As jy nou met die klomp snobbies praat, het hulle onmiddellik drie besware:
- Die musiek is te doef-doef.
- Die lirieke is niksseggend.
- Die popsangers het nie die Afrikaanse dubbelontkenningskonstruksie onder die knie nie.
Ag sjeimpies, dink ek dan altyd, kan julle nie ʼn bietjie afskakel, ontspan en soms minder intellektueel wees nie? Wie wil op die dansbaan nou loop staan sinnetjies ontleed? Nee, man, dáns, ouboet!
Verstaan my nie verkeerd nie: Toe ek die eerste keer hoor hoe Jay en Lianie May sing van die plek waar “die son nooit gaan set” (nie), het ek byna ʼn dyspierbesering opgedoen. Ná die derde keer wat ek dit gehoor het, het ek egter volborstig saamgesing. Heerlik!

Einste Jay sing in sy jongste album, So lank sal ek jou liefhê, die dubbelontkenningbeswaardes volledig stil.
Die eerste reëltjie van “Bly by my” bevestig dalk alle vooropgestelde idees:
Ek weet nie wat ek sonder jou sou doen,
sonder elke dag se wakker-word-soen.
Maar dan wys hy in die brug dit is eintlik alles digterlike vryheid, want hy het die ontkenningskonstruksie weldeeglik onder die knie:
Ek sal nie aan kan gaan nie sonder jou!!
Kyk ook na die uitstekende gebruik van die dubbel-"nie" in die brug van die liedjie "Benoni":
Benoni, ek hou nie van jou nie.
Ek's lief vir jou.
Ek wou nie so gou nie,
maar nou's die tyd vir my en jou!
En in die bekoorlik koortjie neem hy wraak op alle grammatikafasciste deur alle voorheen weggelate “nies” in te klits:
Sy sê sy kom van Benoni af.
Sy's bruin gebrand,
en sy hou van draf.
Sy luister Heuwels Fantasties;
sy vertel dit vir maatjies,
maar ek kyk nie na hulle nie, nié, NIE!
Vatvyf, Jay, jy sou #mos ewe goed hierdie jaar 'n erepenning van die Afrikaanse Taalraad kon gekry het!

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 25 November 2017 verskyn.
