié kan ek óók baie geniet, maar my opsies is net soveel meer.

Geliasseer onder